Dit is hoog tyd dat landbou erkenning kry

John Hudson 1a
John Hudson
Hoewel die landbousektor dalk nie so aanloklik soos van die ander bedrywe is nie, is dit besmoontlik een van die sektore wat mees deurslaggewend vir die Suid-Afrikaanse ekonomie is. Landbou lewer ‘n beduidende bydrae tot voedselsekerheid, indiensneming, uitvoerverdienste en die breër ekonomie en is ook die grondslag van landelike gemeenskappe se bestaan.
Digitalisering, kunsmatige intelligensie, fintegnologie en energie is geneig om gesprekke oor ekonomiese groei en innovering te oorheers terwyl landbou ‘n lae profiel in die agtergrond handhaaf. Ons glo egter dat landbou op die voorgrond behoort te wees. Hoewel primêre landbou ‘n bydrae van sowat 2,5% tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) lewer, is die sektor se algehele bydrae, insluitend die waardeketting, aansienlik hoër, en het dit meer as 14% in 2023 bygedra¹.
Landbou is die lewensaar van landelike gemeenskappe
‘n Unieke kenmerk van landbou – en een waarvan baie mense vergeet – is die rol wat dit in landelike gemeenskappe speel. Vir meeste mense in hierdie gebiede is landbou en landboubesighede hul primêre en soms enigste bron van werk. Landbou speel dus ‘n sleutelrol met betrekking tot sosiale stabiliteit en plaaslike ekonomieë.
Onlangs, by NAMPO Kaap, het ek die voorreg gehad om deel te neem aan ‘n paneelbespreking oor die rol van landbou in die landelike ekonomie. Saam met my medepaneellede het ons tot die gevolgtrekking gekom dat landelike gemeenskappe se bestaan onlosmaaklik met die sukses van landbou verbind is.
Wanneer landbou in hierdie gemeenskappe floreer, het dit ‘n positiewe uitwerking op ander sektore in die gebied – van sekondêre landbou tot skole en klinieke. Landbou ondersteun dus die hele gemeenskap en dit lewer goeie resulate wanneer kommoditeitspryse goed is. Wanneer pryse laag is, skep dit egter ‘n uitdaging.
Data van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling toon dat binnelandse landbou-uitset in 2022–23 dubbel soveel as in 1993–94 was. (Bygesȇ, ons het die helfte van ons boere in daardie tyd verloor.) Hoewel ons dus meer met minder produseer, neem ons hoogs waarskynlik minder mense in diens, wat weer druk op landelike gemeenskappe plaas.
Ten spyte van ‘n hoë groeikoers word landbou steeds as ‘n riskante belegging beskou
Ná die voedseltekort tydens Covid-19 en die KwaZulu-Natalse onluste in 2020 en 2021 het mense anders na die landbousektor begin kyk. Voedselsekerheid is nie meer ‘n vae konsep nadat mense ontwrigting eerstehands beleef het nie. Dit het ook die rol van produsente in die kollig geplaas en Suid-Afrikaners het – moontlik vir die eerste keer – besef hoe noodsaaklik boere vir die samelewing is.
Ten spyte daarvan word landbou steeds as riskant beskou, wat die waarde van privaat ekwiteitbeleggings in die bedryf verlaag. Die feit is dat landbou-BBP die afgelope 20 jaar, ten spyte van ‘n hoë mate van wisselvalligheid, beter as die ekonomie gevaar het. Ja, landou is kwesbaar vir klimaats- en landelike risiko, maar belegging in die sektor deur Suid-Afrika se banksektor het sedert 2019 met R100 miljard gegroei, wat duidelik banke se vertroue in die bedryf weerspieël. En al het hefboomfinansiering en waardedalings toegeneem, is dit siklies van aard en dikwels aan swartswaangebeure verbonde, soos die sitrussektorskok in 2022 waarvan produsente steeds herstel.
By Nedbank is ons deeglik bewus van die belangrike rol wat landbou in beide die breër en landelike ekonomieë speel. Behalwe dat ons ‘n span het wat daaraan toegewy is om die sektor vanuit ‘n bank- en leningsperspektief te bedien, ondersteun ons ook programme wat landelike gemeenskappe bevoordeel. Twee voorbeelde is ons vennootskappe met PALS (Partners in Agri Land Solutions) en die EARN (Enterprising Africa Regional Network) Agripreneur Ontwikkelingsprogram, wat boere bemagtig om hulle eie winsgewende, volhoubare, groei-georiënteerde kommersiële landboubesighede te ontwikkel. Dit skep natuurlik ‘n positiewe kringloop met meer werksgeleenthede, meer welvaart en ‘n florerende landelike gemeenskap.
Die paneel het saamgestem dat ons die storie van landbou buite die sektor moet vertel. Landbou se rol buiten produksie moet duideliker gestel word om sy posisie ten opsigte van onderhandelinge met die regering en ander rolspelers te versterk. Buite die sektor is mense ook nie bekend genoeg met landbou se bydrae tot omgewings-, maatskaplike en bestuursprestasie met betrekking tot werksgeleenthede, landelike gemeenskappe en sosiale impak in Suid-Afrika nie.
Om landbou se volle potensiaal te bereik moet die regering, georganiseerde landbou, die privaat sektor en beleggers saamwerk om innovering te bevorder, regulasies te belyn en die nodige finansiële en tegniese ondersteuning te bied. Terselfdertyd moet landelike ontwikkelingsbeleide die bydrae van boerdery duskant die plaashek oorweeg om volhoubare ontwikkeling vir landelike gemeenskappe te verseker.