Categories: Meganisasie, Nuus, StrooptoerustingPublished On: 26th May 2026

Case IH AF9: ’n Nuwe era van slim strooptegnologie breek aan

By 6 min read
1149 words

WhatsApp Image 2026-05-25 at 12.24.13

Die nuwe Case IH AF9 maak sy verskyning by NAMPO.

Landbou beweeg vinniger as ooit na ’n era waar tegnologie, data en intelligente masjinerie die verskil tussen gemiddeld en uitnemend bepaal. By vanjaar se NAMPO-oesdag was dit duidelik dat die toekoms van stroopwerk reeds hier is toe Case IH sy nuwe AF9-vlagskipstroper, aan Suid-Afrikaanse boere bekend gestel het.

Met sy indrukwekkende kombinasie van hoë kapasiteit, gevorderde outomatisering en verbeterde ontwerp het die AF9 onmiddellik die aandag van verskeie boere, kontrakteurs en landboukundiges getrek. Die nuwe stroper is ontwikkel om aan die toenemende eise van moderne boerdery te voldoen, waar tyd, brandstofdoeltreffendheid, oesgehalte en data-gedrewe besluitneming belangriker as ooit geword het.

Slimmer ontwerp. Groter kapasiteit. Minder verliese.

Volgens Bertus Barkhuizen, produkspesialis by Case IH, bou die AF9 voort op dekades se verfyning in graanhantering, skeidingsdoeltreffendheid en operateursgerief, maar die stroper vat stroopkapasiteit en werkverrigting na ’n heel nuwe vlak.

Hy vertel: “Wat die nuwe Case IH AF9 van vorige generasies stropers onderskei, is dat dit nie bloot ’n opgradering van bestaande tegnologie is nie, maar ’n volledige herontwerpte model, wat ontwerp en vervaardig is vir die moderne boer se uitdagings en verwagtinge.”

Een van die AF9 se mees opvallende kenmerke is sy indrukwekkende 20 000 liter-graantenk. “Tydens proewe naby Middelburg in Mpumalanga-omgewing het die stroper gemiddeld sowat 16 ton-sojabone gestroop voordat aflaai vereis was,” voeg Bertus by.

Dis ’n belangrike faktor wat boere se staantyd beperk en produktiwiteit gedurende kritiese stroopvensters verhoog.

Maar die AF9 gaan oor veel meer as net kapasiteit en elektronika. Die stroper is doelbewus ontwerp om boere te help om vinniger te stroop, verliese te beperk en beter graangehalte te handhaaf, selfs onder moeilike en wisselende toestande.

Van die toevoerhuis tot by die skoonmaak- en restebestuurstelsels is die AF9 ’n totaal nuwe ontwerp, terwyl dit steeds die bekende Axial-Flow enkelrotor-konsep behou waarvoor Case IH wêreldwyd bekend is. Anders as konvensionele stropers wat graan deur verskeie dorsstadiums skei, gebruik die Axial-Flow-stelsel een rotor wat die dors- en skeidingsproses in een vloeiende beweging voltooi. Dit lei uiteindelik tot verbeterde materiaalvloei deur die masjien, verminder pitbeskadiging en dra by tot beter oesgehalte.

Bertus Barkhuizen, produkspesialis by Case IH, verduidelik die tegnologie agter die nuwe AF9.

Groter tenk, vinniger vloei en minder staantyd

“Wanneer daar gestroop word, is dit tog die stroper wat die praatwerk doen aan die einde van die dag. Jy kan alles reg doen deur die seisoen, maar jou maatstaf bly wat jy stroop. Vir ’n boer is dit belangrik om elke pit in die tenk hê en nie op die grond nie,” meen Bertus.

Kenmerkende eienskappe van die AF9:

  • Die AF9 beskik oor ’n massiewe 20 000 liter-graantenk, tans eie aan Suid-Afrika in hierdie spesifikasie.
  • Die AF9 het ook ’n indrukwekkende aflaaitempo van 159 liter per minuut en die tenk kan binne ongeveer drie tot vier minute leeggemaak word. Hierdie vinnige aflaai verminder staantyd aansienlik en verhoog stroopdoeltreffendheid, veral tydens kort en onvoorspelbare weertoestande wanneer elke minuut op jou plaas tel.
  • Die skoonmaakstelsel van die AF9 is ook herontwerp om beter werkverrigting in ongelyke veldtoestande te lewer. In plaas daarvan dat graan direk op die siwwe val, word dit eers op ’n graanpan ontvang wat van voor na agter én van kant tot kant beweeg. Hierdie beweging help om materiaal meer eweredig oor die hele skoonmaakarea te versprei, wat die doeltreffendheid van die stelsel verbeter.
  • Die toevoerstelsel is ook heeltemal herontwerp. Die voerhuis is nou korter, maar groter, terwyl die gesinkroniseerde voerstelsel die gewasvloei versnel voordat dit die rotor bereik. Deur die invoer van gewas te sinkroniseer met rotorspoed, word ’n meer egalige toevoer verseker wat spanning op die dorsmeganisme verminder en die algehele vloei deur die masjien verbeter.
  • Die rotor self is ongeveer 860 mm langer as vorige vlagskipmodelle van Case IH, wat ’n ekstra skeidingsarea skep deur twee bykomende stelle konkawe. Hierdie ontwerpverbetering lei tot beter dorsaksie en verminder graanverliese agter in die masjien.
  • Laaisensors monitor deurlopend die verspreiding van materiaal en pas outomaties die graanvloei aan om te keer dat een kant van die masjien oorlaai word. Hierdie intelligente aanpassing help om konsekwente werkverrigting te handhaaf, selfs in uitdagende terrein.
  • Die brandstofdoeltreffendheid van die stroper is ook verbeter. Die AF9 lewer ongeveer 1,5% beter brandstofverbruik as vergelykbare klas 8-stropers, met ’n verbruik van sowat 10 liter per hektaar tydens sojaboonstroop, teenoor ongeveer 14 liter per hektaar onder soortgelyke toestande.
  • Die stroper weeg ongeveer 30 ton sonder vrag en is beskikbaar in beide rusper- en vierwielaangedrewe konfigurasies.

Operateurgerief, verbeterde kragvloei en eenvoudiger aandrywing

Binne die kajuit van die AF9 kry operateurs toegang tot twee Pro 1200-raakskerms. Een skerm kan fokus op die stroper se prestasie, terwyl die ander fokus op graangehalte en data, asook stroopinligting en Case IH se FieldOps-platform. Deur hierdie platform kan boere ook op ’n afstand met Case IH se ondersteuningspanne en fabriekstegnikusse kommunikeer vir diagnose en tegniese bystand, indien nodig.

Bertus verduidelik: “Een van die grootste ingenieursveranderings is die herposisionering van die enjin 635 hp (474 kW), wat nou parallel met die rotor werk in plaas daarvan om dwars oor die masjien gemonteer te wees. Hierdie verandering skep ’n meer direkte kragoordrag na die rotor en versnelling, wat doeltreffendheid verbeter en dryflynverliese verminder. Verder is die dryfstelsel vereenvoudig deur die aantal bande, katrolle en kettings te verminder en meer hidroulies-gedrewe stelsels in te span. Minder bewegende onderdele beteken laer onderhoudsvereistes, hoër betroubaarheid en minder kragverlies.”

Slim residubestuur en intelligente outomatisering

Die residubestuurstelsel van die AF9 is ook aansienlik opgegradeer om meer presiese en konsekwente verspreiding in die land te verseker. Radarsensors monitor windtoestande intyds en pas die strooipatrone outomaties aan om egalige verspreiding van oesreste te handhaaf. Dit help om te keer dat kaf en fyn materiaal in aangrensende lande of gewasse inwaai.

Baie van hierdie funksies word beheer deur Case IH se Harvest Command, ’n kunsmatige intelligensie-gedrewe outomatiseringstelsel. Die tegnologie ontleed voortdurend gewastoestande, toevoertempo, graangehalte en enjinlas, en maak intydse aanpassings nog voordat die operateur beduidende veranderinge in die stroopproses opmerk.

Boere kan byvoorbeeld instel dat die stroper teen ’n maksimum van 90%-enjinkapasiteit werk. Die masjien pas dan outomaties grondspoed en dorsinstellings aan om graangehalte en dorsaksie te balanseer. Indien toestande verbeter, verhoog die stroper sy spoed; indien die graan se gehalte begin afneem, word rotorspoed, siwwe-instellings en lugvloei outomaties aangepas.

Kameras binne die graantenk monitor deurlopend die gehalte van die graan en pitbeskadiging. Hierdie visuele data word ingevoer na die stelsel, wat dit gebruik om instellings verder te verfyn en die stroopproses voortdurend te optimaliseer.

Die herontwerpte agterkant van die Case IH AF9 weerspieël ’n fokus op doeltreffende residubestuur, verbeterde lugvloei en ’n skoon, funksionele ontwerp vir maksimum veldprestasie.

Demonstrasiedae

Die Case IH-span is ook baie opgewonde om die nuwe AF9 aan boere regoor die land te demonstreer, en om eerstehands te wys hoe die stroper in verskillende toestande en werklike veldomstandighede op boere se eie grond presteer. Boere word aangemoedig om Case IH se sosialemediaplatforms dop te hou vir meer inligting oor komende demonstrasie-geleenthede. Besoek ook Case IH se webwerf vir meer inligting.

 

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0