Die geskiedenis van die Beefmaster Genootskap van Suid-Afrika: Van toe tot nou

FRJ-14-71-1536×1072
In die wêreld van beesboerdery word min rasse so sterk met aanpasbaarheid, funksionaliteit en winsgewendheid verbind soos die Beefmaster. Tog lê agter hierdie suksesverhaal nie net genetika nie, maar dekades se visie en doelgerigte ontwikkeling, van die eerste kruistelingseksperimente in Texas tot ’n gevestigde en groeiende ras in Suid-Afrika.
Die geskiedenis van die Beefmaster Genootskap van Suid-Afrika is ’n verhaal van pioniers wat bereid was om grense te skuif, nuwe genetika te toets en soms selfs risiko’s te neem om ’n ras te vestig wat werklik vir plaaslike toestande werk. Dit is ook ’n verhaal van ’n gemeenskap van telers wat oor jare heen saam gebou het aan ’n ras wat vandag sy plek volstaan in die Suid-Afrikaanse beesbedryf.
Hierdie terugblik volg die pad van die Beefmaster, van sy oorsprong tot waar die ras en die genootskap vandag staan.
1908
Die ekonomiese voordele van kruisteling tussen Europese beesrasse en Longhorns het reeds in die vroeë 1900’s duidelik geword vir beesboere in Texas, Verenigde State van Amerika. As gevolg hiervan het hulle hul Bos taurus-kuddes met Bos indicus-gene verryk, wat gelei het tot die ontstaan van die Brahmanras en die grondslag gelê het vir ander rasse soos die Beefmaster en Santa Gertrudis.
Ed Lasater was ’n innoveerder wat hierdie ekonomiese voordele onmiddellik raakgesien het. Reeds in 1908 begin hy Brahmanbulle in sy kuddes gebruik. Hy ontwikkel twee afsonderlike kruiskuddes: ’n Brahman × Hereford-kudde en ’n Brahman × Shorthorn-kudde.
Ed sterf in 1930, waarna sy seun, Tom, noodgedwonge moes terugkeer huis toe om die familieboerdery oor te neem. Die besigheid was reeds in ’n finansiële verknorsing as gevolg van grondwaardes wat onder verbandvlakke gedaal het.
1931
Tom Lasater, skaars 20 jaar oud, neem in 1931 die bestuur van sy oorlede pa se beesboerdery oor te midde van ’n ekonomiese krisis – die aanvang van die Groot Depressie.
Ten spyte van die uitdagings was die genetiese voordeel van die kuddes wat sy pa geteel het, duidelik. Hierdie beeste was beter aangepas vir die omgewing van Suid-Texas. As gevolg van finansiële beperkings gebruik Tom die beste kruisbulle van een kudde op die koeie van die ander kruiskudde, en omgekeerd.
Die bulle en vervangingsverse wat uit hierdie driewegkruising voortgekom het, was beter as die nageslag van enige van die oorspronklike kruise. Hierdie prestasie, saam met ’n nuwe en innoverende seleksiefilosofie (destyds selfs as eksentriek beskou), het die grondslag gelê vir die bekende Beefmasterras.
1948
Tom Lasater word erken as die argitek van die Beefmasterras. Hy selekteer volgens die bekende Ses Noodsaaklikhede: temperament, vrugbaarheid, gewig, bouvorm, melkproduksie en gehardheid.
1954
In 1954 word hierdie komposietras amptelik erken en goedgekeur deur die Amerikaanse Departement van Landbou. Dit is die eerste driewegkruising wat as ’n ras in die Verenigde State van Amerika geregistreer word.
1970’s
In die laat 1970’s word die eerste Beefmaster-genetika na Suid-Afrika gebring – of eerder “ingesmokkel”. Mnr. Tony Brink smokkel semen via Botswana na Nietverdiend, RSA.
Tony was ’n erkende en toegewyde beesboer en sakeman. Uit 12 000 koeie selekteer hy 500 vir kunsmatige inseminasie, met semen van die 20 beste bulle van Tom Lasater. Só het die Beefmasterras sy eerste tree in Suid-Afrika gegee. Tony Brink word beskou as die vader van Beefmaster in Suid-Afrika.
1980’s
In die vroeë 1980’s besoek verskeie beesboere, onder andere Paul Yiannakis en Martin Bam, die VSA. Gedurende 1984 voer Pieter Bosch 300 strooitjies semen van Lasater 9013 en Lasater 7219 in.
Paul Yiannakis voer op sy beurt semen in van Duw Dick, Show Boy en Hix Mixer van die BBU (Beefmaster Breeders United). Al hierdie semen het die land onder vals identiteite binnegekom.
1985
Die vraag na Beefmaster-genetika neem aansienlik toe. Die eerste Suid-Afrikaanse Beefmasterklub (FBA Beefmasters Club of South Africa) word op 12 November 1985 by Mantsole Ranch, Warmbad, gestig.
Tony Brink en Pieter Bosch hou op dieselfde dag en plek die eerste Beefmaster-produksieveiling, waar 30 bulle en 33 vroulike diere opgeveil word.
Pieter Bosch word verkies as president, Tony Brink as vise-president en Piet Venter as sekretaris. Daar word besluit om by die Foundation Beefmaster Association (FBA) van die VSA te affilieer.
Die eerste komitee bestaan uit:
Transvaal:
PW Bosch (President), T Brink (Vise-president), Dr H Venter, Dr WA Kotzenberg, D Joubert
Vrystaat:
HP van Reenen, JM Wessels
Natal:
M Bam
Suidwes-Afrika:
L Klein, D Greiner
1986
Op 27 Januarie 1986 vergader die bestuur en 30 stigterslede in Pretoria om die ras verder bekend te stel. Dit is die eerste vergadering ná erkenning van die regstreekse affiliasie met die FBA.
1987
In 1987 bieg lede by SA Stamboek oor die semen wat uit die VSA ingevoer is. Die Beefmaster Beestelersgenootskap van Suid-Afrika word gestig en verkry op 8 Oktober 1987 volle erkenning van SA Stamboek.
Onder leiding van Pieter Bosch word prestasietoetsing verpligtend gemaak. Hy word ook verkies as die eerste president van die genootskap en speel ’n sleutelrol in die ontwikkeling en bevordering van die ras.
Ander raadslede sluit in Tony Brink, Pottie van Reenen, Danie Joubert, Martin Bam, Jan Muller, dr. Herman Venter, Jan Wessels, dr. Kiewiet Kotzenburg en Piet Verster as sekretaris. Die kantoor word in Pretoria-Noord gevestig.
1988
Meer telers besoek die VSA, onder andere dr. Herman Venter, Paul Yiannakis, Pottie van Reenen, Dries Steyn en Willem Odendaal. Hierdie keer word nie net semen nie, maar ook bulle ingevoer: Ranger, Lasater 7534, Zoeloe, Duke en Bush.
Daarna versterk telers bande met eweknieë in die VSA en Australië. In dieselfde jaar besluit die klub om hul affiliasie met die FBA te beëindig.
1993
Die eerste joernaal word gepubliseer.
Jan Schoeman word verkies as president en die kantoor verskuif na Wapadrand, Pretoria. Gerhard Hamman en Marie Kruger dien as kantoorpersoneel. Die basiskudde-konsep ontstaan en volledige data van diere word aangeteken.
1995
Graham Hart word verkies as president. Die aantal geregistreerde diere neem drasties toe en baie word gedoen om die ras nasionaal te bevorder.
1997
Fred Rautenbach word verkies as president.
1998
Dennis Staal neem oor as president en bekom uitstalruimte by NAMPO, waar die Beefmasterras vir die eerste keer vertoon word.
2000
Mike Bosch word die eerste president van die nuwe millennium. Die kantoor verskuif na Mantsole Ranch naby Radium en Warmbad, en die Wapadrand-kantoor word verkoop. Sonja Horn word as sekretaris aangestel.
2002
Die Beefmaster Beestelersgenootskap ontvang ’n toekenning vir die beste dienslewering onder telersgenootskappe in Suid-Afrika. Manny Da Costa en Paul Yiannakis voer vier bulle uit die VSA in: Lasater 129, Lasater 126, Frenzel 64 en Classic Cotton 10.
2003
Kerneels van Rensburg word verkies as president. Die basiskudde-konsep verval en alle diere moet by SA Stamboek geregistreer word. Die Beefmaster word die vinnigste groeiende beesras in Suid-Afrika.
Die kantoor verskuif na Parys, Vrystaat, en Helga Prinsloo word as sekretaresse aangestel.
2006
Hans Coetzee word verkies as president. Die genootskap beleef sy grootste groei in aktiewe ledetal, met sterk fokus op opleiding en keurderskursusse.
2009
Piet Human begin sy ampstermyn as negende president. Daar word groot klem op prestasietoetsing gelê. Die kantoor verskuif na ’n meer volwaardige fasiliteit en die groei in werkslading lei tot die aanstelling van Elaine Niewoudt.
2011
Die Beefmaster Beestelersgenootskap vier sy 25-jaar bestaansjaar.
2013
Arthur Gilbert word as president verkies. Tom Lasater se invloed op die wêreld se beesbedryf word erken, en die genootskap bly fokus op sy doelwit: om beeste te teel wat winsgewend is. Die Ses Noodsaaklikhede bly die fondament van die ras.
2014
Pierre Hart word president. Ten spyte van stabiele beespryse en uitdagende weerstoestande, groei die ras steeds. Ledetal, kuddes en veilingsresultate toon positiewe tendense, en die samehorigheid onder lede is sterker as ooit.
2015
Connie Jansen van Vuuren word president. Ten spyte van onsekerhede bly boere aanpasbaar en positief. Die Beefmaster bly die vinnigste groeiende ras in Suid-Afrika.
2018
Jan Schoeman word weer as president verkies. Die genootskap ly ’n groot verlies met die afsterwe van Helga Prinsloo, wat van 2006 tot 2017 as Uitvoerende Beampte gedien het.
Die kantoor verskuif na die SA Stamboek-gebou in Bloemfontein en Magda Boukes word aangestel.
2020
Wilhelmus van der Schyff word president. Die COVID-19-pandemie bring groot uitdagings, maar leer die bedryf om aan te pas. Tegnologie speel ’n sleutelrol in vergaderings, daaglikse bestuur en selfs veilings.
Die genootskap neem ook afskeid van Oom Piet Human, Conrad Viljoen en Frans Schoeman – ’n verlies wat lank onthou sal word.
2022
Gerrie Jansen van Rensburg word president. Die genootskap pas suksesvol aan by nuwe werkswyses en bied die eerste volledig digitale Nasionale Veiling aan. Aanlyn vergaderings en digitale platforms word met groot sukses benut. Die ras se markaandeel bly groei danksy gedissiplineerde seleksie.
2025
Hendrik Meyer, verkies in 2023, dien tans as president. Die genootskap spog met drie Platinum-toekennings van SA Stamboek en die Beefmaster is amptelik die tweede grootste beesras in die land.
Rekordpryse word by nasionale veilings behaal en Suid-Afrikaanse telers lewer wêreldkampioene.
Die rewolusie van die Beefmaster-handelsmerk oor die jare.
Van krag tot krag
Die Beefmaster Genootskap van Suid-Afrika groei steeds van krag tot krag. Op die volgende 40 jaar!
Bronne:
Lasater, L.M., 2000. The Lasater Philosophy of Cattle Raising, Santa Cruz Press.
Beefmaster Genootskap van SA. Die Beefmaster in Suid-Afrika, Parys, Suid-Afrika.











