Bek-en-klouseer: Biosekerheid tel spoed op

foot-and-mouth-disease-cattle
Verskerpte bioskerheidsmaatreëls is besig om vrugte af te werp.
John Steenhuisen, Minister van Landbou, het pas aangekondig dat sy departement se verskerpte biosekerhedsmaatreëls deur sy departement besig is om bek-en-klouseer (BKS) aan bande te lê. Dit beteken dat dieresiektebeheergebiede (SBG’s) in twee provinsies binnekort opgehef kan word. Voorts is R72 miljoen se broodnodige entstof ook bestel om die veldtog teen die hoogs aansteeklike, aanmeldbare staatsbeheerde siekte verder hok te slaan.
Die erns van BKS, veral in die lig van Sjina, grootste aankoper van Suid-Afrikaanse rooivleis, se verbod op die invoer van beesvleis weens die voortslepende BKS-uitbrekings, het minister Steenhuisen genoop om die adjunk-direkteur-generaal van Landbouproduksie, Biosekerheid en Natuurlike Hulpbronbestuur by die stryd te betrek. Die kantoor is reeds in gesprek met veeartsenydienste en bedryfs-verteenwoordigers om die nodige BKS-beheermaatreëls te omskryf.
Die biosekerheid, naspeurbaarheid en rekordhouding van diere wat by veilings verhandel word en verwante bedrywe is ‘n bron van kommer en sal ook binnekort deur ‘n departementele skrywe aangespreek word.
Nog entstof
Fondse vir die aankoop van die entstof is aan Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) oorgeplaas en die volgende besending entstof behoort teen middel-Junie beskikbaar te wees.
Die aankoop van die entstof is ‘n belangrike stap in die departement se inentingstrategie en die departement beraam dat koste vir die entstof vir die 2025/2026 finansiële jaar R1,2 miljard sal beloop; elke dosis entstof kos R100.
Positiewe ontwikkelings in siektebeheergebiede
Die SBG’s in die Oos-Kaap en Limpopo behoort binnekort opgehef te word.
Die SBG in die Kouga- en Kou-Kamma-munisipale gebiede is sedert 26 Julie 2024 van krag met die doel om BKS-uitbrekings in die Oos-Kaap te beheer.
Altesaam 144 424 beeste is tydens ‘n aktiewe inentingsprogram ingeënt. Die laaste gevalle is in September 2024 aangemeld en ekstensiewe serologiese ondersoeke het bewys dat daar geen verdere besmette gebiede bestaan nie.
Minister Steenhuisen kan nou bevestig dat bewegings beheermaatreëls in die Oos-Kaapse SBG binnekort opgehef kan word.
Dieselfde geld die SBG in Limpopo wat sedert September 2022 van krag is om ‘n BKS-uitbreek by diptenks in die Vhembe-munisipale gebied te bekamp. Altesaam 23 034 diere is tydens twee rondes inentings by 34 diptenks gedoen, wat die uitbreking suksesvol hokgeslaan het.
“Hierdie positiewe ontwikkeling beklemtoon die doeltreffendheid van gesamentlike beheermaatreëls en die toewyding van alle betrokkenes. Die departement bly waaksaam en toegewyd daaraan om proaktiewe strategieë in plek te stel om dieregesondheid en die landbousektor te beskerm,” sê minister Steenhuisen.
KwaZulu-Natal
Daar is tekens dat ‘n aktiewe BKS-virus steeds in KwaZulu-Natal in omloop is en die SBG bly van krag.
Uitbrekings buite die SBG is suksesvol hokgeslaan en daar is geen aanduidings dat die siekte verder versprei het nie. ‘n Abattoir in die Vryheidgebied in die SBG word tans geoormerk vir die slag van diere uit besmette gebiede.
Die biosekerheid op individuele plase in die provinsie word tans evalueer met die doel om beheermaatreëls in ooreenstemming met die biosekerheidsrisiko’s in te stel.
Mpumalanga
BKS is in April 2025 op ‘n plaas in die Gert Sibande-munisipaliteit in Mpumalanga aangemeld en die uitbreking is verbind met ‘n veiling in KwaZulu-Natal.
Die eerste ronde waarnemings op omliggende plase het geen teken van BKS opgelewer nie; ‘n tweede ronde is onderweg.
Gauteng
Nuwe voorvalle van BKS is by ‘n voerkaal en op ‘n buurplaas in die Wesrand-munisipale gebied in Gauteng aangemeld. Aanvanklike inligting het ‘n veiling by Heidelberg impliseer, maar toetse het die teendeel bewys. Veeartsenydienste ondersoek tans naasliggende eiendomme en verwante plekke om die oorsprong en moontlike verspreiding van die siekte te bepaal.
Kliniese simptome van BKS is gedurende die tweede helfte van Mei onder kommunale beeste aan die Oos-Rand van Gauteng aangemeld. Toetse het die uitbreking bevestig. Epidemiologiese ondersoeke het begin om die siekte op naasliggende en verwante plekke te identifiseer.
Sjina se verbod
Sjina se verbod op die invoere van vleis en verwante produkte van gesplete-hoefdiere weens die voorkoms van BKS in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Gauteng is ‘n terugslag. Volgens die minister dui voorlopige inligting daarop dat die verbod slegs die uitvoer van beesvleis na Sjina raak. Die goeie nuus is dat protokol vir die uitvoer van wol in plek is en nie deur die verbod geraak word nie.
Wakker slaap
Eienaars van vee word opnuut daarop gewys dat BKS se inkubasietydperk tussen twee en veertien dae is en dat diere tydens die periode gesond mag lyk voordat hulle kliniese tekens van die siekte begin toon.
Vee wat nuut aangekoop word moet ten minste 28 dae van die bestaande kudde weggehou word, selfs al is ‘n gesondheidsertifikaat vir die diere uitgereik. Die sertifikaat en die 28-dae kwarantynperiode word sedert Oktober 2022 deur die wet vereis.
Biosekerheid almal se saak
Die minister het opnuut beklemtoon dat biosekerheid almal se verantwoordelikheid is. Die departement doen ‘n ernstige beroep op vee-eienaars landwyd om die beweging van vee sover moontlik te beperk. Vee-eienaars en veilingshuise moet waaksaam wees wanneer hulle vee afkomstig van BKS-gebiede aankoop.
Die Wet op Dieresiektes van 1984 verplig die eienaar of bestuurder van vee om alle moontlike maatreëls te tref om te voorkom dat hulle vee met enige siekte besmet raak en moet die verspreiding van enige siekte vanaf hulle eiendom na diere op ander eiendomme voorkom.
Noodsaaklike biosekerheidsmaatreëls sluit in dat die beweging van en of toevoeging van nuwe diere tot ‘n kudde beperk of tot ‘n later datum uitgestel moet word. Vee moet ook net aangekoop word van plase wat BKS-vry is, vee moenie deur ‘n heining met naburige vee kontak hê nie, plaasgrense moet in goeie orde wees, en toegang deur voertuie en persone moet sover moontlik beperk word.
Die Wet op Dieresiektes bepaal dat enige kliniese simptome soos uitermate kwyl en blase in die mond, diere wat mank loop of sere op die hoewe het, onverwyld by die naaste staatsveearts aangemeld moet word; siek diere mag onder geen omstandighede verskuif word nie. Die wet skryf sekere beheermaatreëls, soos isolasie en bewegingsbeheer, voor wat deur veeartsenydienste afgedwing kan word.