Categories: NuusPublished On: 9th October 2025

Droogte, brande knel Suid-Kaap

By 7 min read
1312 words

brand 2

Die brand by Ruitersbos in die Langeberge het na die omgewing van Zebra in die Klein-Karoo versprei. (Bron: Facebook)

Min winterreën in die Suid-Kaap, wat tussen Mosselbaai en Plettenbergbaai as die Tuinroete bekend is, het boere se graanoeste erg geknou.

“Ons bid vir nog reën,” se Henry Meyer, leierboer en verteenwoordiger van Agri SA in die distrik. Henry is ‘n suiwel- en graanboer in die Ruiterbosgebied langs die Robinsonpas tussen Mosselbaai en Oudtshoorn.

“Na ‘n biddag op George het dit die afgelope naweek gereën: 17 mm by my, by Knysna 11 mm geval, by Vleesbaai 13 mm, en wes van my tot 30 mm. Die riviertjies loop en ons besproei voluit om die grondvogstatus bietjie te beheer. Voor die reentjie het ons die aarde net gelawe om die oeste aan die gang te hou…

Volgens hom is die bietjie reen te danke aan die Suidoorsterweer wat onvoorspelbaar is. “As die Suidoostewind die wolke aanjaag, gooi hy soms gat om, soos die ou mense gesê het, en druk die wolke teen die berge vas, en dan reën dit meer as wat die weerprofete voorspel.”

Maar terwyl een groep boere wie se graanoes deur die winter se bitter min reën bid vir nog ‘n opvolgbuitjie van so 20 mm, bid boere by Riversdal, Heidelberg en Swellendam waar beter reëns geval het, vir mooiweer sodat hulle hul oeste kan afhaal.

Weens die droogte is die gesaaides swak. Die kanola en gars wat vroeg gesaai is, was oukeierig maar Henry het die graan wat hy vir kuilvoer gesaai het, maar laat opvreet. Ander boere het hulle power graanoes laat platsny en gebaal. Volgens een boer kon hy slegs 10 bale kry waar hy gewoonlik tussen 17 en 20 bale kry.

“Ons het die jaar baie goed begin en ons het vroeg gesaai met die hoop om na die afgelope twee jaar se goeie reën weer ‘n goeie jaar te hê. Maar einde Junie het die reën opgehou.”

Koue winter

Henry meen solank La Niña in die binneland voorspel word, bly dit in die Tuinroete droog. “Mens bly hoop vir opvolgreël en met die bietjie wat dit nou gereën het, jeuk my hande om te plant. Maar plant jy en dit reën nie, dan stik die gesaaides net weer. Ons kort nog gemiddeld 20 mm in die streek.”

Volgens hom het die uiters koue winter sake nie aangehelp nie. “Dit was verskriklik koud met koue-eenhede van tussen 600 en 800 by ons, terwyl vrugteboere tot 1200 koue-eenhede gemeet het.”

Die koue het ‘n invloed op die groei van weiding gehad wat net nie gegroei het nie. “Voer is skaars en duur. Die Klein-Karoo het gedurende die afgelope twee jaar goeie lusern afgehaal, maar dit is nou duur en ons het nie geld daarvoor nie .”

Die vlamme van die onlangse brand by Ruitersbos in die Langeberge slaan hoog op in die nag.

Veldbrand

Die veld by Ruiterbos in die Langeberge het op 15 September begin en oor die berg versprei na Zebra in die Klein-Karoo. Die brand het die eerste keer op 20 September opgevlam en weer op 2 Oktober, nadat 20 mm reën die vorige week.

“Die vuur in die berge is geblus, maar weens die droogte is daar omtrent elke tweede dag ‘n vuur langs die pad – vermoedelik sigaretstompies wat by voertuie uitgegooi word.

“Ons vermoed ook hier word vure in die Robinsonpas gestig, want soms begin vure terselfdertyd op twee plekke – dis wat met die laaste groot vuur gebeur het.”

Volgens Henry is CapeNature en Working on Fire se werkers veronderstel om na die blus van vure die vuurlyn deur te loop en smeulplekke te blus om seker te maak dit is dood. “Maar daar was nou al drie opvlammings nadat die brand die eerste keer geblus is – ons sal maar sien of die groot vuur nou uiteindelik geblus is.”

Dis maar net die natuur wat homself reguleer, sê Henry. “Die Brandwet en inkommers het net gemaak dat almal bang is om te brand. Die veld lê dus vir jare en as vuur dan uitbreek is dit chaos en onstuitbaar weens die oormaat brandbare materiaal.”

Inkommers verstaan nie van fynbos nie

Henry verduidelik die rol wat inkommers wat van elders in die land na die Suid-Kaap semigreer en hulle hier op sogenaamde leefstylplase vestig.

“Ek sien nie neer op inkommers nie, hulle bring nuwe idees en nuwe geld. Maar hulle verstaan nie die set up nie.”

Eerstens is hulle te bang om te brand. Vroeër jare het sy pa Fanie gereeld stukkies veld afgebrand om te voorkom dat … opgaar. “As die brand oorspring na die buurman se plaas dan het hy dankie gesê vir die lekker brandjie, want oor twee weke staan die gras groen waar die skaap hom kan dik vreet.”

Mense uit die stede of dorpe kom bly op leefstylplase en verstaan nie hoe dit op ‘n plaas werk nie. “Hulle verstaan nie dat fynbos elke sewe en ‘n half tot tien jaar moet brand nie: Hulle brand NOOIT.”

Hy meen sosiale media versterk die wanopvatting. “As ‘n stuk fynbos afbrand se hulle  ‘13 000 ha is verwoes’. Dit is nie verwoes nie – verwoes beteken weg, af, moertoe, af van die grond af. Die fynbosbrand verwoes nie, dit vee net die fynbos van die grond af, maar dit spruit weer uit.”

In 2018 het die berge na 50 jaar gebrand. “Ek was laasweek bo in die bergveld en die fynbos staan weer bakkiedeurhoogte – mooier as dit kan jy nie kry nie, veral in hierdie droogte! Die brand het dit nie verwoes nie, die brand het dit net gesnoei.”

Bang vir vervolging

Hy meen die oomblik wat daar ‘n wet ter sprake is, is mense bang om te brand, want hulle kan in die moeilikheid kom. Dié wet is die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998) of sommer die Veldbrandwet.

As daar vandag ‘n brand op jou plaas uitbreek en dit gaan deur jou heining, kan jy jou maar klaar maak vir vervolging. “Die eienaar van die plaas langsaan wat gebrand het, stuur vir jou ‘n rekening. Vir sy wildheining van 2,4 m hoog. Daai heining was eintlik in so ‘n slegte toestand dat dit nie meer ‘n mier kon inhou nie. Maar hy eis.

“Hy eis ook vir die fynbos, die suurvye en die riet wat hy nou nie meer kan sny nie, die heuning wat hy nie meer oes nie, want sy korwe is vernietig, en sommer vir die toerisme wat hy verloor. Hy skryf jou aan.”

In een voorval het die brand deur ‘n behoorlike wildheining gebreek. “Mens kon nie die draad knip om die heining te red nie, want dat skiet die draad 20 meter elke kant toe weg en wie gaan betaal om dit reg te maak.

“Toe los ons daai vuur en dit brand die buurplaas bout en blad af. Toe vat die eienaar die persoon op wie se plaas die brand begin het hof toe en eis R6 miljoen. Hy beweer oor die 40 beeste het doodgebrand, maar daar was nie meer as 20 beeste op die plaas nie. En hy eis vir die wildheining en die weiding wat afgebrand het en die voer wat hy ten duurste moes aankoop.

“Die eienaar van die plaas waar die brand ontstaan het, skrik so groot, hy betaal R600 000 brandweerkoste. Hy bel my drieuur soggens, doodbenoud dat hulle sy plaas gaan vat. Van al die stres sterf hy op 60 aan ‘n hartaanval.”

Vals alarm

Onlangs ry twee fietsryers in die omgewing van Ruiterbos waar dit pas gebrand het. Hulle plaas dit dadelik op die plaaswaggroep se whatsapp dat daar ‘n potensiële brand is.

“Die ouens spring in hulle bakkies met bakkiesakkies op en jaag soontoe. Dit is toe ‘n stomp wat onder die grond smeul waar die veld rondom reeds afgebrand het wat die vrou sommer met haar botteltjie fietsrywater geblus het.”

Nie elke vuur wat brand moet dadelik geblus word nie, dit moet bestuur word. “Die probleem is, almal wil in die bos bly, maar niemand wil die bos bestuur nie – dis die groot euwel.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0