Categories: NuusPublished On: 27th November 2026

Wat R338 per ton vir ’n kleinboer by Villiers kan beteken

By 3 min read
567 words

ronaldplett-field-7708736_1920

Vir ’n klein sojaboonboer naby Villiers kan ’n laer oesprys minder geld beteken om rekeninge te betaal en weer te plant. ’n Aftrekking van R338 per ton klink dalk min, maar oor ’n hele oes kan dit ’n groot deel van die geld wat ná koste oorbly, wegneem. Dit is die aanduidende liggingsdifferensiaal vir Villiers met ’n enkele verwysingspunt by Driefontein in Gauteng. 

Die JSE se veelvuldigeverwysingspuntmodel, oftewel MRP, neem verskeie vraagsentrums in ag. Die enkelverwysingspuntstelsel gebruik een ligging. Graan SA en Phahama Grain Phakama (PGP) is bekommerd dat kopers die gevolglike liggingsdifferensiale kan gebruik om laer pryse aan boere te bied, selfs waar die bone naby verwerk word.

Die vergelyking wat in hierdie voorbeeld gebruik word, toon ’n differensiaal van R0 per ton vir Villiers onder MRP, teenoor ’n aanduidende R338 per ton onder die enkelverwysingspuntstelsel. Indien ’n koper die volle verskil aftrek, ontvang die boer R338 minder vir elke ton wat verkoop word.

Neem as voorbeeld ’n boer wat sojabone op 20 hektaar verbou. Teen ’n veronderstelde opbrengs van 2 ton per hektaar produseer die boer 40 ton. Die voorbeeld gebruik die gepubliseerde droëlandbegroting vir die Oos-Vrystaat en hou die oesprys en alle ander heffings onveranderd. Ná daardie ander heffings ontvang die boer R6 949 per ton onder MRP, teenoor R6 611 onder die enkelverwysingspuntstelsel.

Die Oos-Vrystaatse begroting stel direkte produksiekoste, soos saad, kunsmis en diesel, op R8 769 per hektaar, of R175 380 vir hierdie 20 hektaar. As vaste koste 20% van die totale koste uitmaak, verteenwoordig hierdie direkte koste die oorblywende 80%. Die totale koste beloop dus R219 225, wat R43 845 aan vaste koste insluit.

Voorbeeld vir 20 hektaar 
MRP 
Enkelverwysingspunt 
Liggingsaftrekking per ton
R0
R338
Inkomste uit die verkoop van 40 ton
R277 960
R264 440
Direkte produksiekoste
R175 380
R175 380
Vaste koste teen 20% van totale koste
R43 845
R43 845
Geld wat vóór belasting en
huishoudelike uitgawes oorbly
R58 735
R45 215

In hierdie voorbeeld ontvang die boer R13 520 minder vir presies dieselfde oes. Ná koste daal die geld wat oorbly van R58 735 tot R45 215. Dit is sowat 23% minder om die huishouding te onderhou, onverwagte uitgawes te dek en tot die volgende seisoen by te dra.

Daardie R13 520 is gelykstaande aan die direkte produksiekoste van sowat 1,5 hektaar volgens die Oos-Vrystaatse begroting. Die verlies daarvan kan beteken dat die boer volgende seisoen minder plant, of meer geld moet leen en meer rente moet betaal.

’n Kleiner oes maak die risiko duideliker. Gestel droë weer verlaag die opbrengs met 20%, van 2 tot 1,6 ton per hektaar. Die boer oes dan 32 ton pleks van 40. Indien die totale koste op R219 225 en die pryse per ton onveranderd bly, laat MRP slegs R3 143 ná koste oor. Met die aftrekking van R338 ly die boer ’n verlies van R7 673. Die aftrekking kan dus ’n moeilike seisoen in ’n verliesgewende seisoen verander. Hierdie voorbeeld veronderstel geen versekeringsuitbetaling nie en hou koste onveranderd, aangesien baie uitgawes reeds aangegaan is.

Op 6 November 2026 het die hof Graan SA se dringende interdikaansoek weens ’n gebrek aan dringendheid van die rol geskrap. Dit het nie die onderliggende prysgeskil besleg nie. Graan SA en PGP bly bekommerd oor moontlike verliese terwyl die hersieningsproses voortduur.

Hierdie kommer word versterk deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens se waarskuwing dat daar, weens El Niño, ’n groter waarskynlikheid van warmer en droër toestande oor groot dele van Suid-Afrika gedurende die somer van 2026/27 is.

Graan SA en PGP hou vol dat boere ’n billike geleentheid nodig het om genoeg uit hul oeste te verdien om aan te hou boer.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0