Case IH maak skoonskip by 2026 se Balerresies

DSC_0876
Rondebalers in volle aksie tydens die FarmSpace “Baler Challenge”, waar handelsmerke kop-aan-kop meegeding het om spoed, kapasiteit en baalgehalte in werklike veldtoestande te wys.
Die 2026-landboukalender het sommer vroeg afgeskop met ’n hoogtepunt vir hooiboere: die gewilde Balerresies, aangebied deur FarmSpace in samewerking met Valtrac. Dis ’n dag wat elke boer wat erns maak met gehalte hooi en doeltreffende toerusting, met ’n rooi sirkel omring op die kalender.
Die geleentheid het op 28 Januarie by Valtrac se perseel net buite Parys plaasgevind en het boere die kans gegee om self te sien watter baler uitstaan wanneer dit saak maak. Die fokus was uitsluitlik op rondebalers, wat in twee afdelings meegeding het: vastekamer- en veranderlikekamerbalers.
Meer as net ’n resies, het die dag aan besoekers die geleentheid gebied om die nuutste balertegnologie en ook ander hooitoerusting van naby te beleef en dit alles in aksie. Demonstrasies kon na hartelus bekyk word, terwyl daar ook genoeg pret en gesonde kompetisie in die lug was. Verskeie balers van bekende handelsmerke het kop-aan-kop meegeding om met die louere in hul onderskeie afdelings weg te stap.
Benewens die balerresies was daar ook ’n wye verskeidenheid ander landbouhandelsmerke wat hul produkte uitgestal het. Hoommeltuig-demonstrasies, sowel as ander hooi- en landboutoerusting, het gesorg dat daar vir elke boer iets van belang was.
Handelsmerke en balers wat deelgeneem het, sluit in:
- Case IH met die RB 456 HD Pro (veranderlikekamerbaler) en RB 545 (vastekamerbaler)
- Rovic met die Krone Bellima F130 (vastekamerbaler)
- Valtrac met Kuhn-balers: VB 3160 (veranderlikekamer) en FB 3130 (vastekamer)
- Mascar (Antonio Maschio) met die Diavel 630 Cut (vastekamerbaler)
- ’n Nuwe toetreder tot die kompetisie, Fimaks, met die FMRB 170 (veranderlikekamerbaler)

Die Case IH RB 545 spoeg ’n netjiese, kompakte rondebaal uit, wat die baler die wenplek in die vastekamer-afdeling besorg het.
Uitslae:

(Bron: FarmSpace)

(Bron: FarmSpace)

Die Kuhn VB 3160 word voor die aanvang van die kompetisie bespreek, met die fokus op sy tegnologie en verstelbare baalgrootte.

Die Case IH RB 456 HD Pro tydens die voorwedstryd-bespreking, waar sy werkverrigting en hoë kapasiteit uitgelig is.
Case IH het duidelik gewys hulle meen besigheid en het met hul twee inskrywings skoonskip gemaak deur albei afdelings te wen. Die RB 545 het koning gekraai in die vastekamer-afdeling, terwyl die RB 456 HD Pro die louere in die veranderlikekamer-afdeling ingepalm het.
Die kompetisie is nie net op spoed beoordeel nie. Elke baal is ná die resies geweeg, en die ton per uur is saam met die balers se werksnelheid in berekening gebring. Dit het verseker dat die wenbalers nie net vinnig was nie, maar ook konsekwent swaar, kompakte bale kon lewer, presies wat boere in die praktyk nodig het.

Die Fimaks FMRB 170, ’n nuwe toetreder tot die Balerresies, word aan boere bekend gestel voordat die kompetisie begin.
Met ’n sterk fokus op tegnologie en regverdige kompetisie het die 2026 Balerresies gewys hoekom hierdie geleentheid al hoe meer aandag trek onder Suid-Afrikaanse hooiboere.
- Die Krone Bellima F130 tydens die tegniese bespreking voor die wedstryd, met die klem op betroubaarheid.
- Die Mascar Diavel 630 Cut word voor die aanvang van die resies bespreek, met aandag aan sy sny-eenheid en baaldigtheid.
- Die Kuhn FB 3130 tydens die voorwedstryd-bespreking, waar sy vastekamer-ontwerp en werkverrigting verduidelik is.
- Boere bekyk en voel die gehalte van die bale in die veld nadat dit deur verskeie balers gemaak is – ’n belangrike maatstaf vir boere.



