Categories: NuusPublished On: 24th March 2025

Aartappelboere baat by uitbreiding van aartappelmot-moniteringsprojek

By 3 min read
651 words

InteliGro 1 Sandveld aartappelmot-monitering

Boere in die Sandveld het oor die afgelope agt jaar, danksy samewerking met InteliGro en Syngenta, ‘n strategie ontwikkel om aartappelmot suksesvol te bestuur. Foto: Stefan Steenekamp/InteliGro

’n Langtermyn aartappelmot-moniteringsprojek in die Sandveld het oor agt jaar soveel sukses getoon dat dit nou na die noorde van Suid-Afrika uitgebrei word.

Aartappelmot (Phthorimaea operculella) is ‘n moeilike plaag om te beheer en kan beduidende  ekonomiese verliese vir aartappelboere veroorsaak. Tog het Sandveld-boere langtermyn-sukses behaal in die bestuur van hierdie plaag, danksy hierdie innoverende projek en die samewerking tussen InteliGro en Syngenta.

Die Sandveldse aartappelmot-moniteringsprojek het in 2016 ontstaan toe InteliGro ‘n netwerk van aartappelmot-lokvalle ontplooi het. Hierdie lokvalle bevat ‘n spesie-spesifieke feromoon wat manlike motte lok en vang, en sodoende aan produsente ‘n vroeë waarskuwing gee van toename in die mot-bevolkingsdruk.

“Vernuf, data en deurdagte bestuur van die motbevolking het oor die lang termyn merkwaardige resultate vir die boere in die Sandveld gebring,” sê Stefan Steenekamp, tegniese bemarkingspesialis, wat aan die hoof staan van InteliGro se nasionale aartappelstrategie.

“Tydens weeklikse besoeke aan produsente teken ons lokvalvangste aan van beide aartappelmot en tamatieblaarmyner (Phthorimaea absoluta, vroeër bekend as Tuta absoluta) op elektroniese platforms genaamd Cropwise en CropWatch. Die data word ge-analiseer, en die gesamentlike interpretasie van lokvalvangste, fisiese moniteringsdata en weer-inligting maak dit moontlik om meer akkurate voorspellings van mot-uitbrake te maak en beter strategieë vir oesbeskerming te ontwerp.”

Boer met minder plaagdoders en meer kundigheid

Stephan & Seun Boerdery, ‘n bekende familieboerdery in die Sandveld, het van die begin af aan InteliGro se aartappelmot-moniteringsprojek deelgeneem en merkbare verbeteringe opgemerk.

“Ons is baie tevrede met InteliGro se plaagmonitering van aartappelmot en P. absoluta  op ons lande,” sê Johan Stephan. “Hul gereelde en noukeurige velddata help ons om die optimale skedulering van plaagdoders te bepaal. Dit spaar kostes, verminder die aantal spuite wat ons toedien en voorkom skade. Hierdie diens gee ons gemoedsrus en help ons om opbrengs te verbeter.”

Steenekamp beklemtoon dat InteliGro ‘n geïntegreerde plaagbestuurstrategie volg, wat chemiese en biologiese oplossings met verbouingspraktyke soos bewerking en besproeiing kombineer. “Ons wil volhoubare boerdery ondersteun en klimaatsuitdagings pro-aktief aanspreek. Hierdie program bevorder beide ekonomiese voordele en ‘n kleiner omgewingsvoetspoor, wat aartappelboerdery vir toekomstige geslagte verseker.”

Stefan Steenekamp, ‘n tegniese bemarkingspesialis wat aan die hoof staan van InteliGro se nasionale aartappelstrategie. Foto: InteliGro

Volhoubaarheid verg samewerking en vernuwing

Alhoewel Suid-Afrika net 1% van die wêreld se aartappels produseer, glo Steenekamp dat die gewas beduidende potensiaal het om uit te brei.

“Aartappels is ‘n voedsame basiese voedingsbron wat ‘n belangrike rol in voedselsekuriteit en die stryd teen armoede kan speel.”

Suid-Afrika is in ‘n ideale posisie om verbruikers heeljaar van vars aartappels te voorsien, met ongeveer 52 000 hektaar aartappels wat jaarliks aangeplant word. Dit sluit die Sandveld in, waar aartappels heeljaar verbou word, terwyl ander provinsies seisoenaal produseer.

“Om volhoubaar te boer in droëland- en besproeiingsgebiede, moet ons omgewingsuitdagings soos klimaatsverandering, siektes en insekplae oorkom. Klimaatsfaktore soos temperatuur en humiditeit beïnvloed die lewensiklus van insekte direk,” sê Steenekamp. “Die bedryf het voorheen tot ‘n groot mate op produkte staatgemaak wat nou as CMR (karsinogenies, mutagenies en reproduktiewe ontwrigters) beskou word: hierdie tipe produkte word egter nou uitgefaseer, wat die hoeveelheid beskikbare hulpmiddels beperk. Dit is waar innovasie noodsaaklik is, en waar InteliGro met ander bedryfsorganisasies saamwerk om alternatiewe te vind.”

Resultate lei tot uitbreiding na die Noorde

Die sukses van die Sandveld-projek lei nou tot ‘n loodsprojek in die Verre Noorde van Limpopo. InteliGro werk saam met Aartappels Suid-Afrika (ASA) en Metos SA om motlokval- en weerstasiedata te kombineer in ‘n projek wat produsente sal help met pasgemaakte spuitprogramme na gelang van die aartappelmotbevolking in die omgewing.

“Ons ervaring oor die afgelope agt jaar beteken dat ons nou ons geïntegreerde plaagbestuur kundigheid met produsente in ander aartappelproduksie-areas in die land kan deel,” sê Steenekamp.

“In die toekoms sal InteliGro deur die kombinasie van historiese data en weervoorspelling selfs nog meer akkurate aanbevelings kan maak.”

Raak betrokke

InteliGro se Gewasadviseurs bied pasgemaakte oplossings vir elke plaas.

Belangstellende boere kan Steenekamp kontak by 066-472-3994 of stefans@inteligro.co.za.

Bron: InteliGro

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0