Categories: Vee en rasse, VeilingsPublished On: 26th July 2024

Cetona Cattle Co. – daar waar die mooiste Drakenbergers wei!

By 2 min read
437 words

12

Die Cetona Cattle Co. naam staan nou al vier generasies sterk. Op hierdie plaas spesialiseer die Pienaar en Tshenkeng-vennootskap met die teel en verkoop van hoë-gehalte Drakensbergerbeeste. Hier op die plaas naby Hartebeesfontein in die Noordwes is dit die pragtige swart Drakensbergerbeeste wat die lande bewei.

Die Pienaar familie het eers die plaas gebruik om met kontantgewasse, melkkoeie, skape en kommersiële beeste te boer. Cetona was die naam van die oorspronklike boerdery se Jersey-stoet. Omdat dit sentimenteel was het die vennootskap besluit om die naam te behou vir die Drakensberger-stoet toe hulle in 2023 saamgespan het.

Pieter-Jan Pienaar is die vierde generasie van die Pienaar-familie op die plaas. Na sy mediese studies het hy en dr Tshenkeng mekaar by die Klerksdorp hospitaal ontmoet waar hy as Pediater konsulteerwerk gedoen het. En so is die volhoubare vennootskap tussen die Pienaars en Tsenkeng gevorm, nadat dr Tshenkeng die buurplaas gekoop het.

Weens moeilike ekonomiese omstandighede en klimaatsveranderinge is daar na meer volhoubare en winsgewende praktyke gesoek. Dít is waar die Drakensbergerbeeste inkom, hier het hulle die voortou geneem om vir die boerdery ’n toekoms in ’n veranderende landboulandskap te verseker.

⁠Die Drakensbergers is geharde inheemse beeste wat elke jaar kalf en ‘n bemarkbare speenkalf lewer, sonder kalfprobleme en vrektes. Die mediumraam beeste met hulle gladde pelse, opvallend lang en diep lywe en sagte temperament was perfek geskik vir die landskap van die Cetona Cattle Co.-boerdery.

Oor die jare het hulle dit reggekry om die inheemse beesras te teel en ontwikkel deur natuurlik en wetenskaplik gebaseerde seleksie. Dit het gelei tot die aanpasbaarheid en gehardheid wat die prag-stoet vandag het.

Op die plaas is hulle streng oor die beeste wat hulle uitkies en kyk hulle na belangrike ekonomiese eienskappe soos aanpasbaarheid, vrugbaarheid, hoë melkproduksie, lae vrekte, voeromset en karkaskwaliteit.

“Mediumraam, vroegryp tipes is reg vir ons. Bulle moet manlikheid uitbeeld en die koeie moet mooi vroulik en eenvormig wees,” verduidelik hy.

Hulle glo dat deursigtigheid die sleutel is tot ’n suksesvolle verhouding tussen boere en hulle klante. Daarom is hulle trots om gereelde opdatering oor hulle plaas se bedrywighede, veegesondheid en algehele prestasie te deel. ⁠

“Die resep is eenvoudig, jy kort grond en swart beeste,” vertel Pieter-Jan oor die sukses van hul boerdery.

Die plaas is die tuiste van sommige van die mooiste Drakensbergerbulle en -verse in Suid-Afrika wat reg is om die beste nageslag te lewer.

Vir meer inligting oor Cetona Cattle Co. skakel gerus vir Pieter-Jan Pienaar by (+27)79-877-5228, Henk Pienaar by (+27)83-461-0964 of Marabi Tshenkeng by (+27)82-391-7759. Of stuur ’n e-pos na pjpienaar000@gmail.com of pj@koshcom.co.za.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0