Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, NuusPublished On: 27th November 2024

2024: ‘n Vol jaar vir die landboubedryf

By 11 min read

25838

’n Terugblik op die afgelope jaar wys duidelik dat die Suid-Afrikaanse landbousektor steeds sy veerkragtigheid en vernuwing behou, ongeag die uitdagings wat dit in die gesig staar. 2024 het bewys dat die bedryf nie net oorleef nie, maar floreer in ’n steeds veranderende omgewing.

In sommige opsigte was dit ՚n gewone jaar met gewone dinge in die landboubedryf soos skoue, veilings, tegnologie en vooruitstrewende boere. Beurtkrag is in die tweede deel van die jaar gestaak, wat ՚n ligpunt vir boere was. Die weerpatrone was vreemder as ander jare met die laat koue tot in Oktober regoor Suid-Afrika. Hier is van die belangrikste hoogtepunte wat ons hierdie jaar gesien het.

Skoue en boeredae

Suid-Afrika het beslis van die grootste skoue en boeredae regoor die wêreld met die jongste, mees tegnologies gevorderde werktuie.

Rekordbywoning vir die 56ste NAMPO Oesdag – Bothaville

NAMPO is steeds een van die grootste landbouskoue en was vanjaar nog gro-ter met ՚n nuwe rekordgetal besoekers van 86 474. ՚n Nuwe rekordbywoning op een dag is vanjaar op Woensdag, 15 Mei, aangeteken met 25 505 besoekers en altesaam 865 uitstallers. 298 vastevlerkvliegtuie en 75 helikopters het deur die loop van die week by NAMPO geland. Dit was ook een van die warmste NAMPO Oesdae nog.

15de Sakeliga Kragdag

Van 8 tot 10 Augustus het Sakeliga KragDag Sentraal 2024 plaasgevind op Diamantvallei Landgoed, net 20 km oos van Pretoria. Hierdie jaarlikse ekspo, wat bekend is vir sy klem op alternatiewe energie en selfstandigheid, het weer besoekers van heinde en ver gelok, met ’n tema wat die kern van self- en gemeenskapsversorging uitbeeld: “Daar is ’n alternatief – neem self verantwoordelikheid en stel die voorbeeld.” Die ekspo het gewys hoe selfstandigheid en indiwiduele verantwoordelikheid die sleutels tot ՚n beter toekoms is.

90ste Swartlandskou op Moorreesburg

Die tweede-grootste landbouskou in Suid-Afrika het vanjaar in die hartjie van die Swartland sy 90ste bestaansjaar met meer as 20 000 besoekers gevier. Altesaam 386 beeste van sewe rasse het meegeding in die grootste vleisbeesskou in die Wes- en Suid-Kaap, en die perde-afdeling het 380 perde van drie rasse gelok.

NAMPO Kaap – Bredasdorp

NAMPO Kaap het vanjaar hulle vyfde bestaansjaar gevier met die tema: Landbou, die ruggraat van ekonomiese groei. Met 45 894 besoekers oor vier dae, het hierdie jaar se ekspo ՚n vertoonvenster van landbouvernuwing geword, wat deelnemers en besoekers die geleentheid gegee het om die nuutste tegnologie te verken, uitdagings in die bedryf aan te pak en saam te besin oor die toekoms van landbou.

Voortgesette tegnologiese ontwikkeling

Die gebruik van presisielandbou en tegnologiese integrasie het in 2024 ՚n noemenswaardige toename getoon. Meer boere het oorgeskakel na slim toerusting en sensor-tegnologieë wat help met alles van waterbestuur tot grondontleding. Hierdie tegnologie het boere in staat gestel om hoër opbrengste te behaal met minder hulpbronne en het die sektor in ՚n nuwe era van volhoubare praktyke ingelei.

Skoonenergielaboratorium vir AGCO Power

AGCO Power het sy skoonenergielaboratorium geopen. Die laboratorium is deel van ՚n belegging van 70-miljoen euro in die Linnavuori-aanleg in Nokia, Finland. Die laboratorium sal die ontwikkeling en toetsing van skeppende, volhoubare battery- en aandrywingsoplossings vir plaasmasjinerie ondersteun. Die Linnavuori-span wetenskaplikes en ingenieurs ontwikkel volgende geslag enjins wat aangedryf word deur lae- of nulkoolstofelektrisiteit en alternatiewe brandstowwe, soos waterstof en metanol, wat sal help om globale landbouvrystellings te verminder.

CNH brei netwerkverbinding uit met behulp van satelliete

CNH en Intelsat, operateur van een van die wêreld se gevestigde geïntegreerde satelliet- en aardkommunikasienetwerke, sluit ՚n samewerkings-ooreenkoms wat boere onbeperkte toegang tot die internet sal bied via ՚n satellietkommunikasiediens (SATCOM). Dit volg kort nadat John Deere sy samewerking met Starlink aangekondig het. Dit lyk asof boere nog ՚n keuse sal hê om in ag te neem wanneer hulle toerusting kies. Gegrond op ՚n memorandum van verstandhouding, sal Intelsat multibaan-internettoegang bied om CNH-toerusting wat op afgeleë plekke werk te bestuur. Intelsat se terminale is gehard en dien reeds kritieke nywerheidstoepassings, insluitend vir die weermag en lugdienste.

Klimaatbewuste boerderypraktyke

Met klimaatsverandering wat ՚n tasbare werklikheid geword het, het boere in Suid-Afrika aangepas deur meer veerkragtige boerderymetodes in werking te stel. Die jaar het ՚n groter klem gesien op herlewingslandbou en die aanplant van droogtebestande gewasse. Hierdie praktyke het nie net volhoubaarheid bevorder nie, maar ook ekonomiese sekerheid vir die toekoms.

Nuwe metaangastrekker van New Holland

Die New Holland T6.180-metaangastrekker is die wêreld se eerste 100% metaanaangedrewe produksietrekker, en is die sleutel tot die voltooiing van die deugsame siklus van die Energy Independent Farm-stelsel. Boere verbou gewasse en gebruik afvalprodukte om biometaan op te wek, wat die trekker aandryf, wat op sy beurt help om daardie einste gewasse te verbou. Hierdie trekker is by NAMPO Kaap bekendgestel.

Mielie-oes daal met 22,56%

corn field with sunset at countryside

Somergewasse: Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 12,724-miljoen ton gestel, wat 0,60% of 77 150 ton minder is as die vorige skatting. Die geskatte mielie-oes is 22,56% of 3,706-miljoen ton minder as die 2023-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, naamlik die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 79% van die 2024-oes produseer.

Die produksieskatting van witmielies is 6,007-miljoen ton, wat 1,27% of 77 150 ton minder is as die vorige skatting van 6,084-miljoen ton. Die oppervlakteskatting vir witmielies is 1,555-miljoen ha en die verwagte opbrengs is 3,86 t/ha.

Die hoofrede vir die afname in die produksieskatting vir witmielies is as gevolg van minder produsentelewerings (soos gerapporteer deur SAGIS), teenoor wat die komitee in September 2024 aangedui het. Wintergewasse: Die verwagte produksie vir koring is 1,965-miljoen ton, wat 1,34% of 26 000 ton meer is as die vorige skatting van 1,939-miljoen ton, terwyl die verwagte opbrengs 3,89 t/ha is.

Stroperverkope daal met 59%

Volgens die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie is trekkerverkope tot Oktobermaand vir 2024 nou ongeveer 23% laer as verkope verlede jaar en stroperverkope is nou ongeveer 59% laer as verlede jaar. Trekkerverkope van ongeveer 6 500 eenhede kan verwag word vir die jaar, met stroperverkope van ongeveer 250 eenhede vir die 2024-kalenderjaar. Oor die algemeen is sentiment in die mark versigtig optimisties. Boere met somergewasse wag op die oomblik vir aanplantreën.

Boere is vereer

TLU SA Boer van die Jaar

Wian Süllwald, ՚n 31-jarige boer van Bela-Bela in die Waterberg-distrik, is op 4 September tydens die TLU SA Kongres 2024 met groot trots aangewys as die TLU SA Jongboer van die Jaar 2024. Hierdie prestasie is besonder merkwaardig, aangesien Wian die eerste varkboer is wat TLU SA se Jongboerkompetisie wen.

Landbouskrywers SA Boer van die Jaar

Die Landbouskrywers SA het hulle toekenningsaand gehou. Hierdie geleentheid gee erkenning aan boere en landboukundiges wat ՚n groot rol speel in voedselsekuriteit in die land.

Lindi Botha, voorsitter van die Landbouskrywers SA, het ook die belangrikheid van die landboubedryf uitgelig.

Hier is die wenners:

Boer van die Jaar: André Brink

André Brink, die Landbouskrywers se Boer van die Jaar, en sy seuns, Rennie en Jeandré, boer by Groot Phesantekraal Boerdery naby Durbanville.

Die boerdery bestaan uit ses boer-derytakke: kleingraan, vee (wat ՚n Dohne Merino-skaapboerdery asook Hereford-beeste insluit), wyndruiwe, ՚n voerfabriek, gasvryheidafdeling en ՚n nie-landboutak (boudepartement) wat help om die plaas se risiko te versprei.

Die hele Brink-familie is betrokke in die dag-tot-dag operasies. André is verantwoordelik vir die algehele bestuur van die boerdery en identifiseer nuwe geleenthede vir uitbreidings en waardetoevoeging. Rennie bestuur die kleingraan- en wynafdelings, terwyl Jeandré op die vee-afdeling en die voerfabriek fokus. André se vrou, Ronelle, hanteer die bemarking, administrasie en uitvoer van die wyn. Hulle probeer om op die voorpunt van nuwe tegnologie en boerderymetodes te bly, mits dit funksioneel is, waarde toevoeg, asook kostedoeltreffend gebruik word om grondgebruik optimaal te bestuur en natuurlike hulpbronne in stand te hou.

Nuwe toevoeging tot kommersiële landbou vir die jaar: Thulani Magida

Landboukundige van die Jaar: Prof Driekie Fourie

Die provinsiale kandidate was:
•Gauteng Boer van die Jaar: Michael Fysh
•Wes-Kaap Boer van die Jaar en wenner: André Brink
•Noordwes Boer van die Jaar: Jozeph du Plessis
•KwaZulu-Natal Boer van die Jaar: Egon Zunckel
•Gauteng Nuwe toevoeging tot kommersiële landbou: Betty Nyambi
•Wes-Kaap se Nuwe toevoeging tot kommersiële landbou: Sheena Paulus

•Oos-Kaap Nuwe toevoeging tot kommersiële landbou en wenner: Thulani Magida
•Gauteng Landboukundige van die Jaar en wenner: Driekie Fourie
•Vrystaat Landboukundige van die Jaar: Stephan De Groot
Wes-Kaap se Landboukundige van die Jaar: Dr Erna Blancquaert

Dr Erna Blancquaert was in ons vrouemaand-uitgawe en is onlangs aangewys as een van vier vlagdraers vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die vier uitnemende indiwidue in die wynbedryf is in Februarie tydens die jaarlikse wyn-oesherdenkingsgeleentheid op Groot Constantia in Kaapstad, die eerste wynplaas in die land, vereer as rigtingwysers vir toekomstige geslagte.

Erna is in die Paarl gebore en het daar grootgeword. Sy was in William Lloyd Primêr en het aan Klein Nederburg Sekondêr gematrikuleer. Sy en Maarten is twaalf jaar getroud en hulle het ՚n agtjarige seun, Josh. Sy woon in Stellenbosch en is voltydse dosent en navorser in Wingerdkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, sowel as nagraadse toesighouer vir Meesters- en PhD-studente in wingerd en wynkunde, asook volhoubare landbou en biotegnologie

AgriSA vier 120 jaar

AgriSA herdenk 120 jaar van leierskap in die Suid-Afrikaanse landbousektor. Terselfdertyd vier Suid-Afrika 30 jaar van demokrasie en die ontwikkeling en groei wat oor die afgelope drie dekades behaal is. Sedert die aanbreek van Suid-Afrikaanse demokrasie en die deregulering van die landbousektor, het die sektor geweldige groei beleef. “Oor die afgelope 20 jaar was die landbousektor se gemiddelde groeikoerse ver bo die res van die ekonomie.”

Ten spyte van die wisselvalligheid inherent aan landboumarkte en politieke onsekerheid, het Suid-Afrika die afgelope jaar rekordbeleggings in verkope in landboutoerusting en vernuwing gesien. Dit word geïllustreer deur die gemiddelde toename in mielie- en sojaboon-opbrengste, wat die afgelope dekade met 30% gestyg het.
AgriSA is gereed om ՚n leidende rol te speel om ՚n welvarende landbousektor in Suid-Afrika te verseker.

Veilingshoogtepunte

Huwitz Farming breek rekord

Hierdie was ՚n besonderse jaar vir Huwitz Farming. In Oktober het hulle die nasionale rekord gebreek vir die duurste Boran-koei en- kalf wat nog verkoop is. BH 18-545 Jasmine en BH24-273 Jozini het vir R2,5-miljoen verkoop.
Dit was egter nie hulle grootste prestasie vir die jaar nie. In Augustus het hulle die Boran-bul, Cyclone, vir ՚n allemintige R8-miljoen verkoop. Dit was duurste bul van al die rasse.

Miljoene vir boerbokke

Abraham Burger van Lukas Burger Boerbokstoet, die verkoper, en William Smit van VEA Stud Breeders, saam met Formula One, die SA Boer-bokram wat VEA vir R1,05-miljoen gekoop het. (Bron: Verskaf).

՚n Stoet-boerbokram, genaamd Formula One, is in April vir R1,05-miljoen verkoop. Die ram is deur die Lukas Burger-Boerbokstoet van Griekwastad aan William Smit van VEA-stoettelers op Bonnievale verkoop. Al het Formula One die hoogste prys nog vir ՚n boerbokram behaal, het die Lukas Burger-Boerbokstoet vroeër vanjaar een van hulle ander ramme, genaamd Poker, aan die Passano Boerbokstoetery verkoop vir R1-miljoen.

Internasionale uitbreiding en nuwe markte

AGT Foods Africa koop Pannar se droëboonsaad

In Februarie is aangekondig dat AGT Foods Pannar so droëboonsaadmaatskappy gekoop het. Die koop het reeds in November 2023 begin wortels skiet. Hoewel die maatskappy nie op soek was na produkte om hulle reeks uit te brei nie, het Brian Lever, besturende direkteur van AGT Food Africa, vertel dat hulle in Maart 2023 deur Pannar genader is en daarna besluit het om ՚n aanbod te maak. Die aankoop van die droëbonesaadpakket pas perfek in by AGT Foods Africa se sakemodel. Hulle geriewe is groot genoeg om die bone by hulle struktuur- en produksietydlyn in te skakel.
AGT Foods Africa koop, produseer, verpak en voorsien peulgewasse, stapelvoedsel en voedselbestanddele. In Suid-Afrika verskaf AGT Foods Africa graan, rys en pasta, peulgewasse en gespesialiseerde gewasse wat lensies, ertjies, kekerertjies en kanariesaad insluit, asook voedselbestanddele soos peulvrugmeel, proteïne, stysels en vesels wat aan groothandelaars en kleinhandelswinkels asook AGT Foods.

Africa se aanlynwinkel voorsien word. Vanjaar het hulle bone en droëbone ook by die lys voeg. Die Suid-Afrikaanse Mededingingskommissie het aan die einde van November 2023 die groen lig gegee vir die koop om deur te gaan, maar dit het met voorwaardes gekom: AGT Foods Africa moet ՚n sekere hoeveelheid bonesaad aan die departement van Landbou voorsien teen ՚n verlaagde prys. Hulle sal ook vir ՚n tydperk van drie jaar bystand, soos landboudienste, aan ՚n sekere aantal bestaansboere moet lewer. AGT Foods Africa het sommer dadelik ingespring en in die 2024-plantseisoen reeds begin aanplant vir saadproduksie. Boere kan nou verseker wees dat hulle gehalte droëboonsaad ook kan aankoop by AGT Foods Africa.

Vooruitsigte vir die toekoms

2024 was vol uitdagings, maar ook gevul met oorwinnings wat wys dat Suid-Afrikaanse boere aanpasbaar en vasberade is. Soos ons na die toekoms kyk, is daar hoop dat hierdie positiewe neigings voortduur en die grondslag lê vir ‘n sterker, meer volhoubare landbousektor. Hierdie jaar het ongetwyfeld gewys dat die landbougemeenskap nie net opstaan in die gesig van probleme nie, maar nuwe paaie skep na ‘n belowende toekoms.

Namens ProAgri se redaksionele span ons opregte dank aan al ons lesers, ons klante en aan elke boer wat hierdie reis in die landboubedryf opwindend hou!

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0