Case IH kraai koning by Stroperresies 2026

DSCF0381
Case IH se Axial-Flow 6150 tydens die veiling.
Na maande se beplanning en weke se voorbereiding het vanjaar se Stroperresies beslis nie teleurgestel nie. Die dag bring verskeie stroper- en tapkarhandelsmerke saam om mee te ding om te kyk wie stap met die louere weg!
Die Grootpan Studiegroep het vanjaar weer hierdie dag met groot sukses op 5 Junie 2026 te plaas Grootpan buite Lichtenburg aangebied. Behalwe vir die wedrenne, was daar ook meer as 99 stalletjies sowel as implement- en trekkerdemonstrasies vir die 1 800 besoekers om te geniet. Daar was ook kunstenaars wat opgetree het om by te dra tot die dag se opwinding en vermaak.
Tapkarresies
Tydens hierdie resies is die tapkarre se vermoëns gemeet op hul uitlaaispoed (60%), kapasiteit (20%), kapasiteit teenoor koste (10%) en ekstras soos die bodemsluis, weegstelsels, seile, waarborge en die uitlaaiwurmsluis (10%). Hier het Agri Afrika se Legend CB40 die eerste plek behaal met 92,61 punte, met BPI se 18-ton-enkelastapkar kort op hul hake in die tweede plek met 89,66 punte. In die derde plek het die nuwe toetreder, TIY Manufacturing, met hul 20-ton-tapkar vir hulself ’n plek op die telbord verseker met 81,22 punte. TIY Manufacturing het ook van die dag gebruik gemaak om hulle splinternuwe 65-ton tapkar bekend te stel.
Die Agri Afrika Legend CB40-tapkar is ‘n hoëkapasiteit-tapkar met ‘n reuse volume van 40 000 liter wat ontwerp is om jou oestyd drasties te versnel deur ‘n volledige vrag binne net 2,8 minute af te laai. Sy unieke bakontwerp maak gebruik van swaartekrag om alle graan na die middel te laat vloei, om te keer dat ‘n kors vorm of die tapkar blok. Hierdie bak word ook aanmekaar gesit met los, geboute panele wat keer dat jou bak kraak, terwyl die direkteaandrywingratkas sonder kettings of bande instandhouding minimaliseer.

Finale uitslae van die tapkarre.
Stroperresies
Van die groot landbou-handelsmerke het vanjaar weer hul beste voet voorgesit, en Case IH, John Deere, CLAAS en New Holland het in die klas-ses-, klas-agt-en opeklas-afdelings van die stroperresies deelgeneem. Case IH het vir die dag hul Axial-Flow 6150, Axial-Flow 8260 en splinternuwe AF9-stropers saamgebring, terwyl New Holland met hul CR6.80, CR7.90 en CR10-stropers meegeding het. John Deere het die kompetisie aangepak met hul S7 600 en S7 800, en CLAAS het ingeskryf met hul Trion 750.
Die stropers het teen mekaar meegeding in ‘n 400 meter strook mielieland en hul prestasie is gemeet op hul spoed (50%), die gruis onder die sif (10%), die materiaal op die tafel (10%), die vermorsing agter die stroper (20%) en die koppe wat agtergelaat is (10%).
Klas-ses
In die klas-ses-afdeling het John Deere se S7 600 koning gekraai met 91,52 punte, gevolg deur Case IH se Axial-Flow 6150-stroper met 83,42 punte en New Holland se CR6.80 met 79,17 punte. Die John Deere S7 600 is ‘n gevorderde, hoëtegnologie-stroper wat aangedryf word deur ‘n 9,0 liter-enjin met ‘n maksimum krag van 249 kW. Die stroper beskik oor ‘n massiewe graantenk van 10 600 liter en ‘n indrukwekkende uitlaaispoed van 127 liter per minuut. Wat hom egter werklik laat uitblink, is sy slim outomatisering; danksy kameras op die kajuit en satellietbeelde pas die stroper sy eie spoed en instellings outomaties aan volgens die digtheid van die gewas om graanverliese tot die absolute minimum te beperk.

Finale uitslae van die klas-ses stroperafdeling.
Klas-agt
By die klas-agt-stropers het Case IH se Axial-Flow 8260 in die eerste plek geëindig met 88,20 punte, gevolg deur CLAAS se Trion 750 met 86,32 punte en John Deere se S7 800 met 79,17 punte.
Die Case IH Axial-Flow 8260 is ook ‘n kragtige, nuwegenerasiestroper wat toegerus is met ‘n massiewe 14 400 liter-graantenk en ‘n blitsvinnige aflaaispoed van tot 159 liter per minuut. Sy grootste troefkaart is die ikoniese Axial-Flow-enkeldromtegnologie, wat graan uiters sag drom en skei om graanskade te minimaliseer. Boonop neem die slim AFS Harvest Commandoutomatiseringstelsel die dinkwerk uit jou hande deur die stroper se instellings deurlopend aan te pas selfs wanneer die stroopomstandighede verander.

Finale uitslae van die klas-agt stroperafdeling.
Die grootmanne
Besoekers het baie uitgesien na die kompetisie tussen die grootmanne – Case IH se AF9 en New Holland se CR10-stropers. Die wenner van die ope-klas kategorie het vir die volgende jaar spogregte. Hoewel die kompetisie ‘n naelbyter was, was dit op die ou einde Case IH se AF9 wat die eerste plek ingeneem het met ‘n ongelooflike 99,94 punte uit 100. New Holland se CR10 was net ‘n kortkop agter met 97,9 punte.
Die Case IH AF9 is Case se splinternuwe, kragtige klas 9-stroper wat van die grond af herontwerp is. Die stroper spog met ‘n enorme graantenk van 16 000 liter (met opsies van tot 20 000 liter) en ‘n uitlaaispoed van tot 159 liter per minuut. Die stroper se krag kom van sy parallel-gemonteerde 425 kW enjin wat kragverlies drasties verminder, terwyl die bekende Case IH Axial-Flow-tegnologie opgegradeer is na ‘n nuwe AFXL-enkeldrom wat 40% langer is om deurset aansienlik te verhoog sonder om die graan te beskadig. Om alles te kroon, is hy toegerus met dubbel Pro 1200-skerms, Kunsmatige Intelligensie-gedrewe Harvest Command-outomatisering en ‘n unieke dinamiese
strooiers wat gelyk versprei op hellings van tot 27°.

Finale uitslae van die ope-klas stroperafdeling.
Stroperresies 2026
Dit was egter Case IH wat aan die einde van die dag die beker omhoog kon hou as die algehele Stroperresies 2026-wenners. Om die dag ekstra spesiaal te maak was daar ook ‘n veiling waar boere en besoekers kon bie op die tapkar of stroper wat hulle gedink het die beste sal vaar. Die geld wat hier ingesamel is, word aan liefdadigheid geskenk.
Die Grootpan Studiegroep het elke uitstaller en borg bedank vir hul bydrae tot die dag en gesê: “Sonder julle was die dag nie moontlik nie. Dankie aan André Kock en Seun wat die afslaers vir die dag was, asook die Du Preez-Landgoed wat hul plaas vir ons oopgemaak het en hul eie plaasbedrywighede laat stilstaan het om die dag moontlik te maak.”
Beplanning vir die 2027-Stroperresies is reeds onderweg, so maak seker jy mis nie hierdie geleentheid volgende jaar nie.
- Yara Animal (tbc), Whole Concepts (tbc)
- CLAAS se Trion 750 suksesvol oor die eindstreep.

New Holland se CR 7.9 stroper op pad na die wegspring toe.

