Data alleen is nie genoeg nie: Produsente het insig en mense nodig vir beter besluite

4 Intelekt Solutions Moorreesburg trails
Van weerdata en klimaatinligting tot plaaslike proewe en gronddata: Die vraag hoe produsente data kan gebruik om doeltreffender besluite te neem, het onlangs op meer as een landbouplatform onder die soeklig gekom.
Die hoeveelheid weer- en landboudata wat vandag beskikbaar is, is groter as ooit. Die vraag is egter of dit produsente werklik help om beter besluite te neem. Moontlik – maar slegs as data in praktiese insig omskep word wat ’n produsent kan gebruik wanneer dit saak maak – of dit nou oor planttyd, kultivarkeuse, siektebestuur, voeding of die bestuur van ’n bepaalde klimaatgebeurtenis gaan.
Só sê Janet Lawless, Bemarkingsbestuurder van InteliGro, wat vroeër vanjaar by die bekendstelling van Pessl Instruments se projek in Stellenbosch om 100 000 weerstasies in Afrika te installeer, as spreker opgetree het.
Lawless is van mening dat produsente en maatskappye nog nie die volle potensiaal van weerdata ontsluit nie.
“Data op sy eie help jou nie om risiko te verminder nie; ingeligte besluitneming help jou om risiko te verminder. En dít is die gaping. ’n Produsent kan nie die weer, klimaat, insetpryse of kommoditeitspryse beheer nie. Wat wel beheer kan word, is hoe besluite daaromtrent geneem word.”
Volgens Lawless is alle moontlike hulpmiddels nodig vir ‘n langtermynbenadering om uiterste klimaatstoestande, maar ook kleiner klimaatsveranderinge binne hierdie toestande, die hoof te bied.
“In die data-industrie gaan ons toenemend data as geloofwaardige inligting moet deurgee. Dit sluit in om toegang tot data om te skakel in ’n praktiese hulpmiddel op plase om met besluitneming te help, met uitvoerbare insigte, soos ’n duidelike aanduiding wat sê: spuit of moenie spuit nie, en die rede daarvoor.
“Maar dit sluit ook nouer samewerking in – daar is ’n klomp verskillende insetverskaffers wat ’n rol speel, asook bedryfsorganisasies, wat reeds saamwerk, maar ook nog nouer kan saamwerk. Wanneer bedryfsliggame, universiteite en produsente nouer saamwerk en geloofwaardige inligting verskaf, kan ons hierdie inligting vir almal beskikbaar stel.”
Dr. Ilse Trautmann, ’n kenner op die gebied van datagedrewe boerdery en ’n lid van die adviesraad van Pessl Instruments se weerstasieprojek, sê ’n meer veerkragtige landboubedryf begin by ingeligte besluitneming.
“Ons moet aanpas – binne én buite die plaashek,” sê Trautmann, wat onder meer sewe navorsingsplase bestuur het in haar voormalige rol as adjunk-direkteur-generaal vir Landbounavorsing en Regulatoriese Dienste by die Wes-Kaapse Departement van Landbou.
“Die vermoë om die regte inligting op die regte tyd in ’n besluit te omskep, raak al hoe belangriker, veral in ’n landbouseisoen waarin klimaatonsekerheid, droogte en El Niño die speelruimte kleiner maak. Data alleen is nie genoeg nie – ons het ook mense nodig wat kan help om dit te verstaan en toe te pas.”
Lawless en Trautmann se boodskap is veral relevant vir droëland- en rygewasboerdery, waar ’n enkele besluit die verskil tussen wins en verlies kan beteken.
NEGE JAAR BRING ’N TERUGKYK OM VORENTOE BETER TE BESLUIT
Ingeligte besluitneming was juis een van die kernboodskappe tydens InteliGro se jaarlikse Intelekt Solutions-dag, wat deur 201 produsente bygewoon is tydens die 92ste Swartland-skou in Moorreesburg. Tydens die geleentheid het kenners gewys hoe die kombinasie van data, plaaslike proewe en grondinsigte produsente kan help om besluite te neem en doeltreffender resultate te behaal.
Die landboukundige Reinhardt Wessels, ’n Tegniese Bemarkingspesialis by InteliGro, het die resultate van Intelekt Solutions se 2025-koringproewe rondom Moorreesburg bespreek as ’n praktiese voorbeeld van hoe plaaslike navorsing besluitneming op die plaas kan verbeter.
Die Moorreesburg-proewe is reeds nege jaar gelede gevestig en is van die Wes-Kaap se langtermyn-wetenskaplike veldproewe. In die huidige opstelling word vyf koringkultivars, vyf swamprogramme en ’n onbehandelde kontrole in 130 blokke vergelyk. Die resultate word statisties verwerk en saam met data uit vier ander proefpersele in die Swartland ontleed.
“Wat in die verlede gebeur het, gee ons die data en lesse wat ons in die toekoms kan toepas,” sê Wessels. “Die waarde van historiese data lê daarin dat dit ons help om verder as die huidige seisoen te kyk.”
Die 2025-proewe het gewys hoe verskillende kultivars onder plaaslike omstandighede presteer. Hierdie inligting is waardevol omdat dit produsente help om keuses te maak wat by hul eie grond en produksietoestande pas, en om te verstaan hoe kultivarkeuse, omgewingstoestande en tydige bestuur siekteontwikkeling en opbrengspotensiaal kan beïnvloed. Septoria en bruinroes is spesifiek gemonitor, terwyl meerjarige en multilokaliteitdata help om te verstaan waarom dieselfde benadering nie noodwendig elke jaar of op elke plek dieselfde uitwerking het nie.
Dit is die soort kennis wat verder strek as navorsing en direk toegepas kan word waar dit die meeste saak maak: op die plaas.
’N GRONDMONSTER IS OOK NIE ALTYD DIE HELE VERHAAL NIE
Nog ’n voorbeeld hiervan het tydens die Swartland-skou na vore gekom toe die grondkundige Jan van Zyl, InteliGro Tegniese Bemarkingspesialis: Plantvoeding, verduidelik het hoe grondtoestande en plaaslike navorsing ’n verskil aan bestuursbesluite kan maak.
Sy bespreking van chemiese stratifikasie in minimumgrondbewerkingstelsels het gewys waarom grondmonsters en ’n goeie begrip van grondprofiele belangrik is. In sommige Swartland-gronde kan kalsium, kalium en fosfaat in die boonste 2,5 cm ophoop. Dit is ’n verskynsel wat volgens navorsing in sowat 30% van Swartland-gronde voorkom.
Die implikasie is dat ’n grondmonster nie noodwendig die hele verhaal vertel as dit van 0 cm tot 15 cm getrek word nie. Van Zyl het verduidelik hoe inkrementele monsterneming tot op 30 cm ’n beter begrip van die grond se samestelling kan gee en produsente kan help om meer ingeligte besluite oor grondbewerking te neem.
Dit gaan dus nie bloot daaroor om meer data te hê nie, maar om die regte vrae te vra en die inligting reg te interpreteer.
LAAT WINSGEWENDHEID EERDER AS DIE HOOGSTE OPBRENGS DIE DOEL WEES
Dr. Karen Truter, InteliGro Tegniese Bemarkingspesialis: Plantvoeding, het by die inligtingsdag die aandag gevestig op die verskille wat binne ’n enkele plaas kan voorkom.
Plaasvariasie beteken dat ’n benadering wat op een deel van ’n plaas goeie resultate lewer, nie noodwendig oral dieselfde uitwerking sal hê nie.
“Doelgerigte plaasproewe kan jou help om te bepaal wat onder jou eie omstandighede werk,” sê Truter, wat vroeër vanjaar haar PhD in Agronomie met ’n fokus op datagedrewe oplossings en plaasvlak-eksperimentering vir veldgewasse verwerf het.
“Die doel is nie noodwendig om die hoogste agronomiese opbrengs te behaal nie, maar om die beste ekonomiese opbrengs te vind. Dit vra ’n ander manier van dink. Die vraag is nie net hoeveel ’n gewas kan produseer nie, maar ook wat dit kos om daardie opbrengs te behaal en wat uiteindelik vir die produsent oorbly.”
“BEL ’N VRIEND”
Vir Lawless is dit hier waar die menslike kant van datagedrewe boerdery inkom.
“Een mens kan nie alles alleen doen nie. Namate tegnologie en datastelsels meer kompleks word, sal ons toenemend mense nodig hê wat data kan help interpreteer en dit met die werklikheid op die plaas kan verbind.”
Lawless sê doelgerigte plaasproewe verander die vrae wat produsente aan data stel. “Nie net: Wat het gebeur? nie, maar: Hoekom het dit gebeur, en wat kan ek volgende keer anders doen?”
Hulpmiddels beteken nie noodwendig ’n nuwe toestel of toepassing nie. Soms is die belangrikste eenvoudig om te weet wie om te bel.
“Bel ’n vriend soos ’n mede-boer of ’n kundige,” beveel Trautmann aan.
Sy meen produsente moet meer bewus wees van die kundigheid wat reeds binne landbou beskikbaar is – van van landboudepartemente, kundiges binne bedryfsorganisasies en georganiseerde landbou tot insetverskaffers, konsultante en ander produsente wat reeds met nuwe tegnologie werk. Die belangrike vraag is waar die inligting vandaan kom en of dit wetenskaplik gegrond, geverifieer en geloofwaardig is.
“Daar is ook waarde daarin om by ander te leer,” sê Trautmann. “Suksesvolle plaaslike voorbeelde kan help om te wys hoe ’n bepaalde hulpmiddel in die praktyk werk en of die koste daarvan sin maak. Boere is besigheidsmense. Die waarde van enige tegnologie moet uiteindelik sigbaar wees in die besluit wat dit help verbeter, asook die wins vir die produsent.”
VAN DATA NA INSIG
Lawless sê dit is die groter les wat uit die proewe soos dié op Moorreesburg na vore kom: “Data kan terugkyk. Dit kan patrone blootlê wat ’n mens nie in een seisoen raaksien nie. Dit kan help om verskille tussen lande, kultivars en bestuurspraktyke te verstaan.”
Sy beklemtoon dat data egter eers waardevol word wanneer iemand dit binne die konteks van ’n spesifieke plaas kan aanwend.
“Die toekoms van datagedrewe boerdery gaan dus nie bloot oor hoeveel data jy het nie. Dit gaan oor die vermoë om terug te kyk, vorentoe te dink, die regte vrae te vra – en te weet wanneer om ’n kenner te bel. Want uiteindelik boer niemand in isolasie nie.”
Lawless sê vir InteliGro is dit ook die waarde van die jaarlikse Intelekt Solutions-dag by Swartlandskou: “Dit gaan nie net oor die inligting wat aangebied word nie, maar oor die gesprekke wat daarna ontstaan, die vrae wat produsente vra en die praktiese kennis wat hulle saam plaas toe neem. Die beste resultate kom wanneer data, plaaslike navorsing en die kundigheid van mense wat die produsent en sy grond ken, saam gebruik word.”
Uiteindelik is dit waaroor winsgewende boerdery gaan: om die regte besluite te neem, met die regte inligting en met mense wat verstaan wat daardie besluite op die plaas beteken.
Bron: InteliGro