Categories: NuusPublished On: 12th February 2026

Bek-en-klouseer bevestig in Wes-Kaap, Noord-Kaap

By 3 min read
689 words

BKS MOsselbaai

Thuli Makala, ‘n kontrole dieregesondheidstegnikus werk met vee. (Bron: Verskaf

Die geringe hoop dat die laaste twee bek-en-klouseervrye provinsies in die land die gevreesde siekte gaan vryspring, is die week by die venster uit met die bevestiging van gevalle op ‘n suiwelplaas naby Hartenbos in die Suid-Kaap, en op ‘n plaas naby Kuruman in die Noord-Kaap.

Die Rooivleisprodusente-organisasie in die Noord-Kaap het bevestig dat bek-en-klouseer op ‘n plaas by Kuruman positief identifiseer is. Die plaas in die John Taolo Gaetsewe-distrik is onder kwarantyn geplaas en die polisie en staatsveearts maak seker alle beweging van diere word gemoniteer.

Suid-Kaap

Staatsveearts dr Leana Janse van Rensburg in die Suid-Kaap het bevestig dat beeste wat op die suiwelplaas by Hartenbos by Mosselbaai positief vir die siekte getoets het. Die plaas in onder kwarantyn geplaas.

Vee op twee plase langsaan die indeksplaas toon ook simptome en monsters uitslae van monsters wat vir ontleding gestuur is, word later die week verwag.

Volgens dr Janse van Rensburg is kennisgewings van die kwarantyn aan plase binne ‘n 10 km-radius van die plase vandag (12 Februarie ) uitgereik.

Sodra s yen haar reaksiespan die plaas besoek het, sal hulle vir ten minste drie dae geen ander plase besoek nie ten einde die risiko van besmetting en verspreiding van die virus tussen plase te voorkom.

“Vee op die plase waar die simptome voorkom sal ingeënt word om die verspreiding van die siekte te voorkom en die virale lading in die verdagte kuddes is beperk,” sê sy.

Biosekerheid en bewegingsbeheer

Volgens die verklaring bly biosekerheid op plase die boer se verantwoordelikheid. Boere word gewaarsku om geen ongemagtigde toegang toe te laat nie en om seker te maak dat hulle heinings in goeie toestand is om diere binne te hou.

Waar beeste ‘n openbare pad kruis om van een deel van die plaas na ‘n ander deel te beweeg, moet die oppervlak van die pad ontsmet word omdat voertuie wat die pad gebruik die virus verder kan versprei.

Streng bewegingsbeheer  binne die 10 km-radius kwarantyngebied bly van toepassing. Verskeie voltydse kontrolepunte is rondom die geaffekteerde gebied  aangebring om te verseker dat vee nie deurgesmokkel word en die siekte verder versprei nie.

Vervoerkontrakteurs word herinner om die nodige dokumentasie byderhand te hê, insluitend die eienaar se verklaring van die diere se gesondheidstatus by vertrek, die koper se onderneming om die vee ten minste 28 dae in afsondering te hou, en sertifikate wat onder Seksies 6 en 8 van die Veediefstalwet uitgereik word.

Boere word gemaan om hulle biosekerheidsmaatreëls op te skerp en alle bewegings van spleethoewige diere aan te meld by https://tinyurl.com/AnimalMovementApp

Middels wat vir ontsmettingsdoeleindes gebruik kan word:

Gebluste kalk (Kalsiumhidroksied) Werk goed vir die ontsmetting van grond, krale en skoene. Dit verhoog die pH tot vlakke waar die bek-en-klouseer-virus nie maklik kan oorleef nie.

Soda-as (Natriumkarbonaat) Werk goed vir die ontsmetting van besmette oppervlaktes soos betonvloere, toerusting en voertuigbande. Hanteer versigtig.

Bytsoda (Natriumhidroksied) Werk goed vir die ontsmetting van swaar besmette oppervlaktes, toerusting en dierebehuising. Voeg altyd die poeier by water en nie water by die poeier nie.

Huishoudelike asyn (Asynsuur, 4–8%) Werk goed vir die ontsmetting van toerusting en kleiner oppervlaktes waar organiese materiaal verwyder is. Oppervlaktes moet deeglik skoongemaak word voor toediening vir doeltreffende resultate.

Huishoudelike bleikmiddel (ongeveer 3% Natriumhipochloriet in Suid-Afrika)

Werk goed vir die ontsmetting van toerusting, skoene en harde oppervlaktes. Berei vars oplossings voor en gebruik dit onmiddellik aangesien die doeltreffendheid mettertyd afneem. Voeg altyd natriumhipochloriet by water, nie water by die konsentraat nie. Dit is bytend en kan sekere materiale beskadig.

Stalosan F Werk goed vir die ontsmetting van skoene, voetbaddens en stal- of behuisingsvloere. Doeltreffend in areas met hoë vog en organiese lading.

F10CL (algemene plaasontsmettingsmiddel) Werk goed vir die afspuit van voertuie, ontsmetting van toerusting, hande was en algemene biosekerheidsgebruik by plaasingange en fasiliteite.

Virkon S (ontsmettingsmiddel gebaseer op kaliumperoksimonosulfaat): Werk goed vir die ontsmetting van toerusting, voertuie, skoene, behuisingsfasiliteite en biosekuriteitstasies. Doeltreffend teen ’n wye reeks virusse wanneer dit volgens die vervaardiger se riglyne gemeng en toegedien word.

Besoek Tuinroete-distriksmunisipaliteit se webtuiste vir bek-en-klouseer: https://www.gardenroute.gov.za/document-category/foot-and-mouth-disease/

Meld verdagte gevalle van bek-en-klouseer insidente aan by die distriksmunisipaliteit se Noodoproepsentrum by 044-805-5071 of stuur ‘n WhatsApp na 081-709-5193

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0