Wenner van die melkbedryf se top-rentmeesterskaptoekenning word binnekort aangekondig

Dean Biggs
Dean Biggs
Die wenner van die 2022 Melkprodusente-organisasie (MPO) Nedbank Rentmeesterskaptoekenning sal op 30 November 2022 tydens ’n galadinee by Casa Toscana Lodge in Pretoria aangekondig word. Die drie topfinaliste, Dean Biggs, Garth Hume en Alan Webster, wag in spanning om te hoor wie met die groot prys van R40 000 gaan wegstap.
Nedbank borg die Rentmeesterskaptoekennings al vir die afgelope vier jaar en, volgens John Hudson, Nedbank se Nasionale Landbouhoof, is volhoubaarheid en rentmeesterskap van ons natuurhulpbronne en mensekapitaal van die uiterste belang. ‘Met toenemende druk op ons natuurhulpbronne, en duidelike bewyse van die uitwerking wat klimaatsverandering het, is dit van kritieke belang dat ons as ’n samelewing hierdie uitdagings tromp-op loop. Hierdie oortuiging vorm die grondslag van baie dinge wat ons by Nedbank ondersteun.
Strategies streef ons om nie net goed met geld te wees nie, maar veral om ook goed te doen daarmee. Ons borgskap van hierdie toekennings, wat gemik is op die erkenning en beloning van diegene wat beste praktyke toepas en bewustheid daarvan bevorder, gaan hand aan hand met hierdie strategie,’ sê Hudson.
Die MPO is net so opgewonde om die wenner aan te wys. ‘Ons voel geëerd om jaarliks prominensie te verleen aan die room van ons bedryf, aangesien volhoubaarheid een van die vernaamste ankers van ons organisasie is. Ons wil hê melkboere moet eerstehands sien wat hulle op hulle plase kan bereik en ons wil hulle inspireer om in die voetspore van hierdie drie topkandidate te volg,’ sê Fanie Ferreira, uitvoerende hoof van die MPO.
Hoogtepunt
Een van die hoogtepunte van die geleentheid sal prof James Blignaut, die hoof-gasspreker by die geleentheid, se aanbieding wees. Hy is ’n professor verbonde aan die Skool vir Openbare Leierskap aan die Stellenbosch Universiteit, en ere-navorsingsvenoot van die Suid-Afrikaanse Omgewingsobservasienetwerk. Hy is ook ’n lid van die Wetenskapsraad van die Wêreldboere-organisasie en stigterslid en direkteur van sowel ASSET Research as Restore Africa Fund.
ASSET Research fokus op die ontwikkeling van kapasiteit in omgewingsekonomie en verwante terreine, terwyl Restore Africa Fund se hoofdoel is om boere te help om bewarings- en herlewingsbeginsels toe te pas.
Prof Blignaut se loopbaan het in 1992 by die Suid-Afrikaanse Reserwebank begin as ’n statistiese ekonoom en hy was van 1996 tot 2017 aan die Universiteit van Pretoria verbonde. Hy fokus op die ekonomie van herstel, insluitende die ekonomie van bewaring en herlewingslandbou, natuurhulpbronafrekening en betaling vir ekostelselgoedere en -dienste en ander finansiële instrumente wat kan bydra tot die gesondheid van die samelewing.
Daar sal by die geleentheid ook ’n digitale plaasbesoek gebring word aan elk van die top-drie finaliste sodat die gehoor meer kan leer oor wat elkeen van hulle op hul plase doen om die omgewing te beskerm. Hier is die finaliste, in geen spesifieke volgorde nie:
Dean Biggs
Dean Biggs is 24 jaar oud en ’n vyfdegeslag Biggs-melkboer. Sy familie boer sedert 2002 op die plaas Suiderland in die Tsitsikamma-area. Sy passie vir diere en melk is nie die enigste dryfkrag wat hom motiveer om te boer nie. Hy word ook geïnspireer deur sterk familiewaardes om altyd iets in ’n beter toestand te laat as waarin dit aan jou gegee is.
‘As ’n jong boer wou ek tyd op die plaas deurbring om te leer, my vaardighede te verbeter en die familie te help om ons onderneming te laat groei. Suiderland is ’n droëlandplaas, dus het ons nog altyd volgens volhoubare boerdery- en bewaringspraktyke geboer,’ sê hy.
Dean melk tans 1 200 koeie op ’n droëlandplaasstelsel. Hy bestuur ’n hoogs suksesvolle kalfgrootmaakprogram. Een van sy strategieë is om deeglike navorsing te doen oor die keuse van die regte tipe grasspesies en om dan ’n seleksie van graskultivars te kweek wat optimaal geskik is vir sy omgewing en die klimaat. Dit stel hom in staat om dít wat die natuur bied ten volle te benut.
Hy is aktief betrokke by die boerdery, en ook by sy gemeenskap. Hy help opkomende jong boere en melkplaasbestuurders om hul vaardighede te ontwikkel. Hy help ook die MPO deur jong leerders toe te laat om opleiding op sy plaas te ontvang.
Garth Hume

Die Hume-familie het in 1962 begin boer, hoofsaaklik met Merino-skaap. ‘My oupa, Les Hume, het sy plaas in die Aberdeen-distrik verkoop en hom in Riversdal gevestig. Hy het in 1984 met 25 koeie begin wat met die hand gemelk is, en 200 liter melk per dag aan Nestlé gelewer.’
In 1975 het sy pa by sy oupa aangesluit toe die eerste melkmasjien –’n agt-punt tandem-melkportaal – geïnstalleer is. Koeigetalle het aangegroei tot 130. Garth se oudste broer, Brian, het in 2001 by die plaas aangesluit.
In 2004 is die melkportaal opgegradeer deur ’n 32-punt stelsel te installeer waarmee vandag nog gemelk word. Garth, die jongste van drie broers, en sy vrou Yolandi, het in 2009 by die familieboerdery aangesluit, en Gavin, die jongste broer, was die laaste om in 2012 aan te sluit.
Vandag word ’n kudde van 800 melkkoeie gemelk, en hulle boer met sowat 400 vleisbeeste. Hul vernaamste fokus is doeltreffende kuddebestuur, die gesondheid van die grond en goeie weidingbestuur. Hulle verkoop steeds hul melk aan Nestlé.
‘Deur die jare het ons geïnvesteer in nuwe tegnologieë, en ons gebruik nuwe metodes om die grond te bewerk. Ons het die grootste respek vir die natuur en streef daarna om die natuur te beskerm in alles wat ons doen. Ons glo daaraan om goeie grondgesondheid in stand te hou om die natuur te ondersteun om ons te voorsien van die beste moontlike weiding vir ons koeie, sodat hulle op hul beurt die beste moontlike gehalte melk kan lewer. Ons streef daarna om minder chemikalieë te gebruik, en een van ons doelwitte is om die voedingskapasiteit van ons weiding te verhoog deur goeie weidingbestuurspraktyke toe te pas.
Garth glo dat boere slegs sowat drie dekades het om ’n verskil te maak en om die grond en waterbronne wat hulle tans geniet, te beskerm en te beveilig. ‘Ons streef daarna om die hulpbronne in ’n beter toestand na te laat as wat ons dit gevind het sodat toekomstige geslagte steeds hier kan boer. Ons wil ook ’n positiewe verskil maak in ander mense se lewens, veral diegene saam met wie ons elke dag werk. Ons wil ’n voorbeeld wees vir ander as dit kom by rentmeesterskap, en ons besigheidswaardes is gegrond op investering in mense, beskerming van ons omgewing en om ’n winsgewende maar volhoubare onderneming vir toekomstige geslagte te bou.’
Alan en Frances Webster

Foundation is ’n plaas wat in 1990 met minder as 20 Jersey-koeie begin is. Dit was die Websters se beleid om regdeur die jaar melkvastestowwe van hoëgehaltekoeie te produseer, want dit is wat die mark vereis. Die Websters het uit die staanspoor deelgeneem aan die melkaantekeningskema, en is ook al as die LNR Meestersuiwelboer van die Jaar, aangewys.
Hulle het die plaaslike melkmark in Weenen (KwaZulu-Natal), waar hulle met slegs private verkope begin het, en later ook kaasproduksie bygevoeg het ontwikkel omdat melkkopers bereid was om na die klein dorpie te reis. Die Websters boer tans saam met hul dogter, Jane Schiever, en haar man, Barry. Saam maak dié vier ‘n wenspan.
Foundation het tans ’n kudde van sowat 1 200 koeie wat in twee melkerye gemelk word. Die Websters het talle toekennings gewen in kuddekompetisies wat deur verskillende voermaatskappye, sowel as die Jersey-telersvereniging, aangebied word. Baie van die koeie is by Jersey SA geregistreer. Die Websters geniet hul pragtige koeie op mooi weidings en sien die resultate van genetiese vordering in hul verse en kyk hoe hulle ontwikkel en groei.
Hulle is toegewy aan goeie sorg vir hul koeie terwyl hulle hul grond beskerm en bestuur, en ook ’n betekenisvolle verskil in die lewens van hul werknemers en hul gesinne probeer maak.
Weenen is ’n baie warm en droë area, maar daar is goeie voorsiening van besproeiingswater. Weens die hitte, oorleef baie van die gematigde spesies weidinggras nie. Om hierdie rede word kikoejoe gesaai as ’n basis, met raaigras, lusern, klawer en sigorei of weëblaar (plantain) om voervloei reg deur die jaar te lewer. Mielies word ook geplant en gesny vir kuilvoer. ’n Goeiegehaltevoermeel word by die mengsel gevoeg.
Die plaas gebruik ’n sliktenkwa om diere-afval na die weivelde terug te neem. Die benutting van slik asook die insluiting van peulgewasse in die weidingmengsel stel hulle in staat om die gebruik van stikstof te verminder. Die Websters het ook sonpanele geïnstalleer met ’n mate van finansiële hulp van hul melkaankoper, en hulle beplan om in die komende seisoen besproeiingsondeerders te gebruik.
Die ouer geslag is entoesiastiese voëlkykers en hulle is gesteld daarop om die omgewing vir toekomstige geslagte te bewaar. Die jonger geslag glo in die gebruik van gevorderde tegnologie en leierskapstegnieke om die boerdery volhoubaar en winsgewend te laat groei. Hulle aandag aan detail is onoortreflik.
Bron: MPO