Categories: Artikels, Vee en Wild, VoedingPublished On: 4th November 2025

Yara en Oranjeriviervoere: ’n Venootskap wat werk

By 4 min read
856 words

DSC02795

Yara Animal Nutrition se P21 word by ORV se voermengsel gevoeg.

Die verhaal van Oranjeriviervoere (ORV) is een van harde werk en deursettingsvermoë. Wat in 1982 as ’n klein voeraanleg deur die Botha-broers begin het, is vandag een van die grootste voersmaatskappye in Suid-Afrika.

Vir die afgelope nege jaar speel Yara Animal Nutrition (Yara AN) ook ’n belangrike rol in die suksesverhaal – en ORV maak steeds staat op Yara AN se produkte.

Die begin van ’n nalatenskap

ORV word vandag bestuur deur ses lede van die Botha-familie, maar Johan Botha, die eienaar van ORV, vertel dat die onderneming by sy oorlede broer, Nico, begin het.

“In die 70’s kon ’n mens nie lusern by boere koop nie omdat dit gereguleer was,” vertel Johan. “Nico, wat toe op Kareehoek in die distrik Britstown geboer het, het besef hy sou self ’n plan moes maak vir veevoer.”

Hy het 30 morg (sowat 26 ha) grond teen die rivier gekoop en lusern geplant, wat hy dan aangery het na Kareehoek. Daar het hy vir hom ’n klein voeraanleg opgerig. In 1982 het hy begin om sy voer kommersieel te verkoop, en Johan het in 1989 by hom aangesluit.

Die vennootskap tussen die broers was die begin van groot dinge vir ORV. Ná Nico se dood in 2011 het Johan die besigheid oorgeneem en saam met sy kinders voortgebou aan ORV se nalatenskap.

In 2015 het hulle net buite Prieska in die Noord-Kaap ’n nuwe, moderne voeraanleg opgerig. Vandag verskaf hulle voer aan boere regoor Suid-Afrika en selfs in omliggende Afrika-lande.

ORV se wye produkreeks

Rocco de Villiers, bemarkings- en logistieke bestuurder by ORV, verduidelik dat hulle self besproeiingsboere is. Die lusern en mielies wat hulle produseer, word in die veevoerfabriek gebruik.

“Ons het ’n redelik uitgebreide produkreeks wat fokus op herkouers soos skape en beeste. Ons het ook onlangs ’n volstruisreeks bekend gestel,” sê hy.

Hulle skaapprodukte sluit afrondings- en gespesialiseerde produkte in, soos lamkruip, lakterende ooi en boerbokkorrels. Hierdie produkte word met groot sukses regoor Suid-Afrika en in die buurlande versprei.

“Wat tot ons voordeel is, is dat ons ons eie proefkraal en voerkraal op die plaas het. Die produkte wat ons vervaardig, word dus ook deur ons self getoets en gebruik,” sê Rocco.

Hulle het ’n kommersiële wol-Merino-kudde, en vir dié kudde gebruik hulle uitsluitlik hul eie produkte.

Die volstruisprodukte dek die hele groeikurwe van die dier – van aanvangskorrels en groeikorrels tot afronding, slag, onderhoud en broeikorrels.

“Ons volstruisprodukte word versprei na die Klein-Karoo, Oudtshoorn-omgewing, Fraserburg en omliggende gebiede waar grootmakers dit gebruik,” sê Rocco.

Nege jaar saam met Yara

Johan Botha is verantwoordelik vir die operasionele bestuur van ORV se veevoerfabriek, asook die aankoop van roumateriale.

“Roumateriale is ’n kritieke deel van ons besigheid. Ons moet op ons verskaffers kan staatmaak om gehaltegrondstowwe te lewer, sodat ons weer gehalteprodukte aan ons kliënte kan bied,” verduidelik Johan.

Volgens hom is daar baie P21-produkte op die mark, maar ORV het nog altyd konstante kwaliteit van Yara AN ontvang – en dit is hoekom hulle steeds by Yara AN bly.

“Dit gee ons die gemoedsrus dat ons net die beste aan ons kliënte kan lewer. Yara AN se produk staan vir ons uit omdat die voginhoud baie laag is en die fosfaat opneembaarheid baie hoog. Uiteindelik beteken dit dat die fosfaat wat ons in ons produkte insluit, wel deur die dier benut word,” sê hy.

Vir ORV is dit belangrik dat die balans tussen makro- en mikrominerale in hul voer reg is. Indien dié balans versteur word, kan dit die dier se groei, vrugbaarheid en gesondheid benadeel. Die tipe fosfaat wat gebruik word, speel dus ’n kritieke rol – veral op groenvelde waar fosfaattekorte voorkom. Fosfaat beïnvloed ook speenpersentasies, wat beteken dat diere swaarder lammers kan speen.

Yara Kynofos 21: Kwaliteit wat hou

Jaco Noeth, Yara Animal Nutrition se verteenwoordiger in die Noord-Kaap, stap al ’n lang pad saam met ORV.

“Dit is vir Yara AN ’n groot trots om met ORV geassosieer te wees. Hulle is een van die kliënte wat ons Kynofos 21, meer algemeen bekend as P21, gebruik,” sê Jaco.

Kynofos 21 is Yara AN se Mono Dikalsium fosfaat (MDCP) en een van hul topverkopers. Dit word plaaslik by hul fabriek in Umbogintwini, Durban vervaardig.

“Een van die groot voordele is dat ons Kynofos 21 plaaslik vervaardig met ’n aaneenlopende produksie proses. Dit beteken ons kwaliteit bly konstant met minimale variasie,” sê hy.

Dit is ook wat Kynofos 21 so uniek maak – die variasie tussen vragte is minimaal. Elke vrag word vergesel van ’n analisesertifikaat wat bevestig dat dit deur hul laboratorium goedgekeur is.

ORV se boerbokkorrels gereed om versprei te word.

“Een van die belangrikste voordele vir ons kliënte is dat Kynofos 21 ’n hoogs opneembare fosfaat is. Die fosfaat bron wat in hul produkte gebruik word, is dus werklik tot voordeel van die eindverbruiker.”

Yara Animal Nutrition is reeds meer as 60 jaar in die bedryf. Hulle beskik oor dekades se navorsing, wat weer tot voordeel van hul kliënte strek. Yara het verteenwoordigers in elke provinsie in Suid-Afrika. Om meer oor hul produkte te leer of in kontak te kom met ’n verteenwoordiger stuur ‘n e-pos na animal.nutrition.sa@yara.com of besoek gerus hul webwerf by www.yara.co.za/animal-nutrition

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1