Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, NuusPublished On: 15th December 2022

Beurtkrag benadeel voedselproduksie en boere se veiligheid

By 4 min read
682 words

photovoltaic-system-2742302_1920

Beurtkrag het ՚n geweldige impak op SA se ekonomie, sakeondernemings, elke indiwidu en veral die landbousektor wat voedsel vir die land moet produseer. Dit speel ook ՚n groot rol in die veiligheid van ons boere, want veiligheidstoerusting soos kamerastelsels en alarms het net beperkte batterykrag en is ook afhanklik van WiFi.

Boere wat tot laataand plant, stroop, grondvoorbereiding doen of spilpunte kyk en vrouens en kinders alleen los is in groot gevaar, want baie het nie eers selfoonsein as die krag afgaan nie. Beurtkrag fase 6 is kort voor Kersfees 2022 in werking gestel.

“Staats- en nasionale infrastruktuur word ook gedurende beurtkrag geplunder. Sindikate stroop transformators, elektriesetreinkabels en selfoontoringbatterye,” sê Jack Armour, operasionele bestuurder by Vrystaat Landbou. ՚n Besproeiingsboer is baie aangewese op elektrisiteit, want as die gewasse in volle aanvraag ingaan, gewoonlik gekoppel met die warmste maande soos Desember, dan moet die besproeiingstelsels 24 uur per dag loop net om by te hou.

“Gedurende hierdie tye is beurtkrag ՚n geweldige krisis vir die boere. Vlak 5 kan tot erge opbrengsverliese lei as dit in kritieke fases van die plantegroei is soos die begin van planttyd,” sê Jack.

“Ons wat uit kanale besproei het ‘n MOR (Maksimum Onttrekkingsrendement) van 120 uur per week. As jy water bestel maar dit weens beurtkrag nie kan benut nie, word jy steeds daarvoor aangeslaan en jy verloor dit maar net,” sê Kempen Nel, voorsitter van Vrystaat Landbou se Kommersiëlesakekomitee. Kempen voeg by dat die toediening van bemesting ook moeilik is met beurkrag.

Die hoeveelheid water wat ՚n gewas kry speel ՚n rol by die tonne per hektaar wat gestroop word. “Met koring as ՚n wintergroeier sê kritieke waterbehoefte is nie so groot nie en wyer verspreid as byvoorbeeld mielies wat juis in Desember aangeplant is,” sê Jack.

Kempen noem dat die boere se koringoeste einde van 2022 nie so goed gelyk het nie maar dit was hoofsaaklik as gevolg van fusarium, ՚n swam wat koring tydens blomstadium besmet. Daar is baie vrae of Suid-Afrika nog genoeg voedsel gaan hê as beurtkrag voortduur en vererger.

“Dit was ՚n paar goeie jare vir die droëlandakkerbou en dus het ons voldoende voedsel op die rakke en vir uitvoer,” sê Jack. Die toekoms vir boere is heel moontlik sonplase, maar dit is peperduur.

“Die groot koste is die batterye vir as daar in die nag besproei moet word en die boer is nie gekoppel aan die kragnetwerk (ESKOM) nie. Indien ESKOM ՚n sonkragbelasting inbring soos hulle al aangedui het, kan dit boere dwing om heeltemal van die kragnetwerk af te gaan en die hoër kostes van batterye te betaal. Sonkrag verg baie kapitaal,” meen Jack. Met die hoë brandstofpryse kan kragopwekkers ook nie die nodige krag voorsien wat spilpunte nodig het nie. “

՚n Ander probleem wat in sommige provinsies voorkom, maar nie so groot in die Vrystaat is nie, is lasvermindering. Dit is as die krag weer aankom na beurtkrag dat die substasie uitskop weens oorlading op die stelsel. Op enige tyd wat die stelsel oorlaai is kan dit ook uitskop,” sê Jack.

Beurtkrag raak alle boere

“In die Vrystaat is dit die meer intensiewe boerderye soos varke, pluimvee en melkerye wat grootliks deur beurtkrag geraak word – meeste van dié boerderye het in elk geval rugsteunkragvoorsiening. Indien nie, kan beurtkrag op ՚n koue aand groot vrektes veroorsaak, of nie genoeg kos of water aan die intensiewe vee-opset gee nie. Voerkrale het ook die laasgenoemde probleem,” sê Jack.

• Die pluimveebedryf sukkel omdat die geboue verhit of verkoel moet word en dit bemoeilik die slag en verwerking van die hoenders en die eierproduksie.

• Tafeldruiwe: Spesifieke fitosanitêre vereistes geld vir uitvoerdruiwe en enige onderbrekings in verkoelingstydperke kan enorme verliese vir die uitvoerbedryf beteken.

• By lewendehawe is elektriese heinings af, wat ongediertes laat inkom.

• Melkproduksie gaan verlore omdat boere nie koeie kan melk of die melk kan verkoel nie.

• Groente en vrugte moet teen die regte temperatuur opgeberg word.

• Druiwesap moet onder 0 °C verkoel gehou word.

Jack noem ook dat Vrystaat Landbou sal aanhou om hom saam met ander burgerregte-organisasies te beywer vir ՚n regverdige, kostedoeltreffende energiediens en ՚n billike energie-oorgang wat nie landbou benadeel nie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0