AfriForum, Saai fokus op veediefstal, ander plaasmisdaad

Veediefstal_25 Junie 2025
Een van die gesteelde verse wat teruggevind is met die nuwe brandmerk duidelik sigbaar.
Die flink optrede van AfriForum se Delmas Valke-plaaswag wat gelei het tot die terugvind van meer as 60 beeste het boere aan die gons.
Die suksesvolle optrede het daartoe gelei dat van die koeie en verse wat deur veediewe aan ’n veilingkraal verkoop is, opgespoor is.
Opleiding lei tot sukses
AfriForum skryf die sukses toe aan die eerste aanlyn-opleidingsessie van die organisasie se opleidingsmodule in veediefstalbekamping wat die eerste keer op 18 Junie aangebied is. Die doel van die module is gemik daarop om veediefstal wat die land miljoene rande per jaar kos, aan te spreek.
Buurt- en plaaswaglede van oor die hele land het ingeskakel vir die opleidingsesseie oor verskeie kritieke aspekte in die bekamping en identifisering van die misdaad, insluitend veevervoerpermitte, vee-identifikasie, toneelbewaring, veedokumentasie en -veilings.
Misdaad word nie aangemeld
Die Delmas Valke se suksesvolle optrede het opnuut die fokus laat val op die feit dat talle plaasmisdade bie by die polisie aangemeld word nie.
Saai, wat familieboerderye ondersteun, het Maandag die tendens in ’n mediaverklaring bevestig. Volgens Saai veroorsaak veediefstalle, plaasaanvalle en onwettige jag ’n misdaadkrisis op die platteland wat onderskat word.
Dit blyk dat die werklike omvang van misdaad op plase en in landelike gebiede ernstig onderskat word veral omdat baie voorvalle nie by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld word nie.
Saai sê ’n vergelyking tussen statistieke van eksterne belanghebbendes en die polisie se databasis stem nie ooreen nie:
- Slegs 50% van alle veediefstal-insidente wat deur georganiseerde strukture aangemeld is, is op die polisie se datastelsel opgeteken.
- Slegs 15% van alle onwettige jag-insidente, veral dié waar honde gebruik word, is amptelik geregistreer.
- Vanaf Januarie tot Mei 2025 is 72 plaasaanvalle en tien plaasmoorde aangemeld.
Volgens Saai dui hierdie verskille daarop dat min misdaad in landelike gebiede aangemeld word. Dit lei daartoe dat misdaadtendense verkeerd interpreteer word en gevolglik word hulpbronne nie toegeken waar dit nodig is nie.
Saai het ‘n dringende beroep op boere, grondgebruikers en landelike gemeenskappe gedoen om elke misdaadvoorval by die polisie aan te meld, al word dit hoe gering geag.
Dit sluit plaasaanvalle of -moorde, vee- of wilddiefstal en stropery, onwettige jag met honde of ander metodes, onwettige betreding van eiendom, asook diefstal van kabels, sonpanele, waterpompe, gereedskap en enige toerusting wat vir plaasbedrywighede noodsaaklik is in.
Saai sê daar is ook kommer oor die gebrek aan amptelike saaknommers wat ondersoeke belemmer en die staat se vermoë om misdaad te bestuur, ondermyn.
“Misdaad wat nie amptelik bestaan nie, word nie ondersoek of teen opgetree nie,” sê Saai.
Definisies
Saai werk saam met eksterne werksgroepe en die polisie om te verseker dat die definisies en klassifikasies van landelike gebiede, plaasaanvalle en verwante misdade volledig en inklusief is.
Saai ’n omvattende dokument by die polisie ingedien wat aandag gee aan die volgende definisies:
- wat as ’n landelike gebied beskou moet word;
- wat kleinhoewes, kommunale grond, wildplase en nedersettings is;
- wie die slagoffers is – boere, plaaswerkers, inwoners, besoekers en diensverskaffers;
- en die belangrikheid van ekonomiese sabotasie, vernietiging van infrastruktuur en diefstal as elemente van plaasmisdaad.
Die doel hiervan is om die statistieke, prioritisering en hulpbrontoewysing van die polisie op grondvlak meer realisties en doelgerig te maak.
Saai het onderneem om die saak op nasionale vlak saam me ander rolspelers in die landbou te prioritiseer. Die organisasie beskou dit as ’n kern-verantwoordelikheid om familieboere en landelike gemeenskappe by te staan in hul reg op veiligheid, geregtigheid en volhoubare voedselproduksie.
Kontakbesonderhede
Kontak Leon Lourens, Saai se ontwikkelingskoördineerder, by 079-496-5095.