Categories: Nuus, Vee en WildPublished On: 20th March 2026

Bek-en-klouseer in Tuinroete onder beheer

By 7 min read
1346 words

stal 3

Henry Meyer, suiwelboer naby Mosselbaai en verteenwoordiger van Agri-Wes-Kaap in die Suid-Kaap, oftewel Tuinroete, is positief oor hoe goed bek-en-klouseer in die omgewing beheer word. Sedert die eerste drie positiewe gevalle van bek-en-klouseer in Februarie op ‘n suiwelplaas in die Hartenbosgebied van Mosselbaai identifiseer is, het die aantal net tot sewe gestyg.

Henry skryf dit toe aan die goeie samewerking tussen Agri Wes-Kaap “wat dophou, organiseer en reël”, die SA Polisiediens, die Wes-Kaap se Departement van Landbouhou, sy staatsveeartse en dieregesondheidstegnici. “Almal staan saam. Dr Leandra Janse van Rensburg is ‘n voorslag, sy het haar vinger op die pols van die uitbreking – en dit met ‘n drieling by die huis!”

Volgens Henry het die virus by net twee plase “bietjie gespring” – by een plek 3 km, by ‘n ander 5 km. “Ons vermoed die redes vir die verspreiding is dat die virus saam met voer op trokke ingekom het, of dat vakansiegangers dit versprei het. ‘n Ondersoek het getoon dat daar al in Desember voorvalle op die indeksplase was.”

Daar is ook agtergekom dat veldbeeste soos Bonsmaras wat minder of miskien net stadiger geraak word deur die siekte as melkkuddes. “Dit is dalk omdat melkbeeste onder groter druk is as vleisbeeste, daarom is die simptome erger en wreder as by veldbeeste.”

Tog is verse op ‘n plaas waar met vleisbeeste geboer word, ook besmet. “Dit het net weer beklemtoon dat mens nie kan laat slap lê met sanitering nie.

Altesaam 18 230 beeste op 111 plase  is reeds ingeënt. Die eerste inenting is binne die 3 km-radius rondom die indeksplaas gedoen, toe uitgebrei in die 10km-radius, en nou ook buite dié radius.

Volgens Henry is ‘n klomp reëls en regulasies al verslap en hoef die melk van beeste wat die siekte het of ingeënt is, nie meer dubbele-pasteurisasie te ondergaan nie.

“Mens moet onthou ons werk nog op ou argaïese wette en daar was nog nooit so ‘n groot uitbreking van bek-en-klouseer nie. Ons moet aan die Wêreld-Dieregesondheidsorganisasie (WOAH) se regulasies voldoen. Omdat infrastruktuur in baie dele van die land verkrummel het, moes ons eers weer op WOAH se standaard kom,” verduidelik hy.

Dit is hoekom entstof nie onmiddellik ingevoer kon word nie. “Daar moet noukeurig rekenskap gegee word van elke 50 dosisse wat uit ‘n botteltjie entstof kom en elke bees moet ‘n oormerker kry.”

Hy meen die entstof wat skelmpies uit Kenia ingevoer is, het glad nie die siekte gestuit nie, want tien, veertien dae later het die beeste dit in elk geval gekry en die simptome was baie erger. “Die land kan nie net die goed laat inkom en enigiemand toelaat om in te ent nie – dis nie soos ander siektes soos bloutong of bloednier waarvan die simptome en die diere se leiding nie naastenby so erg soos met bek-en-klouseer is nie,” verduidelik hy.

“WOAH is in Europa gesetel en hulle is verskriklik streng. Toe bek-en-klouseer  in Turkye voorkom, is die beeste voor die voet van kant gemaak omdat die simptome so wreed is – daar was nie eens sprake van inenting nie.”

Volgens Henry is dit ‘n goeie ding dat die siekte as nasionale ramp verklaar is, anders sou die uitvoer van alle hoefdierprodukte gestaak moes word. “Mense dink al ons rooivleis word na Europa en elders uitgevoer, maar tot 80% word na Afrika uitgevoer. Dis hoekom buurlande soos onder andere Botswana invoere summier gestaak het – al sit hulle nou self met ‘n uitbreking.

Rondloperbeeste

Rondloperbeeste is ‘n groot uitdaging in die meeste provinsies. In Mpumalanga waarsku bordjies langs die pad daar is geen grensdrade nie, en die bont beeste wei net waar hulle wil.

“Toe die departement se dieregesondheidstegnici my vra hoeveel rondloperbeeste in die Mosselbaaigebied loop, raai ek sowat 500. Dis toe meer as 900 – in die hele land is daar na raming meer as 5 miljoen!”

Hy vertel ‘n vies boer wou by hom weet hoekom “lokasiebeeste” ingeënt word. “Mense moet onthou enting gaan die simptome verlig, nie die siekte stop nie – hoe erger minder die simptome behandel word, hoe erger word die uitbreking! ”

Die sogenaamde lokasiebeeste wat vry rondloop hou die grootste risiko in vir die verspreiding van die virus. “Munisipaliteite laat dit toe dat beeste rondloop. Daar is  selde nog ‘n skut in dorpe waarheen rondloperbeeste geneem kan word. Nou word hulle na die Dierebeskermingsvereniging se persele geneem waar die diere se eienaars die drade in die nag knip en hulle vee terugjaag huis toe.”

Padblokkades

Daar is skaars genoeg polisielede om normale polisiëring te handhaaf, wat nog te sê padblokkades hou. Gevolglik dra veral kleinboere by tot die verspreiding van die siekte hulle laai maklik die diere agterop ‘n bakkie en ry waar hulle wil, sonder enige permitte wat noodsaaklik is vir naspeurbaarheid en beheer.

Baie boere bodder ook nie met biosekerheid nie. “Ons het seker al R10 000 se kalk oor die pad na die indeksplase gegooi om motorbande te saniteer, en by party roetes laai boere van hulle werkers by spuitstasies af om te help.

“Mense wat niks wil doen om te help nie en wat ook nie lid van Agri Wes-Kaap wil wees nie, se beeste word so ook beskerm.”

Hy vertel een boer met 12 beeste het nou die dag sy toys uit die kot gegooi omdat sy beeste nog nie ingeënt is nie. “Uiteindelik is sy paar beeste toe ingeënt, maar hy self doen niks vir biosekerheid nie. Omdat die uitbreking ‘n nasionale ramp is kan ons nou sulke mense aankla as hulle nie hulle kant bring en help om die siekte te stuit nie.”

Volgens dr Leana Janse van Rensburg, plaaslike staatsveearts, gaan inentings vandeesweek voort, ook op suiwelplase rondom die Gondwana Privaat Natuurreservaat waar buffels aangehou word.

Volgens haar sal privaat veeartse toegelaat word om met inentings te help wanneer entstof beskikbaar is.

Sy beklemtoon opnuut dat die beheer van bek-en-klouseer op drie pilare rus, naamlik bewegingsbeheer, biosekerheid en inenting. “Ons het al drie pilare nodig om die verspreiding van die siekte te keer.”

Inenting geskied in fases

  1. Besmette kuddes en ander beeste binne ‘n 3km-radius van die indeksplaas, en indien letsels aan pote of bekke gevind word, ook binne ‘n 10km radius;
  2. Beeste in kommunale gebiede en informele woongebiede;
  3. Hoë risiko kuddes op plase naby gebiede waar rondloperbeeste, abattoirs en heelwat beweging voorkom;
  4. Suiwelkuddes;
  5. Vleisbeeskuddes.

Droogte, uitermatige  hitte

Die Suid-Kaap, wat al klaar ‘n uitmergelende droogte beleef, is verlede week deur uiters hoë temperature geteister.

“Die Suid-Kaap het in Februarie lekker reën gehad en die wêreld het ongelooflik gegroei. Die reën was nie genoeg om die droogte te breek nie en die bergstrome loop nog swak. Van die boere het vroeg hawer en raaigras gesaai. Ons het op die plaas die verskriklikste hitte van 40 °C gemeet. Dit is die hoogste temperatuur wat ek nog op in my 31 jaar op die plaas op my termometertjie gemeet het!”

Hy het laas week ‘n draai gemaak by Voëlvlei naby Gouritsrivier. “Van die lande het doodgebrand. Ek het al self die fout gemaak om te vroeg te plant, maar soms was ek ook al spyt ek het nie vroeër gesaai nie. Ons kry altyd in Maart ‘n snikhete dag of twee, maar hierdie jaar was dit ekstreem Ons is gewoond aan bedompige dae en donderweer in Februarie en Maart, maar hierdie was ‘n vrekbrand-dag, wat ons met ‘n klomp goed laat sukkel het.”

Volgens hom het sy melkkoeie gesukkel met hitte-uitputting. “Van die boere het skoon verbouereerd geraak, want een van die simptome van hitte-uitputting is dat die bekke kwyl, toe is die boere bekommerd hulle koeie het bek-en-klouseer – een van die simptome is uitermate kwyling.  Melkproduksie het geval. Ek weet van ‘n klomp ouens wie se koeie regtig siek geraak en gaan lê het, mens kon hulle in die hitte net nie afgekoel kry nie. Ons het ons koeie tussen 11:00 en 13:00 vir ‘n uur of wat in die lande onder die sproeiers ingejaag en dit het werklik gehelp.” Gelukkig het hy nie diere verloor of ernstige verliese aan melkproduksie gely nie.

Kontakbesonderhede

Meld verdagte voorvalle aan by die Tuinroete Noodoproepsentrum by 044-805-5071 of stuur ‘n WhatsApp na 081-709-5193.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0