Vuur – ’n werklikheid waarmee elke boer moet rekening hou

With less water available, the risk of fires spreading increases, especially in dry and windy conditions.
Veld- en plaasbrande is ’n jaarlikse werklikheid in Suid-Afrika. Of dit nou die droë winde van laat winter is, of die warm somerdae wat vonke en ongelukke aanwakker…vlamme kan binne minute ’n hele boerdery bedreig.
Elke boer weet: vuur respekteer nie heinings of grense nie. Daarom is dit noodsaaklik dat boere nie net op seisoene staatmaak nie, maar die hele jaar deur ’n brandplan, toerusting en opleiding gereed het om vinnig en doeltreffend op te tree.
- Is jou brandtoerusting reg om gebruik te word?
- Hou aktiewe brandbestrydingstoerusting soos brandslange of ten minste brandblussers byderhand.
- Brandbestrydingseenheid.
Die waarde van vuurbestuur
Alhoewel vure vernietigend kan wees, het dit ook ’n plek in plaasbestuur. Beheerde brande kan:
•Ou brandmateriaal verminder,
•Plantgroei stimuleer,
•Help met bos- en uitheemse plantbeheer,
•Die biodiversiteit van plante, diere en insekte ondersteun.
Maar, só ’n strategie werk net as dit beplan en onder die regte omstandighede toegepas word.

Toerusting wat deur brandbestryders gebruik word.
Wat sê die wet?
Volgens die National Veld and Forest Fire Act (1998) moet elke grondgebruiker aan die volgende voldoen:
•Brandbane moet gevestig en instandgehou word.
•Opleiding vir werkers is verpligtend.
•Die nodige toerusting en beskermende klere moet beskikbaar wees.
’n Beheerde brand sonder behoorlike toerusting, kennis en voorbereiding kan vinnig in ’n ramp ontaard en jou as boer aan die verkeerde kant van die wet laat beland.
- Brandbane gee toegang aan voertuie.
- Brandbane help om weghol brande te stop.
- Brandbane kan jou plaas in kleiner beheerbare dele verdeel.
Brandbane – jou eerste linie van verdediging
Brandbane is nie net wetlik verpligtend nie, dit is jou eerste skild teen vernietigende vure. ’n Brandbaan:
•Beskerm jou bates,
•Gee toegang aan voertuie en mense om ’n brand te beheer,
•Kan gebruik word om ’n wegholvuur te stop,
•Verdeel jou plaas in kleiner, beheerbare eenhede.
Sonder brandbane is ’n plaas blootgestel en word die kans om ’n brand onder beheer te bring, drasties verminder.

Brandbane beskerm jou eiendom en bates.
Blokbrande – aktiewe bestuur van jou veld
Blokbrande bly een van die doeltreffendste maniere om vuur te bestuur. Dit is ’n vorm van aktiewe bestuur wat:
•Uitheemse en probleem- plante beheer,
•Net ’n gedeelte van die plaas op ’n slag brand,
•Diere kans gee om na veiligheid te vlug,
•Jong en ou plantegroei in mosaïekpatrone laat ontwikkel.
Belangrik: blokbrande moet net uitgevoer word onder die regte weerstoestande en deur mense met die nodige kennis en ervaring. ’n Goeie riglyn is dat ’n omgewing nie weer binne drie jaar gebrand moet word nie. Binne vyf jaar moet ongeveer ’n derde van jou plaas gebrand wees, maar in afwisselende blokke om biodiversiteit te behou.

Blokbrande.
Vuurintensiteit – watter faktore tel?
Die intensiteit van ’n vuur word bepaal deur:
•Hoeveel brandbare materiaal in die veld is,
•Die voginhoud van die plante,
•Lugtemperatuur,
•Humiditeit,
•Windspoed,
•Terrein en hellings.
’n Vuur wat teen ’n heuwel opdraand trek in sterk wind, is byvoorbeeld amper onkeerbaar.
- Sept 2024 – Alma vure.
- Sept 2024 – Nylstroom brande.
- Sept 2024 – Vaalwater brande.
Die risiko’s van verkeerde vuurbeheer
Te veel of te min brande kan net so skadelik wees:
•Sekere probleemplante word juis gestimuleer deur vlamme.
•’n Afname in spesies (plante, diere en insekte) kan plaasvind.
•In sekere gebiede kan herstel van plantegroei jare neem.
’n Ongebalanseerde vuurplan kan dus jou veld en jou boerdery duur kos.
Grond en geboue – moenie net op jou lande fokus nie
Vuurrisiko lê nie net in die veld nie, maar ook in jou bouwerke. FPA Nylstroom waarsku dat boere ook hul werf en geboue moet beskerm.
’n Paar sleutelpunte:
•Hou vegetasie kort en skoon rondom huise, stoorplekke en krale.
•Bou met brandbestandige materiale waar moontlik.
•Hou dakke en geute skoon – brandende puin wat deur die wind waai is ’n groot risiko.
•Hou aktiewe brandbestrydingstoerusting soos brandslange of ten minste brandblussers byderhand.
Selfs ’n enkele vonkie kan deur ’n oop geut of houtstruktuur ’n totale verlies veroorsaak.
Wees paraat
Met die droë gras, die wind en die warm dae wat voorlê, is Augustus en September voor die reën kom tradisioneel die gevaarlikste tyd vir brande. Dit is juis nou dat jou brandplan en toerusting in plek moet wees.
•Het jy brandbane in stand gehou?
•Is jou arbeid opgelei en weet hulle hoe om veilig op te tree?
•Is jou toerusting reg vir gebruik?
•Het jy ’n plan vir blokbrande om die risiko te bestuur?
Onthou: elke plaas is uniek. Wat werk vir jou buurman, werk nie noodwendig vir jou nie. Jou beste wapen is beplanning en paraatheid.
Bronverwysing
FPA Nylstroom.








