Categories: Artikels, KunsmisPublished On: 7th September 2022

Yara se Chrisna Heuer: “Landbou is ՚n plek vir groei én dames”

By 4 min read
686 words

Chrisna – White bg

“Dit was werklik ՚n voorreg en ՚n seën van dag een af om in landbou te wees,” vertel Chrisna Heuer, bemarkingsbestuurder in Suid-Afrika vir Yara Africa Fertilizer (Edms) Bpk, ՚n internasionale plantvoedingsmaatskappy.

“Ek sê altyd ek moes geduld op aarde kom aanleer, en daarom het ek in landbou beland. Jy plant nie vandag ՚n saadjie en eet more die vrug nie; jy moet geduldig wag, getrou water en kos gee en toekyk hoe hy stadig groei. Soms is daar baie om te verduur totdat die plant reg en ryp is om gepluk en geniet te word.”

Chrisna het op ՚n plaas in die OosVrystaat grootgeword saam met haar ses susters. “Plaaslewe assosieer ek met my ouma se koolstoofoond vol boerbeskuit en oupa wat gesels oor die landerye laatmiddag. Ek dink aan die geraas van ՚n melkmasjien en die roep van tarentale,” onthou sy haar kinderjare. Deesdae woon sy in die Boland.

Tydens haar skooljare het sy by die graansilo gewerk en by haar pa geleer graan gradeer. “Na skool het die LNR-Klein-graaninstituut op Bethlehem vir my ՚n pos as navorsings-assistent aangebied. Terwyl ek in hulle diens was het ek my honneursstudies aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi.

“Daarna het ek besigheidsintelligensie ingesamel en gekoördineer vir ՚n internasionale maatskappy met betrekking tot afstandswaarneming en die ontwikkelling van produkte. Dit was gemik om in die landbousektor op grondvlak ՚n verskil te maak deur verskeie gewasse se ontwikkeling te bevorder. As landboukundige het ek die voorreg gehad om op grondvlak die risiko van afstandswaarneming van gewasse te beperk.

“As ek terugkyk oor my loopbaan in die landboubedryf, dan dink ek eerste aan hoe ek dit saam met my pa kon begin as klein dogtertjie op die plaas in die Oos-Vrystaat; die geleenthede wat alles daarmee saamgegaan het en hoe naby die veld, son opkoms en die reuk van bewerkte lande my aan my Skepper laat voel.”

Chrisna het die advertensie vir die pos van bemarkingsbestuurder by Yara gedurende 2017 teëgekom. Sy het dadelik daavoor aansoek gedoen en nog nie een dag teruggekyk nie! Sy werk reeds sedert 2018 by Yara Africa Fertilizer. “Dit was net die regte tyd, die regte plek en die geleentheid – vir my en vir Yara,” vertel sy.

Na haar mening doen Yara verskriklik baie om vroue in landbou ՚n geleent-heid te gee vir bevordering en om gehoor te word.

Landbou benodig vroue omdat daar vele dimensies is wat met vrouwees saamkom. “Die vele dimensies van menswees is vir my saamgevat in die wonder van vrouwees. Ons droog trane af terwyl ons skaterlag, ons is saggies tog ferm,” verduidelik Chrisna.

Sy is dankbaar dat vroue in landbou as voorbeelde gebruik kan word van mense wat doen waarvan hulle hou en voluit lewe. “Landbou bied my die geleentheid om ՚n buitengewone lewe te leef. Dit hou my beker vol.”

Chrisna voel daagliks geïnspireer deur haar Skepper en die mense wat Hy oor haar pad laat kom het, soos oom Danie Bruwer van Knersvlakte. “Hy is ՚n mentor in al die opsigte van die Woord, en dan natuurlik die bestuur by Yara, wat ՚n voorbeeld in alles is – in waardes, menswees, besigheid, geloof en menseverhoudinge,” voeg sy by.

Wat Chrisna die meeste van landbou geniet, is die gesindheid wat mense in die bedryf teenoor mekaar het. “Wanneer jy by ՚n boerevereniging aankom, is daar iemand wat jy by ՚n vorige geleentheid iewers anders ontmoet het,” lag sy. “Dieselfde met simposiums, skoue, boeredae, die hele bedryf; jy het oral vriende.”

Oor haar eie toekoms sê sy net: ‘Watch this space’, maar sy sal graag ander wil help om hulle drome uit te leef. Sukses, volgens haar definisie, is egter nie ՚n bestemming nie, dit is deel van die reis. As jy vrede daarin vind, gaan jy ՚n buitengewone lewe hê!

“Ek wil graag ander vroue in landbou aanmoedig om nooit op te hou droom nie. Moet ook nie jou vrouwees opgee nie – dit is kosbaar, jy is kosbaar. Doen net altyd jou beste,” sluit sy af.

Vir meer inligting, besoek www.yara.co.za, stuur ՚n e-pos na infosa@yara.com, of skakel (+27)21-877-5300.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0