Categories: Artikels, Gewasproduksie, HulpbronbestuurPublished On: 3rd March 2026

Eetbare blomme deel 2: KAPPERTJIES

By 7 min read
1443 words

Zucchini-and-Nasturtium-Caprese

Kappertjies verleen ’n mosterdagtige smaak aan kos terwyl die geel, oranje en rooi blommetjies ’n unieke elegansie aan enige gereg gee. (Bron: https://myketogenickitchen. com/nasturtium-recipes/)

Kappertjies (nasturtium) is ’n bekende en gewilde tuinplant wat ewe goed in die groente- of blomtuin hoort. Feitlik die hele kappertjieplant is eetbaar, van die groot, ronde groen blare, tot die geel, oranje en dieprooi blomme tot die sade, as jy hulle betyds oes.

Die idee vir die reeks oor eetbare blomme het ontstaan nadat ’n ProAgri-leser na aanleiding van die reeks Groentetuin vir die beginner gevra het of die sade eetbaar is, en wanneer dit geoes moet word. So siedaar. Nasturtium verwys gewoonlik na Tropaeolum majus L., ’n kruidagtige plant wat deur die eeue heen veral in Suid-Amerika as medisyne gebruik word.

Tradisioneel is van die blomme en blare as ’n tee gebrou wat ’n seer keel en verkoue weggestreel het, terwyl die hele plant, sade ingesluit, ’n natuurlike antibiotika is wat inwendige kwale help genees het. Vandag nog is kappertjies bekend daarvoor dat hulle ryk is aan ntioksidante, vitamiene, spoorelemente en bioaktiewe stowwe wat goed is vir jou immuun-, asemhaling- en spysverteringstelsels. All in one, Mom.

Kappertjiesade moenie verwar word met wat in Engels as capers bekend staan nie. Capers is Capparis spinosa, ’n meerjarige plant met vlesige blaartjies en groot ligpienk blomme. Die capers verwys na die eetbare blomknoppies wat saam met die caper berries gepekel word en wat so ’n lekker souterige byt aan ’n gereg gee.

Kappertjie-omelet. Kappertjies is ’n veelsydige eenjarige plant wat in verskeie geregte vir kleur en smaak gebruik kan word. (Bron: https://myketogenickitchen.com/nasturtium-recipes/)

Kweek van kappertjies

Kappertjies is ’n eenjarige plant wat van saad gekweek word. In ’n matige klimaat kan hulle meerjarig wees. As jy die sade wat afval en verdroog onversteurd in die grond los, loop hulle die volgende jaar weer uit. Hulle groei lekker in houers, maar floreer ook as grondbedekker in ’n groentetuin. As hulle saam met bone, koolspesies, komkommers, pampoene, spanspek of radyse geplant word, lok hulle tuinplae soos skildbesies weg van jou groente.

Die helderkleurige blomme lok ook bestuiwers soos bye, skoenlappers en selfs suikerbekkies. Kappertjies soos Tropaeolum majus, met die groter blomme, is ’n ranker, terwyl T. minus met sy kleiner blommetjies ’n bos vorm. Die ranker lyk al te fraai teen ’n vaal tuinmuur, in ’n houer op ’n vensterbank of in ’n hangmandjie. ’n Kappertjiebos pas beter in ’n kleiner groentetuin waar jy nie wil hê die plant moet die wêreld vol rank nie.

Kappertjies is nie juis puntenerig oor grondtipes nie en groei ewe lekker in ryk en arm grond waar die son hulle behoorlik kan bykom. Hulle is redelik gehard, maar in ryk grond sal die blomme natuurlik groter en mooier wees. Die sade ontkiem beter in koeler weerstoestande en langs die kus groei hulle lekker waar winterreëns val, terwyl sommige spesies teen hoër vlakke bo seespieël beter in die somer groei.

Kappertjies moet in die groeiseisoen gereeld water kry, maar moenie hulle versuip nie. Hulle kan droogte weerstaan, maar groei lekkerder in klam grond.  Kappertjies in potte raak maklik slordig en moet gereeld teruggesnoei word. Deur die verlepte of dooie blomme te verwyder, verleng jy die blomtyd. Kappertjies wat te warm kry gaan sukkel om te blom, so sorg maar dat hulle gereeld water kry wanneer dit witwarm is.

’n Kappertjie- en sitrusslaai is heerlik verfrissend op ’n warm somersdag, en boonop is dit propvol antioksidante, vitamiene en spoorelemente.
(Bron: https://myketogenickitchen.com/nasturtiumrecipes/)

Oestyd

Blare en blomme kan enige tyd geoes word. Knip die blare, blomme en sade met ’n skerp skêr af sodat jy nie die tengerige plant verwoes nie. Oes die saad voordat hulle volwasse is, uitdroog en afval. Jy kan die droë sade mooi skoon afstof, propper droog en in ’n koel, droë plek bêre om volgende jaar weer te saai. Was die dele wat jy wil eet om seker te maak stof, grond en plae wat wegkruipertjie speel beland nie in jou bord nie. Moenie kappertjies wat met insek- of onkruiddoder bygekom is, eet nie. As jy geneig is om allergies te wees, moet jy dalk nie sommer ’n hele bord kappertjies op een slag verorber nie – kyk eers of jy nie ’n allergiese reaksie ontwikkel nie voordat jy weglê.

Kappertjiesade kan groen geoes word en ingemaak word vir ’n smaaklike kinkel in verskeie geregte. (Bron: https://myketogenickitchen.com/nasturtium-recipes/)

Kappertjies in kos

Die kappertjieblare, -stam, -blomme en -sade het ’n peperagtige smaak, amper soos mosterd, maar nie so skerp nie.

Hier is ’n paar planne met kappertjies in kos:

• Gebruik die blare in slaai soos wat jy met waterkers sou doen.
• Die blare werk ewe goed in ’n pesto saam met knoffel, olie, suurlemoensap en dennepitte, waarmee jy ’n vaal pasta kan opkikker.
• Blare op ’n toebie proe na mosterd, maar gaan nie jou oë laat traan soos die ware Jakob nie.
• Gooi gesnipperde blare in ’n roerbraai vir ’n subtiele skop.
• Vul die blare met roomkaas, knoffel en kruie vir ’n anderster southappie.
• Gebruik die blare in ’n smoothie.

Resepte

Daar is baie resepte waarvoor jy kappertjieblomme en blare kan gebruik om smaak en kleur te verleen. Hier is ’n paar as riglyn, gee jou verbeelding vrye teuels!

Kappertjie-omelet

Klits drie groot eiers, voeg ’n eetlepel melk of water by, roer ’n kwart teelepel sout en ’n agste teelepel swart peper by en bak stadig in botter oor ’n matige hitte totdat die omelet gaar is. Was 8 tot 10 kappertjieblomme en plaas op een helfte van die omelet. Vou die ander helfte oor en laat die omelet vir ’n halwe minuut verder bak sodat die blommetjies warm, maar nie verlep is nie. Garneer met gekapte grasuie en geniet. Bedien met ’n roosterbroodjie en of ’n slaai vir ’n lekker ligte middagete.

Kappertjie-botter

Kruiebotter is die inding om saam met ’n varsgebakte broodjie of ’n gebraaide mielie te eet. Meng ’n kwart koppie kappertjieblomme, twee eetlepels gekapte grasuie, ’n eetlepel vars suurlemoensap en ’n halwe teelepel sout met ’n koppie sagte botter. Skep die botter op ’n strook waspapier en rol styf op, draai die papier aan die ente vas om ’n worsie te vorm. Verkoel vir 2 ure en sny in skywe om op jou broodjie, mielie of in ’n bak warm pasta te geniet.

Die ronde blare en veelkleurige blommetjies is heerlik in kruiebotter wat saam met ’n vars broodjie of op ’n gebraaide mielie geniet kan word. (Bron: https://myketogenickitchen.com/nasturtium-recipes/)

Kappertjie-caprese

Caprese-slaai is ’n Italiaanse gereg wat op die klein eiland Capri ontstaan het. Dit bestaan tradisioneel uit tamaties, mozzarella en basiliekruid in die kleure van die Italiaanse vlag. Hierdie slaai gebruik murgmampoen (zucchini). Sny twee mediumgroot pampoentjies in dunnerige skywe. Pak op bakpapier in ’n pan. Smeer liggies met olyfolie, strooi bietjie sout oor en bak vir sowat 10 tot 12 minute totdat die skywe gaar maar nie pap is nie. Verwyder uit die pan en laat afkoel tot kamertemperatuur.

Pak die murgpampoen uit op ’n mooi bord, plaas stukke mozzarella tussenin en druip ’n bietjie olyfolie en balsamiese asyn oor. Geur met sout en peper. Rangskik ’n koppie gewasde kappertjieblomme- en blare tussenin en versier met basiliekruid wat in repies geskeur is. Dien louwarm op saam met ’n vars broodjie.

Knarserige kappertjiesade

Oes die kappertjiesade terwyl hulle nog groen en nie verrimpeld is nie. Spoel ’n koppievol goed af onder lopende water. Verhit ’n koppie witasyn, ’n koppie water, ’n teelepel sout en ’n teelepel suiker oor medium hitte en laat kook sterk vir 5 tot 7 minute. Voeg twee geskilde knoffelhuisies, ’n teelepel swart peperkorrels en ’n halwe teelepel mosterdsade by en prut vir nog 2 minute oor lae hitte. Gooi solank die skoon kappertjiesade in ’n fles tot amper bo. Vul die fles tot bo met die warm vloeistof.

Verwyder lugborreltjies deur die mengsel met ’n lang lepel of sosatiestokkie te roer. Draai die deksel liggies toe en laat die fles vir 10 minute in ’n pot kookwater kook. Verwyder die fles versigtig en draai die deksel behoorlik vas. Laat heeltemal afkoel. Bêre op ’n koel, donker plek vir minstens twee weke voordat jy daaraan proe. Heerlik in aartappelslaai, saam met geroosterde vis of in roomkaas vir ’n heerlike smeer met byt.

Bronverwysings

Boeckmann, C. (2026) Nasturtium Flowers: Planting, Growing, and Caring for Nasturtiums https://www.almanac.com/plant/nasturtiums

Caper (2026) https://en.wikipedia.org/wiki/Caper

Levy, J. (2020) Nasturtium: The Medicinal Herb With an Antioxidant-Rich, Flavorful Kick Dr Axe
https://draxe.com/nutrition/nasturtium/

Spiegel, A.l. (2024) What Are Capers? Simply Recipes https://www.simplyrecipes.com/what-are-capersand-when-to-use-them-6754514

Starr, L., Osborne, C.M. (2025) How to Use Nasturtiums in Food

25 Creative Nasturtium Recipes for Flavorful Dishes (2025) https://myketogenickitchen.com/nasturtium-recipes/

Svitlana (2024) Caprese Salad (How Italians Make It) https://www.italianrecipebook.com/caprese-salad/

Byskrifte
(Bron: https://myketogenickitchen.com/nasturtium-recipes/)

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0