Trekkerverkope daal met 7%

DSC01206
Niks mooier as ‘n Massey-trekker in aksie wanneer die grond voorberei en berook word vir die komende aartappelplantseisoen. Betroubare meganisasie help om aalwurm onder beheer te hou en te verseker dat die saad die beste moontlike omgewing het om te floreer.
Trekkerverkope van 606 eenhede in Augustus in Suidelike Afrika is 13% minder as die 700 eenhede wat verlede Augustus verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope nou ongeveer 7% minder as verlede jaar. Vier stropers is in Augustus verkoop, een minder as die vyf eenhede wat verlede Augustus verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope nou ongeveer 1% minder as verkope verlede jaar.
Met die huidige oesseisoen vir somergewasse wat met byna twee maande vertraag is, het sekere onsekerhede ontstaan. Oesopbrengste, gewaspryse, insetkoste, asook huidige en toekomstige weersomstandighede is ’n paar van die onsekerhede. Boere beplan nietemin nou vir die komende seisoen en met die heersende gunstige vogvlakke in die grond, asook die onlangse vroeë reën, is die waarskynlikheid van vroeër aanplant goed, veral in geval van gewaskultivars met ’n kort groeiseisoen.
Die tendens in die verkope van landboumasjinerie behoort duideliker te word oor die volgende twee maande. Ramings in die bedryf bly egter dat trekkerverkope vir die 2026-kalenderjaar ongeveer 10% minder sal wees as verkope in 2025.
Bron: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie