Die hande wat bou, die hart wat koester: Bianca Pretorius bou aan merkwaardige landbounalatenskap

Bianca Pretorius
Lamtyd is die lekkerste tyd vir Bianca.
Deesdae beteken die woord “boervrou” nie meer net iemand wat aan die sy van ’n boer staan nie. Boervroue is vennote, ondersteuners, bestuurders, ma’s, bemarkers, boekhouers en dikwels self ook boere.
Een so ’n vooraanstaande boervrou is Bianca Pretorius. Haar liefde vir landbou kom van haar pa, Gerrit Henning, en die dae wat sy hom op hul familieplaas aan die voet van die Drakensberge buite Rhodes in die Noordoos-Kaap, gehelp het. Vir Bianca was die plaas en die kraal nie net ’n speelplek nie, maar die klaskamer waar haar lewenspad gevorm is.
“Van my vroegste herinneringe is saam met my pa in die kraal,” vertel sy. “My pa het altyd gespot en gesê ek is sy seun ‘Jan’ wanneer daar gewerk moes word, en my ‘ma se Bianca’ wanneer ek weer ’n dogtertjie was. Hy het my van kleins af ingespan om te help waar ek kon.”
Dit is hier waar haar lewenslange liefde vir skaapboerdery gevestig is. Haar pa het reeds in 1987 die bekende Mertoun Dormerstoet geregistreer. Onder sy leiding het Bianca alles van kraalwerk, keurings en dieregesondheid
tot dosering geleer, en op 21-jarige ouderdom is Bianca as ’n nasionale senior Dormerkeurder aangewys, iets waarop sy steeds trots is.
Haar pa se liefde vir skaapboerdery het by Bianca posgevat en sy het as ’n mondigwordingsgeskenk haar eerste troppie Dormer-stoetooie ontvang. Met hierdie ooie het sy haar eie stoet begin, wat vandag bekend staan as die Thaba Kwena Dormerstoet. Sy het ook haar pa se stoet oorgeneem ná sy afsterwe en werk hard sodat sy nalatenskap kan voortleef.

Bianca Pretorius en haar man, Henk Pretorius, wys hul mooi Dormer-ramme.
Van plaasjapie tot boervrou
Ná skool het Bianca haar BCom-graad in bedryfsielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Daarna het sy by ’n landboumaatskappy opleiding en ontwikkeling behartig, voordat sy haar pad na ProAgri gevind en die rol van redakteur volgestaan het. Hierdie ervarings het haar in staat gestel om haar passie vir landbou, kommunikasie en bemarking perfek te kombineer.
Vandag boer sy saam met haar man, Henk, hoofsaaklik met stoetvee onder die name Thaba Kwena Bonsmaras, Thaba Kwena Dormers en Mertoun Dormers. Hul boerdery beskik ook oor ’n besonder unieke vertakking: die Thaba Kwena Krokodilplaas.
“Geen twee dae op die plaas is ooit dieselfde nie,” sê Bianca. Die diere hier word daagliks nagegaan en getel, en dan behartig sy ook die bemarking van die stoeterye, inhoudskepping, foto’s en video’s tot die voorbereiding van veilingkatalogusse.
“Die lekkerste deel van my dag is die tyd wat ek saam met my man op die plaas kan deurbring. Ons werk as ’n span,” sê sy.
Moderne boerdery vir ’n moderne boervrou
In die moderne veeteeltsektor is tegnologie onmisbaar. Van akkurate prestasiedata en rekordhouding tot digitale bemarking op sosiale media en aanlyn veilings, Bianca en haar man gebruik tegnologie om beter besluite te neem, meer doeltreffend te werk en hul stoeterye professioneel te bestuur.
Tog bring boerdery ook sy eie emosionele uitdagings.
“Mense onderskat dikwels hoe emosioneel boerdery kan wees,” sê Bianca.
“Wanneer jy ’n duur stoetram, top-ooi of bul verloor waarin jy jare se teelwerk belê het, besef jy hoe broos boerdery werklik is. Dit toets jou geloof en deursettingsvermoë. Maar dit leer jou ook om elke keer weer op te staan. Ons bou aan iets wat eendag aan ons kinders oorgedra kan word.”
- Bianca Pretorius saam met een van haar stoetramme.
- Bianca Pretorius saam met haar pa, Gerrit Henning.
Die rol van die moderne boervrou
Vir Bianca is ’n boervrou ’n volwaardige vennoot wat saam om die tafel sit wanneer belangrike besluite geneem word; sy glo boervroue dra aktief by tot die groei en sukses van die onderneming.
Sy vertel dit maak nie saak of jy ’n man of ’n vrou is nie, solank jy ’n passie en liefde vir landbou het.
“Vir my is die moderne boerdery ’n spanpoging. Elkeen bring sy of haar eie sterkpunte na die tafel, en wanneer mans en vroue saamwerk, vul hulle mekaar aan. Dit is juis daardie samewerking, gedeelde visie en wedersydse respek wat ’n boerdery help groei en volhoubaar maak vir die volgende geslag.”
Sy erken tog dat vroue soms ’n sagter oog het en sê: “Vroue bring dikwels ’n besondere vermoë om met empatie en geduld te lei, asook ’n fyner oog vir detail met dieresorg, rekordhouding en bemarking.”
Aan jong vroue wat die bedryf wil betree, gee sy die volgende raad: “Moenie bang wees om klein te begin nie. Wees nuuskierig, vra vrae en omring jouself met mense wat jou inspireer.
“Moet nooit dat moeilike oomblikke jou drome steel nie, bly getrou aan jouself en doen alles met integriteit.”

Bianca se eerste Dromerooie wat sy vir haar 21ste verjaarsdag gekry het.
Moenie klein dinge as vanselfsprekend aanvaar nie
Om tot hier te kom, was nie altyd vir Bianca maklik nie – en die lewe het haar ’n les of twee geleer. As sy terugdink, vertel sy dat ’n mens elke oomblik moet koester.
“Koester elke oomblik saam met jou geliefdes. Moenie so gejaag deur die lewe gaan dat jy vergeet om die klein, kosbare oomblikke raak te sien nie. Leef in die nou, want môre is vir niemand belowe nie.
“Daar gaan uitdagings wees, teleurstellings en dae wat jy wonder of jy sterk genoeg is, maar onthou altyd: This too shall pass.”
Sy sê dat elke moeilike seisoen jou iets leer en jou sterker maak. Deur hard te werk, nederig te bly en nooit op te hou leer nie, sal jy hierdie moeilike tye kan oorkom.
“Glo in jouself. As jy bereid is om hard te werk, getrou te bly aan jou waardes en met geloof vorentoe te stap, sal die pad waarop God jou lei, altyd mooier uitdraai as wat jy self kon beplan.”

’n Toekoms vol moontlikhede
Bianca se grootste droom vir die boerdery is om volhoubare groei te verseker en dat hul stoeterye bekend sal staan as van die voorstes in Suid-Afrika, waar telers met vertroue genetika kan koop wat waarde toevoeg tot hul eie kuddes.
Wanneer sy die toekoms van vroue in Suid-Afrikaanse landbou in drie woorde moet opsom, kies sy sonder twyfel:
- Veerkragtig: Omdat vroue uitdagings met moed aanpak.
- Vernuwend: Omdat vroue nuwe idees en tegnologie na die bedryf bring.
- Onstuitbaar: Omdat die rol van vroue in landbou net gaan aanhou groei.
As die son laatmiddag oor die veld sak en die jong lammers vol lewe deur die kampies bons, weet sy waar haar hart lê: in die grond, die diere en die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou.

