Categories: NuusPublished On: 10th September 2026

Koring by ’n kruispad: Voedselveiligheid begin by ’n lewensvatbare plaaslike produsent

By 6 min read
1146 words

kaipilger-wheat-2549245_1280

Suid-Afrika se koringbedryf staan by ’n kruispad – en wat vandag op die plaas gebeur, raak uiteindelik byna elke huishouding in die land.

Dit was die kernboodskap uit vandag se Agri in Gesprek: Wintergrane – Koring by ‘n Kruispad by NAMPO Kaap, waar produsente, ekonome en rolspelers uit die waardeketting oor die toekoms van plaaslike koringproduksie gepraat het.

Die gesprek het gefokus op ’n eenvoudige maar dringende vraag: Hoe verseker Suid-Afrika dat plaaslike koringproduksie oor die lang termyn lewensvatbaar bly, terwyl produsente toenemend deur hoë produksiekoste, klimaatsrisiko, swak opbrengste op kapitaal, ‘n oneffektiewe prysvormingsmeganisme en strukturele markuitdagings geknyp word?

Vir die publiek is die belang daarvan veel groter as die plaashek.

Koringgebaseerde produkte word deur ongeveer 96% van Suid-Afrikaanse huishoudings verbruik en verteenwoordig sowat 12% van die gemiddelde huishoudelike voedselmandjie. Ongeveer 90% van die bevolking maak gereeld op koringgebaseerde voedsel staat, met brood verreweg die belangrikste produk en verantwoordelik vir ongeveer die helfte van huishoudelike besteding aan koringprodukte.

Koring is daarom nie bloot ’n landboukommoditeit nie. Dit is deel van Suid-Afrika se basiese voedselinfrastruktuur.

Terselfdertyd is dit ’n bedryf met ’n groot ekonomiese en maatskaplike voetspoor. Die koringwaardeketting dra na raming R70 miljard tot R75 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by en ondersteun ongeveer 90 000 werksgeleenthede deur boerdery, insetverskaffing, verwerking, handel, vervoer en verwante dienste.

Maal- en bakbedrywighede alleen ondersteun sowat 55 000 formele werksgeleenthede, terwyl die breër handelsbedryf wat aan koringprodukte gekoppel is, ongeveer nog 25 000 werksgeleenthede ondersteun. Die formele bakbedryf lewer na raming ongeveer R27 miljard in bruto toegevoegde waarde.

Die Wes-Kaap, wat ongeveer 55% van Suid-Afrika se koring produseer, dra ’n besondere deel van hierdie ekonomiese en maatskaplike waarde. Na raming word sowat 27 000 formele werksgeleenthede in die provinsie deur die koringwaardeketting ondersteun.

Koringproduksie hou ook ’n veel groter ekonomiese netwerk aan die gang: kunsmis, gewasbeskerming, brandstof, elektrisiteit, versekering, vervoer, berging, finansiering en landboumasjinerie. Hierdie indirekte aktiwiteite dra na raming ongeveer R23 miljard in toegevoegde waarde by, terwyl ongeveer R5 miljard se insetverwante ekonomiese aktiwiteit en 10 000 tot 12 000 werksgeleenthede direk kwesbaar kan wees indien plaaslike produksie verder afneem.

Dit is waarom die huidige situasie nie bloot as ’n produsenteprobleem beskou kan word nie.

Suid-Afrika produseer reeds slegs ongeveer die helfte van die koring wat die land verbruik. Terselfdertyd is die oppervlakte onder koring op die laagste vlak in amper ‘n eeu (97 jaar), terwyl die 2026-oes tans op ongeveer 1,7625 miljoen ton geraam word – alreeds 7,5% laer as in 2025.

In die Wes-Kaap word produksie tans op ongeveer 874 500 ton geraam, 105 600 ton minder as in 2025, met die Swartland wat vanjaar onder ernstige reënvaltekorte en potensiële oesverliese gebuk gaan en moontlik nog verder negatiewe impak gaan bydra tot die syfer.

Die uitdaging is daarom nie óf Suid-Afrika koring moet invoer nie – invoere is reeds deel van die plaaslike voorsieningsmodel. Die groter strategiese vraag is hoeveel plaaslike produksiekapasiteit Suid-Afrika bereid is om te verloor voordat die land se blootstelling aan internasionale markte, wisselkoerse, logistieke ontwrigting en voedselvoorsieningsrisiko onaanvaarbaar word.

Produsente lewer kwaliteit – maar word nie daarvoor vergoed nie
Een van die belangrikste kwessies wat tydens die gesprek uitgelig is, is die groeiende wanbalans tussen die kwaliteit van Suid-Afrikaanse koring en die waarde wat daarvoor terugvloei na die plaas.

BFAP se ontleding wys op ’n sogenaamde “kwaliteit-prys-paradoks”: plaaslike koring het in 2024/25 ’n sowat 39% hoër bakwaarde en 14% hoër maalwaarde as vergelykbare ingevoerde koring getoon, terwyl die plaaslike graadgeweegde SAFEX prys ongeveer 9%%, of sowat R700 per ton, laer was as die geweegde ingevoerde prys.

Dit stel ’n fundamentele vraag aan die waardeketting: As Suid-Afrika van produsente verwag om in beter genetika, kwaliteit en produksietegnologie te belê, moet die mark daardie waarde ook kan herken en beloon.

Die huidige prysvormingsmeganismes, gradering, basispremies, tariefstelsel en liggingdifferensiale moet daarom beter met die werklike maal- en bakwaarde van plaaslike koring belyn word.

Dit is veral relevant in ’n jaar soos 2026. Met ’n kleiner Wes-Kaapse oes en ernstige druk in die Swartland moet liggingdifferensiale wat op normale graanvloei gebaseer is, nie bloot meganies in ’n abnormale kortoesjaar toegepas word sonder dat die werklike aanbod- en vraagomstandighede heroorweeg word nie.

’n Tarief wat te laat reageer, beskerm nie wanneer beskerming nodig is nie

Suid-Afrikaanse koringprodusente kompeteer met ingevoerde produk uit internasionale produksie-omgewings waar produsente dikwels aansienlike staats- en ander ondersteuning geniet.

Die koringtarief bly daarom ’n noodsaaklike instrument om ’n meer gelyke speelveld te skep.

Maar die tarief moet voorspelbaar, reaktief en betyds wees. Ondersteuning wat eers realiseer nadat die kommersiële skade reeds plaasgevind het, bereik nie sy beleidsdoel nie.

Die gesprek het benadruk dat Suid-Afrika nie beskerming teen mededinging soek nie. Plaaslike produsente wil met internasionale produsente kan meeding – maar hulle behoort nie terselfdertyd teen die ondersteuningstelsels van buitelandse regerings te moet meeding nie en beperk word gegewe kwaliteit vereistes.

Klimaatsrisiko kan nie onbeperk op die plaas bly lê nie

Die huidige droogtetoestande in die Swartland wys ook hoe vinnig produksierisiko op die produsent se balansstaat beland nadat insette reeds aangegaan en produksiebesluite reeds geneem is.

Dit is waarom Graan SA voortgaan om vir ’n bekostigbare en werkbare oesversekeringsmodel en gedeelde risikomeganismes te pleit by owerhede.

Oesversekering moet nie as “boerehulp” gesien word nie. In ’n strategies belangrike voedselbedryf is dit ekonomiese infrastruktuur wat produksiekapasiteit, werksgeleenthede, landelike gemeenskappe en uiteindelik voedselvoorsiening help beskerm.

Tegnologie vandag bepaal die oes van môre

Suid-Afrika moet terselfdertyd vinniger toegang tot verbeterde genetika, nuwe kultivars en produksietegnologie moontlik maak.

Die land moet die uitstekende kwaliteit waarvoor plaaslike koring bekend is, erken, maar regulering en kultivarvrystellingsprosesse moet nie so beperkend raak dat opbrengsvordering, produsentekeuse en internasionale mededingendheid daaronder ly nie.

Die uitdaging is om kwaliteit én innovasie te beskerm – nie die een ten koste van die ander nie.

Regering het nou ’n geleentheid om op te tree

Graan SA meen die huidige Artikel 7-proses oor die koringbedryf bied ’n belangrike geleentheid om van diagnose na oplossings te beweeg.

Die proses ondersoek onder meer handel- en tariefbeleid, doeltreffendheid in die waardeketting, berging, infrastruktuur, logistiek, voedselveiligheid en innovasie.
Die uitkoms moet nou lei tot praktiese, bewysgebaseerde aanbevelings wat plaaslike produksiekapasiteit beskerm, die tariefstelsel meer responsief maak, prysvorming en differensiale beter met werklike markwaarde belyn, toegang tot tegnologie versnel en ’n werkbare vennootskap oor gewasrisiko en oesversekering skep.

Suid-Afrika hoef nie te kies tussen die verbruiker en die produsent nie. ’n Gesonde plaaslike koringbedryf is in albei se belang.

Vir laer-inkomste huishoudings is dit besonder relevant: koringgebaseerde produkte verteenwoordig ongeveer 15% van voedselbesteding onder die armste huishoudings. Voedselbekostigbaarheid bly daarom krities.

Maar bekostigbare voedsel kan op die lang termyn nie gebou word op ’n plaaslike produksiebasis wat ekonomies uitgeput word nie. Die impak van koring prys op die uiteindelikke produkte is klein en beperk.

Die waarskuwing uit NAMPO Kaap is duidelik: Suid-Afrika moet nie wag totdat plaaslike koringproduksiekapasiteit verdwyn voordat daar opgetree word nie.

Koring voed Suid-Afrika, ondersteun duisende werksgeleenthede, hou landelike ekonomieë aan die gang en voed ’n omvangryke vervaardigings- en voedselbedryf.
Om daardie bydrae te behou, moet dit steeds ekonomies moontlik wees om koring op Suid-Afrikaanse lande te plant.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1