Winsgewende skaapboerdery deel 30: Mineraalbehoeftes van weidende diere

sheep-medicine
Die uitgestrekte natuurlike weiveld van Suid-Afrika vorm tans nog die basis vir die produksie van vleis en wol in omgewingsomstandighede wat geweldig wissel ten opsigte van grondeienskappe, reënval en temperatuur.
Produksie- en reproduksietempo, asook die gesondheid van weidende skape en beeste, word dikwels benadeel deur die voorkoms van
marginale (subakute) mineraaltekorte en/of wanbalanse wat ՚n betekenisvolle ekonomiese effek op diereprestasie kan hê voordat enige kliniese (sigbare) tekens van tekortsimptome waarneembaar is.
Die weidende dier is hier die brandpunt in ʼn ingewikkelde ekologiese stelsel en sedert die vroeë jare was dit die strewe van veeboere, veekundiges en veeartse om deur middel van watervoorsiening, kampe, die voorsiening van aanvullende voeding en die bestryding van parasiete en siektes, die bees en die skaap in staat te stel om so doeltreffend moontlik weidingsmateriaal om te sit in vleis, melk, wol en ander produkte wat daarmee gepaard gaan.
Weidende diere verkry hulle minerale deur die inname van weiding, water, grond en lekke. Natuurlike grasweidings in die grootste deel van
Suid-Afrika het vir die grootste deel van die jaar ՚n tekort aan fosfaat en die tekort is veral akuut in die winter.
Alhoewel droë winterweidings oor die algemeen gebrekkig is aan minerale, is dit wenslik om daarop te let dat die gaping tussen behoefte en voorsiening nie noodwendig dan die grootste is nie. Droë winterweidings is ook erg gebrekkig aan beskikbare energie en dit bring dikwels produksie òf tot ʼn stilstand òf vertraag dit aansienlik. In sulke omstandighede mag totale mineraalbehoeftes laer wees.
Spoorelementbenodigdhede van skape
Die spoorelementbenodigdhede van skape word onder meer bepaal deur die fisiologiese produksiestadium (byvoorbeeld groeiend, onderhoud, dragtig, lakterend, ensovoorts); massa, groeitempo, voerinname, produksiestelsel, ensovoorts.
՚n Tekort aan een of meer van die noodsaaklike minerale en vitamines kan die volgende negatiewe invloed op diereprestasie hê:
Mangaantekort lei tot swak besetting weens vertraagde hittesiklusse (ook stilhittes) en ՚n laer eiselafskeiding (ovulasie); swak spermgehalte; afname in geslagsdrang; aborsie; afname in fetusgroei; vertraagde groei; swart hare wat roesbruin word; pynlike en geboë gewrigte van die voorbene.
Sinktekort lei tot afname in aptyt en groeitempo; swak voeromsetting; abnormale spermvorming (spermatogenese); vertraagde testikelontwikkeling; lae libido; resorbsie van embrio’s (dus swak besetting); wol en hare val uit; skape eet hulle eie wol; skurfte van die
vel (parakeratose); vrotpootjie en vitaminien A-tekort.
Seleentekort lei tot embrionale vrektes (dus swak besetting); stilhittes; aborsie; vroeë geboortes met swak lewensvatbaarheid; toename
in lamvrektes; maagwerk; swak groei (lamkwyning); swak wol- en haarproduksie; wit- of vlekspiersiekte (spierdistrofie); vassit van nageboorte en verlaagde weerstand teen siektes.
Kopertekort lei tot bloedarmoede; swak groei; swak semengehalte; aborsies; lae vrugbaarheid; afname in wol- en haarproduksie; maagwerk; lamkruis; verlies aan wol- en veselkarteling; ontkleuring van wol en hare (swart hare word roesbruin of grys); afsterwing van embrio’s en lae lewensvatbaarheid van lammers met geboorte.
Kobalttekort lei tot afname in aptyt; vermaering; swak groei; bloedarmoede; lusteloosheid; oormatige afskeiding by neus en ore; afname in melk-, wol- en haarproduksie; afname in bronstigheid (estrus); fetale afsterwing; aborsie; doodgebore lammers; pasgebore lammers neem langer om op te staan en te suip; verhoogde lamvrektes; tranerige oë en skubberige ore.
Jodiumtekort lei tot vergrote skildklier; aborsie; lammers wat swak, dood of sonder wol gebore word; verlaagde besetting, wol- en
haarproduksie; toename in lamvrektes; vrotpootjie; verlaagde voerinname en afname in groei.
Fosfortekort lei tot lae groeitempo; ragitis (krom bene); afwykende aptyt of pika (byvoorbeeld vreet van bene); lusteloosheid; verlaagde voerinname, vrugbaarheid, groei en melkproduksie.
Magnesiumtekort lei tot magnesiumtetanie (krampagtige spiersametrekkings); verlies aan aptyt; vertraagde groei en verlaagde
vrugbaarheid.
Vitamien A-tekort lei tot ՚n afname in voerinname; lae groeitempo; lae besetting; vertraagde hitteperiodes; aborsies; swak en doodgebore
lammers; abnormale semen; afname in geslagsdrang (libido); vassit van nageboorte; blindheid; verhoogde vatbaarheid vir siektes
weens ontsteking van die slymvliese van die asemhalingsorgane, oog, geslagsorgane en spysverteringskanaal (lei tot maagwerk).
Vitamien E-tekort lei tot vassit van nageboorte en verlaagde weerstand teen siektes.
Bepaling van spoorelementstatus
Die beste metode om die spoorelementstatus van diere te bepaal, is deur ՚n lewerontleding, hoewel sommige spoorelemente (soos
seleen en jodium) ook in die bloed bepaal kan word. Bloedbepalings moet egter met groot omsigtigheid vertolk word, want homeostatiese
kontrolemeganismes in bloed kan spoorelementvlakke hoog hou terwyl die spoorelementreserwes feitlik al uitgeput is. Die bepaling van die
spoorelementstatus van weidende diere en die gebruik van hierdie inligting om lekke te formuleer, is die mees aangewese opsie.
Aanvullings
Spoorelementtekorte en/of -wanbalanse kan reggestel word deur die aanvulling van lekmengsels of lekblokke wat spesiaal geformuleer
is om die tekorte op ՚n natuurlike wyse aan te vul. Die voorsiening van spoorelemente via lekke is die mees ekonomiese metode om
spoorelementtekorte aan te vul.
Hoewel spoorelemente regdeur die jaar aangevul behoort te word, het veral jong, aktiefgroeiende groenweiding ՚n tekort aan spoorelemente en daarom word dit algemeen aanbeveel om spoorelemente gedurende die reënseisoen in die vorm van ՚n soutfosfaat-spoorelementlek te verskaf.
Dit is ook hoogs aan te beveel om vitamien A en E op dieselfde tydstip as die spoorelemente te spuit omdat hulle in sinergisme werk met onderskeidelik sink en seleen.
Lekinname kan ook gestimuleer word deur lekbakke naby die water te plaas; in skaduweegebiede, veral gedurende warm tye van die jaar of in dié deel van die kamp waar die beste weiding is. Lekbakke moet ook laag genoeg wees sodat lammers daaruit kan vreet en lekbakke moenie verder as 300 m uitmekaar geplaas word nie.
Voldoende lekbakvreetspasie is ook belangrik om die aanbevole lekinname te verkry. Een fosfaatlekblok vir ՚n maksimum van vyftig skape of 2,5 cm lekbakvreetspasie per skaap kan as ՚n praktiese metode in die geval van fosfaatlekke gebruik word.
Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.
ProAgri is dankbaar dat ՚n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.