Categories: NuusPublished On: 10th June 2024

Bek-en-klouseer: Moenie vee skuif nie!

By 4 min read
869 words

OK2

Dit is baie belangrik om te onthou dat beeste wat die siekte onder lede het tydens die inkubasietydperk nadat hulle besmet geraak het nie kliniese tekens van die siekte toon nie, maar nogtans die virus versprei.

Vee-eienaars landwyd word gemaan om sover moontlik nie hulle vee te verskuif nie, en dan ook net met die nodige permitte.

“As alle vee bly waar hulle is sal dit moontlik wees om nog plase waar bek-en-klouseer mag voorkom op te spoor en onder kwarantyn te plaas en te voorkom dat die siekte verder versprei,” sê Marzanne Roets, nasionale koördineerder van die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF).

Die verspreiding van die siekte bedreig nie net die voortbestaan van boere nie, maar ook die ontluikende uitvoermark vir vleis en lewende hawe.

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het opnuut ‘n beroep gedoen op vee-eienaars in al die provinsies om die beweging van diere met gesplete hoewe sover moontlik te beperk.

Dit volg nadat die uitbreking van bek-en-klouseer wat sedert 30 April in die Kouga-munisipaliteit in die Oos-Kaap voorkom wyer versprei het en nou ook in die Oos-Londen omgewing voorkom. Die uitbreking by Oos-Londen is veral kommerwekkend want die siekte is gediagnoseer by vee wat vir uitvoer na Mauritius bestem was. Die vee is nie net van ‘n enkele plaas afkomstig nie, maar van verskeie.

Die oorsprong van die siekte, wat deur Onderstepoort Veeartsenykundige Navorsing in Pretoria as SAT3 bevestig is, is steeds onbekend en die ondersoek daarna duur  onverpoosd voort.

Die plase waar die siekte voorkom is onder kwarantyn geplaas en gee vee mag slegs in uiterste omstandighede en met die nodige toestemming verskuif word.

Beeste en skape op dié plase is teen bek-en-klouseer ingeënt om die viruslading daar te verminder.

Biosekerheid

Die Departement van Landbou het vee-eienaars ook opnuut dringend versoek om biosekerheidsmaatreëls op hulle plase toe te pas ten einde hulle eie kuddes teen infeksie te beskerm.

Bek en klouseer is in terme van die Wet op Dieresiektes (Wet nr. 35 van 1984) ‘n gekontroleerde dieresiekte en volgens die wet moet beheermaatreëls soos afsondering en bewegingsbeheer deur Veeartsenykundige dienste toegepas word.

Dit is die wetlike plig van eienaars of bestuurders van vee om alle redelike stappe te doen om te voorkom dat hulle diere besmet raak of dat hulle besmette diere die siekte verder versprei na ander diere of eiendomme.

Sedert Oktober 2022 mag enige vee net geskuif word indien die eienaar in besit is van ‘n gesondheidsertifikaat dat die diere voor hulle geskuif is vry van enige siektes is.  Voorts moet alle beeste, skape of bokke wat nuut op die plaas aanland ten minste 28 dae lank afsonderlik aangehou word.

Kliniese tekens soos sere in die bek of oormatige kwyl en sere aan die hoewe moet onverwyld by ‘n staatsveearts aangemeld word en die diere moet onder geen omstandighede verskuif word nie.

Dit is baie belangrik om te onthou dat beeste wat die siekte onder lede het tydens die inkubasietydperk nadat hulle besmet geraak het nie kliniese tekens van die siekte toon nie, maar nogtans die virus versprei.

Sedert bek-n-klouseer die eerste keer op 30 April in die Kouga-distrik in die Oos-Kaap uitgebreek het, het dit verder versprei en kom nou ook in die Oos-Londen omgewing voor.

Voorkoming begin op plaasvlak

Tydens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se algemene jaarvergadering op 23 Mei op Laingsburg is dit benadruk dat dit elke produsent en elke rolspeler in die rooivleiswaardeketting se verantwoordelikheid is om streng  biosekerheid op plaasvlak toe te pas ten einde die verspreiding van dieresiektes te voorkom. Die RPO as organisasie kan nie die verspreiding keer nie, want voorkoming begin op plaasvlak.

“Biosekuriteit is ononderhandelbaar en die onverantwoordelike optrede van rolspelers in die rooivleiswaardeketting kan tot groot finansiële verliese vir veral produsente en voerkrale aanleiding gee.”

Ekonomiese belang

Angus Williamson, voorsitter van die RPO in KwaZulu-Natal, beklemtoon ook dat biosekerheid en naspeurbaarheid van uiterste belang vir die land se ekonomie is.

Volgens Williamson is die rooivleisbedryf weens bek-en-klouseer en droogtes in die provinsie en elders in die land onder druk, maar daar is lig aan die einde van die tonnel, hoofsaaklik weens die feit dat uitvoere besig is om momentum te kry. Die uitvoer inisiatief sal nie oornag die gewenste vlakke bereik nie, maar dit sal oor tyd wel gebeur.”

“Die rooivleisbedryf moet seker maak naspeurbaarheid en biosekuriteit is in plek, terwyl produsente moet seker maak hul voldoen aan die verwagtinge van die lande wat die Suid-Afrikaanse produk invoer.”

Nuwe Brics-uitvoermarkte

Dit is veral goeie nuus in die lig daarvan dat Brics-lande soos Shina, Saudi-Arabië en Egipte die bemarkingstoegang vir verskeie landbouprodukte van Suid-Afrika vergroot het. Egipte en Saudi-Arabië het eers onlangs by die BRICS+-groepering aangesluit, en marktoegang tot uitgesoekte vrugte, wyn, grane, wol en vleis is deel van die langtermyn-bilaterale verbintenisse met Suid-Afrika.

Blitsige uitvoere

Intussen het die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Veterinêre Dienste ‘n innoverende Elektroniese Uitvoersertifikaat-kantoorstelsel (ECOS) geloods.

Volgens dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, bied ECOS vir die kliënt ‘n 24-uur uitvoerfasiliteringsdiens wat binne minute afgehandel kan word. Die proses het in die verlede etlike dae geduur. “Die platform vergemaklik die uitvoer-proses en verseker dat aan al die internasionale standaarde voldoen word.”

Slotsom

“Maar dit sal alles niks help as boere nie streng biosekerheidsmaatreëls toepas en gehoor gee aan die regering se oproep om vee nie te verskuif nie,” sê Marzanne.

Bronverwysing

Rooivleis Nuus Junie 2024/ Red Meat News June 2024: https://mailchi.mp/07839ecf497c/rooivleis-nuus-mei-2024-red-meat-news-may-16536409?e=dddab07cfe

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0