Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 27th November 2023

Winsgewende skaapboerdery deel 24: Die belangrikheid van kruipvoeding

By 6 min read
1056 words

portrait-lovely-lamb-staring-front-cattle-barn_342744-432

Kruipvoeding is ononderhandelbaar en ‘n moet vir winsgewende skaapboerdery. Weens die uiters doeltreffende voeromsetting van die jong lam, moet alles moontlik gedoen word om die lam volgens sy maksimum groeipotensiaal te laat groei.

Indien lakterende ooie op ‘n lae voedingspeil is, piek hulle melkproduksie op ongeveer twee tot drie weke ná lam, terwyl as hulle op ‘n hoë voedingspeil is, bereik hulle ongeveer een week later hulle piekmelkproduksie.

Na piekmelkproduksie neem die melkproduksie progressief af, terwyl die lam se voedingsbehoeftes toeneem.

Wanneer die ooie op hulle piekmelkproduksie is, groei hulle lammers feitlik teen hulle maksimum genetiese groeipotensiaal (> 350 – 400 g/lam/dag). Die fisiologiese vermoë van ‘n lam om die ingenome melk en/of voer na vleis om te sit, is afhanklik van sy ouderdom.

Tabel 1: Invloed van ouderdom op die voeromsettingsdoeltreffendheid (kg voer ingeneem per kg massatoename) van lammers.

Hoe jonger die lam, hoe beter en doeltreffender is sy biologiese prestasies in terme van groeitempo en voeromsetting (Tabel 1). Om dus hoër winste te genereer, moet skaapboere hierdie uitstekende voeromsettingsvermoë van jong groeiende lammers maksimaal benut.

Verander al die punte na kommas – die tabel is ‘n jpg so ek kan nie verander nie.

Hoekom kruipvoer?

Op ongeveer vier tot ses weke ouderdom kan tot 50% van die lam se voedingsbehoefte deur bronne (kruipvoer en gras) anders as die ooi se melk voorsien word wat die belangrikheid en noodsaaklikheid van kruipvoeding beklemtoon. Nadat die ooi haar piekmelkproduksie bereik het, neem haar melkproduksie af en gevolglik ook die lam se groei weens ‘n tekort aan noodsaaklike voedingstowwe. Lammers eet baie min vaste kos voor drie weke ouderdom. Die tekort aan noodsaaklike voedingstowwe kan nie deur die weiding alleen voorsien word nie.

Die kombinasie van die hoë voginhoud en lae deurvloeiproteïeninhoud van groenweiding en die lae inname daarvan deur die jong lam het tot gevolg dat die lam nie al die ontbrekende voedingstowwe vanaf die weiding kan aanvul nie. Die twee hooffaktore wat die groei van sogende lammers op weiding beperk, is die onvermoë van die lam se rumen om die weiding doeltreffend te benut en die lam se relatief klein rumengrootte wanneer ‘n weiding met ‘n hoë voginhoud bewei word. Die gevolg is dat die lam se groei begin afneem en dit vererger indien lakterende ooie op droë en swak weiding is of indien die weiding skaars is. In sulke gevalle moet die jong lam met die ooie meeding vir die beskikbare weiding wat onmoontlik is.

Voordele van kruipvoer

  • Die groei van lammers word betekenisvol verbeter.
  • Lammers kan 28 tot 50 dae vroeër bemark word.
  • ‘n Groot persentasie lammers kan regstreeks van die ooie op drie tot vier maande ouderdom bemark word in gevalle waar speen eers op 120 dae ouderdom plaasvind.
  • Stres met speen verminder omdat dit die speenskok uitskakel.
  • Voerkoste word bespaar omdat lammers nou gouer hulle teikenspeenmassa bereik en gevolglik kan hulle vroeër gespeen word en die ooie kan dan na ‘n goedkoper lek oorgeskakel word.
  • Wins verhoog, want lammers wat in voerkrale afgerond word, hoef nie aangepas te word nie omdat hulle reeds is en omdat hulle swaarder met speen is, word hulle vir ‘n korter periode in die voerkraal afgerond.
  • Koksidiose word beter beheer omdat kruipvoer ‘n koksidiostat (‘n ionofoor) bevat.

Wanneer moet kruipvoeding ‘n aanvang neem?

Hoewel die jong lam se grootpens eers begin funksioneer wanneer hy begin om vaste kos op ongeveer twee tot drie weke ouderdom te begin vreet, moet daar so gou moontlik na lam met kruipvoeding begin word. Die normale aanbeveling is om kruipvoer vanaf ongeveer 10 tot 14 dae nadat die eerste ooie gelam het te voorsien. Die rede hoekom so vroeg begin word, is omdat die lam ‘n rukkie neem om aan die kruiphok gewoond te raak en om te leer om die droë kruipvoer te vreet. Hoe gouer die lam daaraan blootgestel word, hoe gouer leer hy om dit te vreet en hoe gouer begin sy rumen ontwikkel.

Kruipvoerinname

In die ondersoek van De Villiers et al (2002) was die gemiddelde kruipvoerinname van sogende lammers ± 15 g/lam/dag op 14 dae ouderdom. Die kruipvoerinname het progressief met ouderdom tot gemiddeld 625 g/lam/dag met speen op 84 dae ouderdom toegeneem (Tabel 2).

Tabel 2: Gemiddelde kruipvoerinname, lammassa en kruipvoerinname relatief tot liggaamsmassa van sogende lammers, op verskillende ouderdomme, wat kruipvoer ad lib ontvang het.

Met speen het die lammers ongeveer 25 kg geweeg en 25,51 g kruipvoer ingeneem/kg liggaamsmassa. Die gemiddelde kruipvoerinname tot speen was 337 g/lam/dag en het gevarieer tussen 300 tot 350 g/lam/dag. Afhangend van die ouderdom waarop lammers gespeen word, varieer die totale kruipvoerinname van 25 tot 30 kg/lam.

Tabel 2: Gemiddelde kruipvoerinname, lammassa en kruipvoerinname relatief tot liggaamsmassa van sogende lammers, op verskillende ouderdomme, wat kruipvoer ad lib. ontvang het.

Opdroging van ooie

Waar lakterende ooie ‘n volledige rantsoen gevoer en die lammers vroeggespeen word, moet ongeveer vier dae voordat hulle lammers gespeen word na ‘n lae proteïenrantsoen oorgeskakel word om die ooie suksesvol te help opdroog. Melkproduksie sal binne twee tot drie dae na oorskakeling begin val. Waar lakterende ooie hoë proteïenryke aangeplante weiding bewei, moet hulle vier dae voor speen na swak, lae proteïenweidings geskuif word.

Die kruiphokke moet so geplaas word dat lammers maklik daartoe toegang het, byvoorbeeld by waterpunte, voerplekke en/of slaapplek van die ooie.
(Foto: AgriOrbit)

Samevatting

‘n Kritieke fout wat baie skaapprodusente dikwels maak, is om nie toe te sien dat hulle jong lammers volgens hulle volle genetiese potensiaal groei nie. Vir elke dag wat ‘n lam langer neem om bemarkingsmassa te bereik, word die voer en weiding wat vir liggaamsonderhoud ingeneem word, vermors.

Dit kos geld omdat dit geen waarde tot die lam toevoeg nie, want dit kan nie vir groei gebruik word nie. Vir hierdie rede moet die gebruik van goedkoop, lae gehalte kruiprantsoene, wat nie aan die jong, vinnig-groeiende lam se voedingsbehoeftes voldoen nie, vermy word. Die kruipvoer moet van ‘n baie hoë gehalte wees om te verseker dat die lam teen sy maksimum genetiese groeipotensiaal groei.

Die normale aanbeveling is om kruipvoer vanaf ongeveer 10 tot 14 dae nadat die eerste ooie gelam het te voorsien.

ProAgri is dankbaar dat ‘n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0