Bek-en-klouseer in Oos-Kaap bedreig vee en wild

foot-and-mouth-disease-cattle
Bek en klouseer wat vir die eerste keer in die Oos-Kaap voorgekom het, is slegte nuus vir vee- en veral wildboere. Tot dusver was die Oos-Kaap net soos die Wes-Kaap en die Noord-Kaap vry van die siekte sonder dat diere daarteen ingeënt hoef te word.
Kliniese tekens van bek en klouseer is op 30 April op ‘n suiwelplaas by Humansdorp aangemeld. Die plaas is deur die Oos-Kaapse veeartsenykundige diens onder kwarantyn geplaas terwyl ‘n epidemiologiese ondersoek gedoen word om die oorsprong van die besmetting vas te stel.
Buurplase en ander plekke wat met die besmette plaas kontak het is ook onder kwarantyn geplaas totdat kliniese en serologiese ondersoeke afgehandel is en hulle bek-en-klouseer-status vasgestel is.
Terugslag vir dieregesondheid
Die uitbreking is ‘n terugslag vir dieregesondheid in die land, want net toe die hoop opvlam dat die aanmeldbare, staatsbeheerde siekte hok geslaan is, steek dit weer kop uit op ‘n plek waar dit voorheen ongekend was.
Die vorige mees onlangse uitbrekings het in Februarie vanjaar in die Frankfortgebied van die Vrystaat voorgekom. Volgens die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVasa) het hierdie uitbreking die sukses om die verspreiding te keer ongedaan gemaak. Veral nadat net een uitbreking in KwaZulu-Natal in 2023 voorgekom het wat die hoop laat opvlam het dat die siekte uiteindelik onder beheer is. Die laaste van die vorige uitbrekings in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en Gauteng het in November 2022 voorgekom.
Op 14 April het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling selfs bekend gemaak dat goeie vordering gemaak is met die bekamping van die siekte, want toe was dit net die twee gebiede in KwaZulu-Natal en die Vrystaat steeds onder kwarantyn. Alle ander uitbrekings in ander provinsies was in medewerking met die Wêreldorganisasies vir Dieregesondheid (WOAH) opgelos en afgesluit.

Bek-en-klouseer is vir die eerste keer in die Oos-Kaap op ‘n suiwelplaas by Humansdorp aangemeld. (Bron: Pixabay)
Oop uitbreke, maar nie ‘n gevaar
Die uitbrekings in Januarie 2024 in Mpumalanga se bek-en-klouseer-beskermingsone hou volgens dr Mpho Maja, direkteur van Dieregesondheid in Suid-Afrika se verslag nie ‘n bedreiging in nie omdat die beweging van vee uit die gebied buitendien nie na ander gebiede verskuif of uitgevoer mag word nie.
Net soos in KwaZulu-Natal is die oop en onopgeloste uitbrekings hoofsaaklik in kommunale gebiede en onder kleinboere se vee, wat moeilik is om te beheer omdat die kommunale diptenks en kleinboere naby mekaar geleë is.
Rooivleisbedryf
En nou is dit in die Oos-Kaap aangemeld. Indien dit na kommunale gebiede uitbrei waar kleinboere se vee hulle enigste bron van inkomste is, kan dit ernstige gevolge vir die rooivleisbedryf in die gebiede inhou.
Die 2022 uitbreking in ander gebiede het daartoe gelei dat die uitvoer van rooivleis 16% minder as die vorige vyfjaar-gemiddeld was. Dit het in 2023 met 3% verbeter. Daar word tans ‘n groot poging aangewend om meer markte vir rooivleis te vind. Lewende hawe wat uit die Oos-Kaap na Koeweit uitgevoer word, is deel van die poging – en die uitbreking kan die planne knou.
Woluitvoere nie geraak
Die wolbedryf word nie geraak nie omdat biosekerheids-protokolle steeds in plek is. Volgens Cape Wools en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), is protokolle wat sal voorkom dat die verbod op die uitvoer van wol na Sjina wat vanaf Februarie tot September 2019 gegeld het, nie weer van krag word nie.
Die verbod het gevolg op ‘n uitbreek van bek-en-klouseer in 2019 wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika sy status as vry van die siekte by WOAH verloor het.
Sjina, die koper van sowat 75% van Suid-Afrikaanse wol, het in Februarie 2019 die invoer van wol uit Suid-Afrika weens biosekerheidsredes verbied. Die bedryfsinstansies en in- en uitvoerders het naarstiglik protokolle onderhandel wat daartoe gelei het dat Sjina die verbod op invoere in September 2019 opgeskort het.
Die protokolle berus op streng biosekerheidsmaatreëls wat aan die WOAH se kode vir landdiergesondheid baseer is. Die belangrikste voorwaarde is dat die wol wat vir uitvoer veral na Sjina bestem is, 28 dae lank teen 18 °C gestoor moet word voordat dit uitgevoer word. Dit het groot koste vir wolmakelaars teweeg gebring omdat hulle moes sorg dat wolskure verhit word om die temperatuur te handhaaf.

Buffels is natuurlike draers van bek-en-klouseer en al toon hulle nie simptome nie, kan hulle die siekte aan ander spleethoewiges oordra. (Bron: Pixabay)
Foot and mouth disease in mouth: Kliniese tekens van bek-en-klouseer sluit sere aan die bek, asook die hoewe in wat die dier laat mank loop. (Bron: Pixabay)
Wildbedryf
Die gevaar wat die siekte vir die wildbedryf in die Oos-Kaap inhou is nog groter.
Verskeie belanghebbende organisasies in die wildbedryf, insluitend die WRSA, die Oos-Kaap Wildbestuursorganisasie en het op 15 April op Bedford in die provisie bymekaargekom om juis die toekoms van die bedryf te bespreek.
Volgens John Hunter, direkteur van Wildbedryf SA (WRSA) word daar in die Oos-Kaap op sowat 6 miljoen hektaar, oftewel ‘n derde van die oppervlak, een of ander vorm van wildboerdery toegepas. Dit sluit wildplase en ander plase wat ook met ander kommoditeite boer, privaat wildreservate wat ook toegespits is op ekotoerisme en jag en verwante aktiwiteite soos taksidermie en die wildsvleisbedryf in. Die bedryf dra ook by tot die beskerming van die habitat wat plante en ander diere wat hier voorkom onderhou. Sou die siekte versprei, kan dit tot groot geldelike verliese lei.
Wildboerdery berus op die boer met onder meer wilde hoefdierspesies wat vatbaar vir bek-en-klouseer is. Hierdie diere is wild en al raak hulle gewoond daaraan om op ‘n wildplaas hanteer te word, word hulle nooit mak nie. Dit beteken hulle kan nie soos vee in ‘n drukgang gejaag en individueel ingeënt of behandel word nie.
Verskillende behandelingsmetodes vir byvoorbeeld bosluise is moontlik met vernuftige toerusting, soos die Duncan-toediener of die Tick Off-spuittoediener.
Andersins moet die diere deur ‘n veearts geïmmobiliseer word voordat dit ondersoek en behandel kan word.
Al manier om die diere teen siektes soos byvoorbeeld bek-en-klouseer, tuberkulose, brusellose, en korridorsiekte te beskerm, is om deur biosekerheidsmaatreëls te voorkom dat die wild daarmee in aanraking kom. Buffels is ‘n goeie voorbeeld: buffels, wat draers van bek-en-klouseer is, toon nie kliniese tekens nie, maar hulle dra die siekte oor na byvoorbeeld rooibokke, wat wel vatbaar is. Die virus word ook deur mense, voertuie, en toerusting oorgedra. Terwyl vee teen bek-en-klouseer ingeënt kan word, kan dit nie met buffels gedoen word nie omdat die proses bloot nie haalbaar of prakties is nie.
Indien bek-en-klouseer uitbreek sal alle spleethoewiges op ‘n plaas waar wild voorkom voor die voet uitgewis moet word. Dit sal nie net die boer finansieel en emosioneel knak nie, maar ook ‘n ernstige invloed op die ekologie van die plaas hê.
Biosekerheid
- Biosekerheid begin met ‘n behoorlike heining wat nie net springers soos koedoes nie, maar ook vlakvarke en ander grawers kan in- of uit hou.
- Hou ongenooide en onbekende voetgangers en voertuie van jou plaas af en moenie nuwe diere inbring tensy hulle vry van bek-en-klouseer gesertifiseer is nie.
- Hou nuwe diere in elk geval in kwarantyn vir 30 dae.
- Dit help ook nie as jou buurman wat met beeste boer, nie biosekerheids-maatreëls in plek het nie. Praat met mekaar.
- Meld enige kliniese simptome soos mankheid of sere in en om die mond onmiddellik aan, nie omdat die wet dit vereis nie, maar ter wille jou eie voortbestaan.
- Wees waaksaam, veral nou dat die gevreesde siekte in die Oos-Kaap voorkom. Dit is moeilik om die vernietigende siekte onder vee in bedwang te hou – onder wild is dit onmoontlik.
Leer meer oor bek-en-klouseer hier: https://www.elsenburg.com/wp-content/uploads/2023/05/Foot-and-Mouth-Disease-FAQ-afr.pdf
Bronverwysings
Bek-en-klouseer onder beheer (2024) Netwerk24. https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/landbou/bek-en-klouseer-onder-beheer-20240411
Eastern Cape wildlife industry in dhe spotlight (2024) Veeplaas. https://www.wrsa.co.za/2024/04/18/eastern-cape-wildlife-industry-in-the-spotlight/
Foot and Mouth Disease outbreak report 28 March (2024). https://nahf.co.za/wp-content/uploads/2024/04/2024-03-28-FMD-Outbreak-Follow-up-Report.pdf
Genis, A. (2024) Bek-en-klouseer vir die eerste keer in die Oos-Kaap waargeneem. Landbou.com. https://www.landbou.com/landbou/nuus/bek-en-klouseer-vir-die-eerste-keer-in-die-oos-kaap-waargeneem-20240502
Genis, A. (2024) Bek-en-klouseer in Oos-Kaap sal nie woluitvoer ontwrig. Landbou.com. https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/diere/bek-en-klouseer-in-oos-kaap-sal-nie-woluitvoer-ontwrig-20240503
Phillips, L. (2024) Bek-en-klouseer: Bly waaksaam ondanks vordering. Landbou.com. https://www.landbou.com/landbou/nuus/bek-en-klouseer-bly-waaksaam-ondanks-vordering-20240409
SA se uitvoer van rooivleis en wol ‘op herstelpad’ (2024) Netwerk24. https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/landbou/sa-se-uitvoer-van-rooivleis-en-wol-op-herstelpad-20240408
Van Burick, N. (2024) Bek-en-klouseer in VS terugslag vir hele bedryf – RuVasa. https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/diere/bek-en-klouseer-in-vs-terugslag-vir-hele-bedryf-ruvasa-20240328