Categories: NuusPublished On: 25th April 2025

2024/25 was ‘n harde leermeester vir gewasse

By 5 min read
959 words

Vroee uitloop voor oes op mielies en selfs op sojabone en sonneblom waargeneem die afgelope seisoen – SYNGENTA

Vroee uitloop voor oes op mielies en selfs op sojabone en sonneblom waargeneem die afgelope seisoen.

Die 2024/25 somerrygewasseisoen was vol verrassings. Daar was beide te veel en te min reën. Siektes en insekte wat gewoonlik mielies en sojabone met rus laat, het produsente hoofbrekens besorg. En selfs nou, hier aan die einde van die produksiesiklus, sit stropers en tapkarre in nat en modderige lande vas terwyl oestyd in Suid-Afrika veronderstel is om droog te wees.

“Dit was ‘n vreemde seisoen,” sê Hanlie Geldenhuys, landboukundige by Syngenta Suid-Afrika. “Ten spyte daarvan is die oesskatting nog steeds positief, alhoewel ons bekommerd is oor die impak van skade wat moontlik opgedoen is toe dit so warm en droog was tydens mielies se bestuiwingfase. Produsente het alreeds probleme soos baardknyp (silk jamming), onvolledige bestuiwing en koppe wat terugtrek of knyp, aangemeld. Met die nat toestande tydens strooptyd, kom Diplodia en Fusarium kopvrot, asook  vroeë uitloop op die kop veral waar koppe nog regop staan en tot 20% vog of minder afgedroog het, redelik wyd voor.”

Wisselvallige reënval was aan die hart van die afgelope seisoen se uitdagings. Planttyd was droog en alhoewel goeie reën in Desember geval het, het ‘n warm, droë tydperk vroeg in Januarie aangebreek wat agt tot 10 weke geduur het. In die eerste helfte van Maart het die hemele oopgegaan en verspoelings het selfs in plekke soos Thabazimbi voorgekom. “La Niña het gerealiseer soos voorspel was,” sê Geldenhuys, “maar ongelukkig nie in harmonie met wanneer mielies water nodig het nie.”

Die baie nat weer later in die seisoen het grysblaarvlek laat floreer en vele produsente is onkant betrap en het te laat begin spuit. As gevolg hiervan, gaan siektedruk hoog wees wanneer die nuwe seisoen aanbreek omdat siektes soos grysblaarvlek en noordelike blaarskroei op oesreste oorleef. Voorkoming gaan dus nog belangriker as gewoonlik wees.

Dieselfde geld vir onkruide. Droë toestande vroeg in die seisoen het die effektiwiteit van vooropkomsonkruiddoders aan bande gelê, terwyl lande wat laat in die seisoen en tydens oestyd nat is, dit moeilik maak om onkruide te verwyder. Produsente sal dus die nuwe seisoen binnegaan met lande wat nie skoon is nie. Hierdie plantmateriaal verskaf huisvesting aan siektes en insekte, en sal massas sade in die lente vrystel.

Op die onderwerp van insekte, noem Geldenhuys dat 2024/25 se plae landbouers en landboukundiges dronkgeslaan het. Kommandowurms en sprinkane was erg, maar ons het ook snaakse goed gesien: lentekewers was ‘n groot probleem en opportunitiese insekte, veral vrugtetorre, het ook aan mielies gevreet. In KZN, Limpopo en Noordwes het mieliestreepsiekte so erg toegeslaan dat boere vinnig moes speel om die bladspringerdruk af te kry.

Die pad vorentoe

“Hierdie seisoen het ons herinner dat ons met mielies en sojabone boer, maar vir die weer moet beplan,” sê Geldenhuys. “Goeie nuus is dat danksy die laat reën, ons die nuwe seisoen met nat profiele gaan begin en dit is altyd voordelig vir ontkieming. Slegte nuus is dat die reënvalpatroon veroorsaak het dat die seisoen uit die staanspoor gebuk sal gaan onder siekte- en insekdruk wat hoër as gewoonlik kan wees en in gedagte gehou moet word dat nat gronde ook ’n buffer is teen lae grondtemperature gedurende die wintermaande.”

Produsente moet ook die onverwagte verwag. Antraknose, ‘n siekte wat selde op sojabone voorkom, was in 2024/25 ‘n wydverspreide probleem en sommige produsente vermoed dat dit hulle graangraderings benadeel. Laasgenoemde is waarskynlik ook aan die nat toestande te wyte.

Waarskynlik die waardevolste les van die afgelope seisoen, is dit dat risikobestuur die kern van elke boerdery moet wees. Ons het weer gesien hoe die weer se wispelturigheid altyd op een of ander manier tot voordeel van die gewas se natuurlike vyand is, of dit nou die siekteveroorsakende patogeen, die insek of die onkruid is.

Sulke seisoene, hoe finasieël verwoestend hulle ookal is, is ongelukkig nodig sodat aanpassings gemaak kan word na gelang van die lesse wat geleer is. Retrospeksie is daarom die eerste stap van riskobestuur. Wat het gebeur, en hoe kan ek my boerderystrategie aanpas om ’n herhaling vry te spring?

“Voorkoming is beter as genesing” is heeltemal van toepassing en kan bereik word deur, onder andere:

  • Kultivarseleksie. Kan jy diversifiseer om kultivars in te sluit wat weerstandigheid het teen een of meer van die siektes wat die afgelope seisoen prominent was? Hou egter in gedagte dat sulke kultivars dikwels effens laer opbrengs lewer as die meer vatbare kultivars en dat kultivars ook verskil in terme van sonbrandsensitiwiteit. Gesels met jou agent oor die opsies voor jy besluit.
  • Plaagbeheer. Voorkomende swamdoderbespuitings werk altyd beter as om ‘n siekte wat reeds posgevat het, te probeer beheer. Dieselfde geld vir onkruide, siende dat die gewas se eerste paar weke krities is vir sy ontwikkelingspotensiaal. Vooropkomsonkruiddoders, saam met na-opkomsprodukte, voorkom dat onkruide te groot raak vir effektiewe beheer en beperk ook onkruiddruk later in die seisoen. Doeltreffende onkruidbeheer vereis egter ‘n langtermynplan om die saadbank wat op ‘n land is, te bestuur deur te keer dat nuwe saad gestort word. Dit behels nie net deur die gebruik van onkruiddoders nie, maar sluit ook oorwegings soos grondbewerking, gewasrotasie, ry-wydtes en plantpopulasies in.
  • Besin oor hoe implemente tussen plase beweeg. Weerstandige onkruide is besig om toenemend ‘n probleem in Suid-Afrika te word. Produsente moet dus uiters versigtig wees om nie onkruidsaad van een plaas na ’n ander oor te dra nie.

Ongeag planne wat in plek is, gaan produsente in 2025/26 nog nader as gewoonlik aan hul gewasse moet leef, sê Geldenhuys.

“Ons sê altyd produsente se voetspore moet in hulle lande lê en in tye soos dié wanneer dinge vinnig verander en toestande erg onvoorspelbaar is, is die beste – en enigste – benadering om jou vinger op die pols te hou sodat enige veranderinge dadelik opmerk word. My laaste stukkie advies is moenie huiwer om die kundiges te kontak nie – samewerking gaan ons leuse moet wees.”

Bron: SYNGENTA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0