Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 2nd November 2023

Weskusklong as heuningkoning gekroon

By 3 min read

UK bye 1

Dawid Rooifontein, ‘n jong opkomende byeboer van die Weskus, se sitrusheuning is tydens die Nasionale Heuningkompetisie in Brittanje as die heel beste uit 90 inskrywings gekroon. Foto's verskaf

‘n Jong man van die visserdorpie St Helenabaai aan die Weskus is pas vereer met die toekenning vir die beste heuning by ‘n internasionale heuningskou in die Verenigde Koninkryk.

Dawid Rooifontein (23) het onlangs vir die eerste keer aan ‘n internasionale heuningkompetisie deelgeneem waar hy en agt ander lede van die Wes-Kaapse Byebedryfvereniging (WKBV) op uitnodiging aan die Nasionale Heuningskou in Surrey, Engeland deelgeneem het. Die skou, wat vanjaar van 26 tot 28 Oktober sy honderdste bestaansjaar gevier het, is van die mees gesogte ter die wêreld.

Dawid het vir die eerste keer ooit vir die heuningskou wat tydens Nampo Wes-Kaap in September by Bredasdorp aangebied is. Hy en agt ander byeboere wat tydens die Nampo-skou gewen het, het op uitnodiging aan die kompetisie in Surrey, Engeland deelgeneem. Die hoe standaard van die Wes-Kaapse byeboere se heuning het reeds vroeer vanjaar tydens die Apimondia Afrika byesimposium in Durban aandag getrek.

Vyf Wes-Kapenaars het toekennings ontvang:

Dawid Rooifontein St Helenabaai se sitrusheuning het die eerste prys ontvang en sy heuning is as die wenner van die kompetisie aangewys

Audrey de Jongh van Infinity Bees het derde prys vir haar bloekom/fynbosheuning gekry

Pieter Loubser van St Helenabaai se rooibosheuning het eervolle vermelding ontvang en sy renosterveldheuing het vermelding ontvang.

Roxanne Norris van Wildflower Honey se sitrusheuning het vermelding ontvaver

Achmat Kazie se tentoonstelling van heuning en byewas het vermelding ontvang.

Dr Lynne Hepplestone, ‘n heuningbeoordelaar van Suid-Afrika, is deur die twintig senior beoordelaars by die kompetisie vereer met ‘n toekenning vir die hardwerkendste beoordelaar met die meeste potensiaal.

Dawid

Volgens Lynne Dawid se toekenning in ‘n internasionale heuningkategorie het ‘n beroering veroorsaak.

Dawid het op Grootdrink naby Groblershoop in die Upingtondistrik van die Noord-Kaap grootgeword. Hy werk die afgelope drie en ‘n half jaar saam met Pieter vir Pieter Loubser Byeboerdery. “Pieter is Dawid se mentor,” vertel Karen Loubser.

“Dawid het baie vinnig geleer en maak sy eie korwe en vang sy eie swerms. Hy is saam met Pieter lid van WKBV, gaan saam vergaderings toe en neem nou ook saam deel aan skoue en kompetisies.”

Volgens Dawid is byeboerdery baie harde werk, maar hy geniet dit. “Wat jy insit, gaan jy uitkry en ek is bly die hele wêrelde kan sien watter soort heuning ons hier aan die Weskus maak.”

Volgens Riëtte van Zyl, doyenne van die WKBV wat lede aanmoedig om aan kompetisies deel te neem, is Dawid tydens die heuningkompetisie by Nampo die trofee ontvang as opkomende byeboer wat met sy inskrywings die hoogste punte behaal het.

“Pieter het ‘n ongelooflike kennis van inheemse streeksplante wat heuning gee en hy het ook by Nampo ‘n trofee ontvang vir die hoogste punte vir uitgesoekte heuning.”

Audrey de Jongh van Infinity Bees het korwe by die dorpie McGregor asook in verskeie van die suidelike voorstede van Kaapstad. “Dis tye soos die wat ek wens ek kan my bye ‘n drukkie gee: die eer behoort aan hulle en ons Skepper!”

Achmat is boekhouer met ‘n klompie byekorwe in sy agterplaas in Somerset-Wes en naas heuningproduksie maak hy ook uitstaande tuisvervaardigde produkte van byewas.

Volgens Riëtte gaan WKBV volgende jaar beter voorbereid wees vir die kompetisie. Van die bottels het gebreek, terwyl ander wat nie die nodige permit gehad het nie, deur doanebeamptes vernietig is.  ‘n Deelnemer moet in sommige afdelings ten minste twee bottels van dieselfde heuning aanbied sodat die beoordelaars kan vasstel of dit deurlopend van dieselfde standaard is.

“Ek glo ons sou baie meer toekennings gekry het, maar ten spyte van die sorgvuldige verpakking het ‘n klomp bottels in die slag gebly of is nie deur die nodige permit of gesondheidsertifikaat vergesel nie,” verduidelik Riëtte. “Ek glo al ons inskrywings sou gewen het. Volgende jaar verpak ons alles in Foamalite en Lynne gaan ons alles leer. Volgende jaar wen ons alles wat ons kan wen.”

 

 

Deel hierdie artikel.

One Comment

  1. Loubser Karen 2nd November 2023 at 17:15 - Reply

    Harde werk en jare se passie is beloon.

Leave A Comment