Wit en rooi mooi getooi by Sugar Sale se tweede Brahman-veiling
Vanjaar se Sugar Sale Brahman-veiling het plaasgevind op 6 Mei 2023 by Fire and Wine Arena in Zwavelpoort, Pretoria.
Dit is die eerste jaar dat beide die rooi en wit Brahmane op ‘n veiling aangebied is.
“Ons is ‘n groep telers wat dieselfde filosofie en uitkyk op beeste deel en besluit het om saam ‘n veiling te hou. Slegs vroulike diere en ‘n paar uitsonderlike stoetbulle is op hierdie veiling aangebied. Ons beoog om te konsentreer op ‘n tweede veiling in die nabye toekoms, miskien ‘n Sugar Sale-bulveiling met kommersiële Brahman-koeie en -bulle net voor die teelseisoen,” sê Paul Pienaar, rasvoorsitter van Sugar Sale.
Die telers in die groep het grootgeword met Brahmane, so die ras is feitlik in hulle are. “Die beeste floreer, en die ras het die ondersteuning van almal wat betrokke is gewerf. Ons voel ‘n verbintenis met hierdie beeste, en mede telers en kopers is gretig om van hierdie genetika te bekom,” erken Paul.
Selfs te midde van die huidige ekonomiese krisis kon hulle ‘n suksesvolle veiling hou waarop hulle met reg kan trots wees. “Ons het baie goeie ondersteuning tydens die veiling gehad, beide plaaslik en op die aanlynplatform deur Meerkat,” sê Paul entoesiasties.
”Fire and Wine Arena is goed geskik vir veilings. Beeste kan uitgestal word vir besoekers en kopers om te besigtig terwyl hulle droog, koel en uit die wind en weer. Hierdie lokaal maak dit baie gerieflik en aangenaam om veiling te hou, nie net vir ons as verkopers nie, maar vir kopers ook,” voeg Paul by.
Die vraag na kwaliteit Brahman-stoeterye is groot, en selfs grootskaalse boere sien die behoefte raak om hulle kuddes uit te brei en te verbeter.
“Ons sien daarna uit om volgende jaar weer ons veiling te hou en beide ons gereelde en nuwelinge terug te verwelkom. In die toekoms beoog ons om voort te gaan om die mark te voorsien van diere van hoë gehalte en goeie genetika,” sluit Paul af.
Die afslaer was Steven Mathews en die bemarker was Cona Bemarking.
Bulle
5 Top Brahmanstoetbulle is aangebied en behaal ’n gemiddelde prys van R136 400.00. Die duurste bul van Burnie en Kosike Staal, Bos-Blanco, Lot 37, word vir R190 000 verkoop.
Vroulike diere:
Slegs streng gekeurde geregistreerde diere is aangebied.
1 Oop vers is verkoop en behaal ‘n gemiddeld van R 32 000.00 van Attie and Glenda Koen, Witwarm Brahmane.
11 Koeie en kalwers behaal ‘n gemiddeld van R54 333.00. Die hoogste prys van R 75 000.00 word behaal vir diere van Burnie en Kosike Staal, Bos-Blanco Brahmane, Lot 70.
14 Dragtige koeie verkoop teen ‘n gemiddeld van R 43 083.00. Die hoogste prys van R 70 000.00 word behaal vir die diere van Burnie en Kosike Staal, Bos-Blanco Brahmane, Lot 62 en van Ting Braithwaite, Damview Farming, Lot 57.
3 Dragtige koeie en kalwers (3-in1) behaal ‘n gemiddeld van R 52 000 .00. Die hoogste prys behaal was R 80 000 van Burnie en Kosike Staal, Bos-Blanco Brahmane, Lot 63.
46 Dragtige verse behaal ‘n gemiddeld van R 45 771.00. Die hoogste prys behaal was R 150 000 van Burnie en Kosike Staal, Bos-Blanco Brahmane, Lot 44.
Kliek hier om na die video te kyk op ProagriMedia.