Categories: NuusPublished On: 31st August 2026

Van Studebaker-aartappels tot presisielandbou: Volhoubaarheidslesse uit die sandveld

By 8 min read
1545 words

aartappelboer

Boerdery in die Sandveld gaan oor aanpassing. Namate die streek se klimaat na ’n halfwoestyn verander, sal boere toenemend moet leer om saam met die plante, diere en mense van wie hulle afhanklik is, te boer, sê SW van Zyl van Sandveld Aartappels, die 2026 Syngenta Nasionale Aartappelboer van die Jaar.

Die Sandveld mag vandag sinoniem met aartappels wees, maar aartappelproduksie hier is betreklik onlangs gevestig en was aanvanklik baie primitief.

“Die Sandveld was eers ’n wêreld vir patat, pampoen, heerbone en kleinvee, veral bokke en ’n bietjie Afrikanerbees,” vertel Van Zyl.

“Aartappelboerdery het in die laat sestigerjare op ’n primitiewe en stadige manier begin. Aartappels is met die hand geplant en met ’n graaf en vurk uitgehaal. Die klasseringsproses het sommer op die land gebeur met ’n plaat en ’n pik waarna die aartappels in ’n 15 kg-sak gegooi is. Die aartappels is nie gewas of geborsel nie, dit was sommer ’n mooi produk as jy hom net uit ons sandgrond uitgehaal het. Eers was daar net die King George, ’n baie ou aartappelvariant, voor daar ook nuwe kultivars gekweek is.”

“My skoonpa, Koos Louw het elke Vrydagmiddag al die aartappels wat in die week geoes is, agter op sy Studebaker-bakkie gelaai – tot ’n honderd sakke – en dit Sandberg-stasie toe gery waar melkkanne ook daagliks met die trein geloop het. Elektrisiteit het die Sandveld eers in 1981 bereik. Dit was moeilike tye.”

Dit was terwyl Van Zyl saam met Louw gewerk het dat hy leer boer het. Hy het sy eerste 10 jaar op 35 hektaar geboer en plant vandag 550 hektaar.

“Ek het in die boerdery ingegroei,” sê Van Zyl. “Dit is die resultaat van een-tot-een-opleiding, praktiese kennis wat in die veld opgedoen is en om jou hande in die grond te steek.”

Met plaasname soos Wadrift, Louwsrus en Vanzylsrus gaan vasberadenheid, harde werk en ’n voortdurende strewe na sukses vir Van Zyl hand aan hand.

Maar die Sandveld waarin hy vandag boer, is besig om te verander.

“Ons as mense sal moet aanpas saam met plante en diere, want die toekoms bring ook nuwe uitdagings,” sê hy. “Ons inheemse plantegroei het baie verander oor die laaste vyf-en-twintig jaar, veral as gevolg van minder reën. Voorheen het ons inheemse bossiestroke gehad waardeur jy nie eers met ’n bakkie kon ry nie. Vandag voel ons die semiwoestyn is hier.”

Volgens Van Zyl het temperatuurveranderinge die afgelope vier tot vyf jaar al hoe vinniger begin intree. “Ons het al koue en storms in Augustus en selfs Desember gehad. In 2023 het ons ryp gehad. Aardverwarming beteken dat ons moontlik in die toekoms ryp sal vryspring, maar die kans bly altyd daar, veral in die Sandveld en Limpopo.”

“Vergeleke met die afgelope 10 jaar het die veld en temperature vanjaar laat voel asof ons aan die begin van Augustus reeds in die middel van Oktober was. Selfs die plantegroei in Augustus het reeds gelyk soos in Oktober en November. My skoonpa, wat 78 jaar oud is, sê dit is ’n eerste in die afgelope 50 jaar.”

AANPASSING WORD ’N DAAGLIKSE OEFENING

Sandveld Aartappels produseer dwarsdeur die jaar hoofsaaklik vir die varsmark. Aartappels word gewas, gesorteer en in verskillende verpakkingsgroottes voorberei – van grootmaat tot kleiner verbruikersverpakkings vir die kleinhandel.

“Ek glo dis waar ons ’n verskil maak – deur waarde toe te voeg tot ons eie produk, soos byvoorbeeld om kleiner verpakkings vir die kleinhandel te verskaf om aan verbruikers se veranderende behoeftes te voorsien.”

“Ons insetkoste nou in vergelyking met aan die begin van die jaar is R100 000 meer net as gevolg van brandstofprysverhogings,” sê Van Zyl.

Die Sandveld se unieke grond en klimaat maak beplanning nog belangriker. Die grond bestaan vir sowat 99% uit sand, terwyl die wind vriend én vyand kan wees.

“Binneland toe is daar die winterplase, sowat 30 km van die seeplase. Ons seeplase is waar jy van die aartappellande amper op die see kyk. Dis ons somerplase waar ons so 6 km van die see af boer. Daarom is dit tradisioneel koeler as byvoorbeeld in Clanwilliam en jy kan in die somer ook oes, danksy die wind wat van die see af kom, die Vaalwind. Hierdie koue Suidwesterwind, wat van Augustus tot Maart waai, kan die aartappelplant op ’n jong ouderdom seermaak.”

“Ons het drie tipes grond, waarvan die struktuur van die sandkorrels van plaas tot plaas verskil. Maar selfs op een sirkel van 10 hektaar kan jy drie tot vier verskillende grondtipes kry,” sê Van Zyl. “Sekere grond hou water en voeding beter. Daarom moniteer ons daagliks ons watergebruik met die hand.”

Volgens hom bly goeie gehalte water die belangrikste faktor vir die voortbestaan van die boerdery. “Ons beskou besproeiing as ’n wetenskaplike uitdaging. Só kan ons uitwerk presies hoeveel millimeter water om in die nag in ’n sekere segment van ’n sirkel te besproei en kan selfs die temperatuur van die volgende dag ook reeds in ag neem.”

Tegnologie word ook gebruik om probleme en moontlike siektekolle vinnig te identifiseer. Dekgewasse soos hawer help om die sandgrond te beskerm, terwyl harde grondpaaie brandstofverbruik kan verlaag.

Maar tegnologie is nie die enigste antwoord nie. Soms is dit steeds die boer wat deur die nag voor ’n witbord staan om siklusse en somme te laat klop – en dan die kundiges bel om te help.

SAAM BOER MET KENNERS

Van Zyl erken dat ’n boerdery van hierdie omvang nie alleen bestuur kan word nie. Hy maak staat op sy bestuurspan, mense wat al jare saam met hom werk, en die kundiges wat deel van die boerdery se besluitneming geword het.

Pieter Saaiman is al sowat 30 jaar by aartappelboerdery in die Sandveld betrokke en is ’n gesoute Senior Gewas Adviseur by InteliGro. As boorling van die streek ken hy die omgewing en sy uitdagings goed.

“Die wêreld is baie anders as 25 jaar terug. Daar is ’n plafon. As jy vandag volhoubaar wil boer, verg dit geweldig baie beplanning, selfs ’n jaar vooruit, want jy moet die heeltyd aartappels hê. Daar is nou net sowat vier boere in die Sandveld wat dwarsdeur die jaar oes.”

Saaiman is weekliks, en soms daagliks, saam met Van Zyl in die veld, waar hulle besluite oor plantvoeding, bemesting, water en weerstoestande neem. “Als moet fyn dopgehou word omdat ons dikwels baie vinnig op veranderende weeromstandighede moet reageer. Soms is daar byvoorbeeld slegs ’n 12-ure-vensterperiode om kunsmis toe te dien.”

Saaiman gebruik onder meer weerstasies om besluite te ondersteun en reageer waar moontlik proaktief op stres, onder meer met produkte wat die impak van hittestres op die plant kan beperk.

Maksimum residuperke (MRL’e) is nog ’n belangrike deel van die gesprek tussen adviseur en boer.  “Dit behels ’n voortdurende fyn balans om die plant lewend te hou én aan MRL-uitslae te voldoen,” sê Saaiman.

Saaiman sê Van Zyl se vermoë om vooruit te beplan, is een van sy sterkste eienskappe.

“SW van Zyl ís sinoniem met beplanning. Dit is ’n eer om deel te wees van SW se groeipad en hierdie welverdiende bewys van sy harde werk, toewyding en passie vir die bedryf.”

Die verhouding strek egter verder as die tegniese kant van boerdery. “Ons praat reguit met mekaar wanneer dit by besigheidsbesluite kom, maar by hom het ek ook geleer dat balans en veral jou gesinslewe belangrik is.”

Vir Van Zyl skep dit ‘n vertrouensverhouding: “Dit is vir my belangrik om vennootskappe te hê, want dit dien vir my as ’n verlengingsarm van my besigheid.”

Janco Cloete, InteliGro se Area Bestuurder vir die Wes-Kaap (Swartland en Sandveld), werk ook al jare lank met Van Zyl en Sandveldse Gewas Adviseurs saam, onder meer in ’n tegniese hoedanigheid. Hy beskryf Van Zyl se bereidwilligheid om saam te werk as kenmerkend. “Hy is altyd bereid om nuwe tegnologie en oplossings in die praktyk te toets, soos met die Aartappelmot-moniteringsprojek, tot voordeel van die breër bedryf.”

“Dit is noodsaaklik om nuwe oplossings uit te probeer, want peste soos die Tuta absoluta-mot is werklik kommerwekkend as ’n bedreiging vir voedselsekuriteit,” sê Van Zyl.

Die volhoubaarheid van aartappelboerdery in die Sandveld raak die hele bedryf én die land se voedselsekerheid, aangesien dit die enigste streek met heeljaarproduksie is. Waar daar voorheen vele produsente was, is daar vandag minder as 15 groot produsente oor.

DANKBAARHEID

Vir iemand wat tegnologie en presisie omarm, maak mense op hierdie plaas net soveel saak. Van Zyl, wat hier saam met sy vrou, Hannelie, en hul kinders ’n lewe bou, het honderde permanente werknemers in diens, waaronder bestuurders en sorteerders, asook nog honderde seisoenwerkers in die pakstore.

Van Zyl bly egter nederig. “Aartappels leer jou om nederig te wees. Dit is al wat ek nog my hele lewe leer en doen.”

Vir Van Zyl gaan dit uiteindelik daaroor om met die regte inligting en mense rondom jou vorentoe te beweeg – van prestasiestatistiek tot insette van markagente en die kleinhandel. Hy hoop produsente, gewaskenners en bedryfsorganisasies sal saam voortgaan om oplossings vir die toekoms te ondersoek en te vind.

In die pakstoor op Louwsrus hang sy rigtingwysers vir die boerdery én die lewe steeds prominent teen die muur:

“Hoe harder jy werk, hoe groter is jou kans op geluk.” En: “Kyk vorentoe en wees opgewonde. Kyk terug en wees trots. Kyk op en wees dankbaar.”

Dit is meer as net slagspreuke. Hierdie eenvoudige, maar kragtige woorde vat die ingesteldheid saam waarmee hy die lewe, boerdery en die toekoms aanpak.

Uitgereik deur: InteliGro

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0