Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 20th January 2026

Eetbare blomme deel 1

By 7 min read
1315 words

blomme 5

Dit is beter om blomme wat kommersieel vir die mark gekweek word uit jou kospotte te hou. (Bron: Tisha Steyn)

’n Klein plastiekbakkie versteek tussen soortgelyke bakkies vars roosmaryn, tiemie en kruisement op die rakke met slaaigroente in die supermark saam met verskillende soorte blaarslaai, grasuie, tamaties, komkommer …

By nadere ondersoek sien ’n mens dié bakkie is vol blommetjies: pers gesiggies, oranje kappertjies, klein pienk angeliertjies, dalk ’n goudgeel perdeblom (dandelion) en beslis ’n takkie laventel.

Nou waarvoor sou die blommetjies wees, wonder ’n mens skepties. Slaai, want dit is tussen die ander slaaigroente?
’n Bietjie navorsing op Google werp lig op die klein skatkis van kleur en geur. Baie meer blomme as wat jy dink is eetbaar, en die maniere waarop jy blomme in kos en drankies kan gebruik, is volop.

In hierdie reeks oor eetbare blomme vertel ons meer van die groot verskeidenheid eetbare blomme wat jy in jou tuin tussen die groente kan kweek en in jou kombuis kan gebruik om jou gekookte maaltye, slaaie, nageregte en drankies mee op te vrolik.

Nie net mooi nie, ook goed vir jou tuin

Maar voor ons by blomme in jou eet- en drinkgoed kom, is dit belangrik om te weet watter nut blomme in jou
tuin het.

Blomme in jou tuin hou verskeie voordele in:

•Blomme lok insekte vir bestuiwing wat ’n goeie groente- en vrugte-oes verseker. Sonder behoorlike bestuiwing deur onder meer bye sal jou vrugte en groente nie behoorlik vorm nie.
•Blomme soos stink-afrikanertjies met hul helder kleur en skerp geur lok skadelike insekte weg van jou ander kos- en blomplante. Dieselfde geld vir ander metgesel-plante, soos basiliekruid wat tamaties beter laat groei.
•Blomme lok ook insekte wat skadelike insekte in toom hou deur hulle op te vreet. Dink maar aan liewenheersbesies wat op plantluise teer.
•Plante soos pronkertjies, lid van die boontjiefamilie, plaas stikstof terug in die grond wat jou plante beter laat groei.

Wat is eetbaar, wat nie?

Enige nie-giftige blomme is eetbaar. Dit sluit die blomme van groenteplante, vrugtebome en kruie in, asook sommige blomme wat vir vertoon geplant is, soos rose en angeliere. Blomme met sterk geure kan in soet- en soutgeregte gebruik word; blomme met ’n meer subtiele geur maak poedings nog lekkerder, en helderkleurige blomme kikker ’n gewone slaai in ’n kits op. Dink hoe elegant lyk fyn, versuikerde viooltjies op ’n versierde koek, en klein pienk angeliertjies in ’n ysblokkie gevries in ’n glas rosé.

Dit is ook nie net die blomme wat eetbaar is nie – talle plante kan letterlik met wortel en tak, blomme, blare, die lot – geëet word. Kappertjies (nasturtiums) is so ’n plant waarvan jy die fraai blommetjies, blare en groen sade kan eet.

Waar kry jy eetbare blomme?

As jy eers op die uitkyk is vir eetbare blomme kom jy agter hulle is oral, jy het dit net nie voorheen geweet nie. Let ’n bietjie op na daai plastiekbakkie met gekleurde blommetjies tussen die slaaigroente op die winkelrakke. Maar bly liefs weg van die bosse blomme wat vir die mooi verkoop word, want dit kon dalk insekdoder geverg het om sulke perfekte, prentjiemooi blomme te kweek.

Die beste is om jou eie blommende plante te kweek, dan weet jy presies wat jy eet. Of dalk kan jy by ’n groep gelei deur ’n kundige persoon in die veld gaan blomme pluk – maar bly altyd weg van blomme wat jy nie ken nie, wanneer jy nie seker is of hulle giftig is of nie of nie weet waar hulle vandaan kom nie.

Maak seker jy gebruik nie self onkruiddoders in jou tuinplante waarvan jy die blomme wil eet nie; ’n skadelose organiese spuitmiddel van ’n bietjie asyn en water en ’n druppel skottelgoedseep hou goggas weg. Was net die blomme deeglik voordat jy daaraan begin peusel.

Laventel is maar een van die eetbare kruieblomme wat elegansie aan ’n gereg, gebak of drankies kan verleen. (Bron: https://cookingchew.com/recipes-with-lavender-extract.html)

Dink voordat jy blomme eet

•Gebruik blomme spaarsamig in kos – veral mense wat geneig is om allergieë te kry, kan dalk ’n hewige reaksie ontwikkel as hulle die verkeerde blomme inkry.
•Ruik eers aan die blom en vat net ’n paar happies voordat jy die hele blom verslind.
•As jy swanger is of onder behandeling medisyne gebruik, is dit beter om eers met jou mediese dokter te bevestig of jy die blomme kan eet.
•Bly weg van blomme wat  kommersieel verbou word en wat met insek- en onkruiddoder behandel is – baie van die middels is organies en is dus binne-in die blomblare, jy kan dit nie afwas nie. Dit sluit blomme in wat jy by ’n bloemiste of by ’n supermark koop.
•Moenie veldblomme eet as jy hulle nie behoorlik kan identifiseer nie – dit kan dodelik giftig wees. Die fraai fynbosplant tjienkerientjee (Ornithogalum thyrsoides), wat glo in die behandeling van diabetes gebruik word, se ander Afrikaanse naam is perdedood – wat al klaar ’n aanduiding is van groot gif wat perde en beeste wat dit vreet, laat vrek. Bly weg, al lyk die wit blommetjies langs die paaie in die Weskus hoe verleidelik. Los dit liewer in die ruiker in ’n blompot waar dit tot 14 dae lank vars bly.
•En al ken jy ’n plant, soos die onkruid perdeblom, is dit beter om die blomme nie te oes waar hulle langs ‘n pad of sypaadjie groei waar hulle deur die paaie-afdeling of munisipaliteit met groot gif beheer word nie. Onthou, meer gif, minder skoffel …
•Gebruik ook slegs blomme wat jy weet eetbaar is – gebruik die wetenskaplike naam wanneer jy plante of saad koop, algemene name kan misleidend wees, want verskillende blomme het dieselfde naam in die volksmond.

Nie-eetbare blomme

Blomme wat beslis nie eetbaar is nie, sluit pronkertjies, krismisrose, selonsroos (Nerium oleander), rododendrons, vingerhoedblom en delfiniums in. Daar is ook baie ander, maar vir nou moet jy wegbly van hierdie soorte. Ek weet van ’n man wat selonsroostakke en -blare opgekap het en dodelik siek geraak het van die walms wat die plant afgegee het. En dan plant mense dit nog in hul tuine!

Was die blomme

Was die blomme saggies maar deeglik om van enige stof of ander vuilheid of klein insekte ontslae te raak. Die beste is om dit in koue water te dompel en dit dan op ’n skoon vadoek of papiervadoeke droog te laat word. Bêre die skoon blomme in ’n enkellaag op ’n klam papiervadoek in ’n plat houer met ’n deksel wat dig sluit in die yskas en moenie vergeet daarvan nie!

Nie alle eetbare blomme is noodwendig lekker nie – ek kan my nie indink hoe ek aan ’n stink-afrikanertjie gaan smul nie, gee my eerder ’n mooi gesiggie of ’n fraai floksie …

Watter blomme is eetbaar?

Hier is ’n kort lysie van eetbare blomme, daar is nog baie ander.

•Rose, angeliere, hibiskusse, viooltjies, laventel en kappertjies is algemeen beskikbaar.
•Lila, magnolias, kanferfoelie, vlierblomme (elderflower), pampoenblomme en perdeblomme is seisoenaal.
•Kamille, grasuie, koljander, basiliekruid, dille, vinkel en ment is almal eetbare kruie.

Kom ontdek saam met ons die wonderwêreld van eetbare blomme. Jy kan jou maar gereed maak vir ’n klomp verrassings wat jou met nuwe oë na jou blom- en groentetuin sal laat kyk.

Perdeblom, (dandelion), word gewoonlik as ’n lastige onkruid beskou, maar is ’n voedsame, helder toevoeging tot kos. (Bron: https://homesteadingfamily.com/dandelion-uses-for-the-homestead/)

Bronnelys

Everything you need to know about edible flowers (2025) Betty Crocker Kitchens
https://www.bettycrocker.com/how-to/ingredients-and-preparation/everything-you-need-to-know-about-edible-flowers

Blomme om te eet: ontdek 6 eetbare variëteite om jou tuin te verfraai en jou smaakknoppies te verlustig (2025)
https://www.les-bonnes-astuces.com/af/2025/03/24/blomme-om-te-eet-ontdek-6-eetbare-varieteite-om-jou-tuin-te-verfraai-en-jou-smaakknoppies-te-verlustig/

Eetbare blomme en hoe om dit te gebruik (2019)
https://www.rooirose.co.za/eetbare-blomme-en-hoe-om-dit-te-gebruik/

Kruger, E. (2021) Is dandelions onkruid, veldblomme of kruie?
https://lettersfromemsia.com/af/dandelions-onkruid-of-kruie/

Ly, L. (2025) A Huge List of My Favorite Edible Flowers and What They Taste Like. https://gardenbetty.com/edible-flowers/

McAnnally Scott, M.C. (2025) 10 Edible Flowers Almost Too Pretty To Eat
https://www.southernliving.com/food/entertaining/edible-flowers

Ornithogalum thyrsoides
https://www.sa-venues.com/plant-life/ornithogalum.php

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0