Categories: Artikels, SA294-vrouemaand, VroueboerPublished On: 30th July 2024

Boer Sophy leef haar droom: Gesonde voedsel vir ‘n gesonde liggaam

By 3 min read
569 words

WhatsApp Image 2024-04-25 at 13.05.55

Net buite die Oos-Rand van Gauteng in die Mapleton-distrik is Vhegies, die breinkind van Sophy Litshani Musabeni. Die Landbouskrywers van SA het haar benoem as die beste nuwe toetreder tot kommersiële landbou 2023. Alhoewel sy aanvanklik geensins by boerdery betrokke was nie, leef sy nou haar droom uit.

“Ek is in Limpopo gebore en het vir ‘n paar jaar vir die Mediclinicgroep gewerk as ՚n professionele verpleegster,” vertel Sophy.

“My droom was altyd om te boer, maar na matriek het die lewe my egter ‘n ander rigting ingeslaan. Ek het in Pretoria by Medforum gewerk tot sewe jaar gelede.”

In 2017 het Sophy besluit dit was tyd om haar ware droom na te streef, daarom het sy begin boer.

“Ek het in my ma se agterplaas begin boer toe ek jonger was deur spinasie te plant en in ons plaaslike gemeenskap te verkoop. Maar toe ek ernstig begin boer het, het ek twee hektaar spinasiebeet geplant.” Dit was moeilik om aanvanklik finansiering te kry om haar boerdery te begin. “Uiteindelik het ek in 2020 ՚n geleentheid gekry om ՚n plasie van 14 hektaar in Boksburg te huur,” brei sy uit.

“Nou boer ek met groenbone, murgpampoentjies, geel vlapampoentjies, botterskorsies, kool, raap, en spinasie.” Die boerdery se naam is Vhegies, ՚n woordspeling op die Engelse woord vir groente, so genoem omdat dit die hooffokus van die boerdery is. Die doel is om gesonde groente vol voedingstowwe aan mense te bied om so gesonde liggame te help handhaaf.

Die verskeie plekke waaraan haar boerdery vars produkte voorsien, is verwerkingsmaatskappye, die Johannesburgse mark, die Tshwanemark, plaaslike winkels, Springs-mark, Spar en maatskappye wat kos vir lughawens voorberei.

Vrouwees in landbou

Dit het baie deursettingsvermoë geverg om te kom tot waar sy vandag is. Gedurende 2023 is sy aangewys as die beste nuweling in kommersiële landbou deur die Landbouskrywers van Suid-Afrika. Sy was ook deur Agri Gauteng benoem vir die Toyota SA Nuwe Oes van die Jaar-kompetisie. “Om ‘n vrou in die landbou te wees beteken om jou uitkyk te verander en uitdagings te omhels, mentorskap te soek en ‘n positiewe impak in die veld te maak,” vertel sy.

“Landbou is, net soos ander sektore, ‘n bedryf waarin ons moet aandag gee aan besonderhede. Die landbousektor speel ‘n deurslaggewende rol in ekonomiese groei.” Vir haar eie toekomsplanne noem Sophy dat sy eers sal moet kyk na meer grond. Groter boer in haar geval is sinoniem met groter grond. In haar werk wys dit waaroor sy die passievolste is: gesondheid, werkskepping en voedselverbouing.

Liza Bohlmann, voorsitter van Landbouskrywers SA; Sophy Musabeni Litshani; nuwe toetreder tot kommersiële boerdery Gauteng, Bertie Huggett,
hoof van Landbou, FNB Kommersiële Bankwese; Paul Siguqa, eienaar van Klein Goederus en nuwe toetreder tot kommersiële boerdery Wes-Kaap;
en Lorraine van Heerden wat die toekenning namens Lesego Holzapfel, nuwe toetreder tot kommersiële Boerdery Noord-Kaap ontvang het

“Die droom is om eendag groter en groter te boer sodat Vhegies groente aan nie net die gemeenskap nie, maar landwyd ook kan voorsien.” Laastens vertel Sophy die beste deel van boer wees in Suid-Afrika is dat die meeste organisasies landbou baie ernstig opneem. Danksy hierdie respek vir landbou is daar so baie borge wat boere regtig wil help om suksesvol te word. Sy kry ook baie raad van gesogte bronne.

“Instansies soos Agri Gauteng, die Landbouskrywers van SA asook staatsamptenare is ՚n paar van die bronne wat my op my pad gehelp het,” glimlag sy.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0