Vrou wys staal in wynbedryf

erna3
deur Tisha Steyn
Dr Erna Blancquaert is onlangs aangewys as een van vier vlagdraers vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die vier uitnemende indiwidue in die wynbedryf is in Februarie tydens die jaarlikse wynoesherdenkingsgeleentheid op Groot Constantia in Kaapstad, die eerste wynplaas in die land, vereer as rigtingwysers vir toekomstige geslagte.

Dr Erna Blancquaert in ‘n wingerd in Mendoza, Argentinië.
Erna is in die Paarl gebore en het daar grootgeword. Sy was in William Lloyd Primêr en het aan Klein Nederburg Sekondêr gematrikuleer. Sy en Maarten is twaalf jaar getroud en hulle het ՚n agtjarige seun, Josh. Sy woon in Stellenbosch en is voltydse dosent en navorser in Wingerdkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, sowel as nagraadse toesighouer vir Meesters- en PhD-studente in wingerd en wynkunde, asook volhoubare landbou en biotegnologie.
Nuuskierigheid
“Ek het uit nuuskierigheid by die wynbedryf betrokke geraak,” vertel Erna. Met wiskunde en wetenskap op skool het sy ՚n ander loopbaan, soos medies, oorweeg, maar het uiteindelik vir ՚n BSc (Agric) in Wingerd-en Wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf.
“Na die voltooiing van my BSc het die wingerdgogga my nog meer gebyt en ek het ingeskryf vir ՚n MSc (Agric) Wingerdkunde. Ek het die soeke na antwoorde vir probleme in die bedryfgeniet en besluit om ՚n PhD (Agric) in Wingerdkunde aan te pak.”
Versit grense van boer wees

Wingerdkunde gaan nie net oor wynproe nie, maar dit is ook harde werk in die wingerd, want jy moet weet wat in die grond aangaan.
“Landbou is vir baie mense ՚n onaantreklike loopbaan,” sê Erna. “Die opvatting is dat jy net boer wanneer jy in die bloedige Afrikason staan en sweet. Dis vir my baie belangrik om mense se lewens aan te raak deur hulle daarvan bewus te maak dat daar ook baie ander loopbane in landbou is. Landbou is ʼn wetenskap en by Stellenbosch Universiteit lei ons die volgende generasie op om só te kan boer.”
Haar opleiding en kwalifikasies help haar om die plaaslike en internasionale wynbedryf se probleme te help oplos. “Dit stel my en my span navorsers in staat om die bevindinge van ons navorsing met wynboere te deel sodat hulle ingeligte besluite oor produksie kan neem.”
՚n Vereiste van die onlangse toekenning was dat sy nuwe idees, tegnologie en metodes moes ontwikkel, in werking stel en vestig. “Ek het met ՚n Fulbrightbeurs aan die Washington State Universiteit studeer waar ek nuwe tegnieke geleer het wat ek in Suid-Afrika toegepas het. My navorsingsgroep gebruik dit steeds en nuwe idees word voortdurend deur my navorsing geformuleer.”

Druiwekorrels word met wol gemerk vir makliker metingin die wingerd.
Een van die projekte waarop die groep tans fokus is om die impak van seewierekstrak van die Ecklonia maxima-spesie, wat slegs in die Atlantiese Oseaan aan die Kaapse kus voorkom, te toets op Cabernet Sauvignon. Die doel is om vas te stel of die seewier die wingerd se weerstand teen siektes kan verhoog, asook die druif- en wynsamestellings kan verbeter.
“Baie wynboere is skepties oor die aanwending van seewier op wyndruiwe omdat dit meestal op tafeldruiwe gebruik word,” verduidelik sy. Die seewier word aangewend op drie groeistadiums naamlik blom, ertjiekorrel en by deurslaan. Dit word toegedien op die blare omdat dit só makliker opneembaar is.
Internasionale rolspeler
Erna het ook internasionaal navorsingsprojekte met Sjina en België konseptualiseer met die doel om die gehalte van Chardonnay en Pinot Noir te definieer. “Omdat die twee kultivars die eerstes is om te bot, is hulle baie sensitief vir klimaatsverandering. Die jong botsels is tydens die eerste paar weke in September in Suid-Afrika uiters sensitief vir ryp, wat die oes nadelig kan beïnvloed.

Die navorsing wat Erna Blancquaert se groep doen hou voordeel in vir die ganse wynbedryf, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in België en Sjina, die ander twee jong wynboulande.
“Die groter idee van die projek is die gebruik van sogenaamde “big data” – groot datastelle wat met modellering ontleed moet word – om gehalte in die onderskeie lande te definieer. Dit sal dié drie jongste wynboulande – Suid-Afrika, Sjina en België – help om in die toekoms sinvolle besluite te kan neem in terme van kultivarbeplanning en wynstyle. Daar is ՚n hele paar nuwe ontwikkelings wat ons binnekort sal onthul.”
Vrou van kleur
Die belangrikste opvatting wat sy tot voordeel van die bedryf verander het was om as ՚n vrou van kleur die bedryf te betree. “Dikwels wanneer ek by boere kom wat my nie ken nie dink hulle ek soek werk of het die verkeerde ingang gebruik!
“Dit ook lekker om klas te gee vir ՚n meer getransformeerde groep studente, eerder as om by ՚n klas in te stap wat reeds ՚n mening oor my gevorm het. Dis lekker om voor ՚n klas te staan waar van die studente soos ek lyk, want toe ek ՚n student was, was daar niemand anders wat soos ek gelyk het nie!”
Erna se groep nagraadse studente
werk tans aan ՚n projek om te bepaal
watter invloed ՚n spesifieke seewier
op weerstandigheid teen siektes in
wingerde het.
As dosent en navorser in wingerdkunde is dit vir haar belangrik om alles in haar vermoë te doen om Suid-Afrika op die voorpunt van navorsing oor haar vakgebied te kry. “My fokus is om antwoorde wat globaal geld vir die probleme in die bedryf te vind. Dit kan slegs gedoen word deur meer wingerdkundiges op te lei vir die land. Daar is tans ʼn oorvloed wynmakers, maar min wingerdkundiges. Ek wil veral ՚n liefde en passie vir wingerdkunde onder die volgende generasie te bewerkstellig.”
՚n Opdraande stryd
Om as eerste vrou van kleur wat ՚n doktorsgraad in wingerdkunde in SuidAfrika te behaal, was nie ՚n maklike paadjie om te stap nie.
“Die uitdagings is steeds daar en dit word nie minder nie. Ek moet myself voortdurend bewys en die passiewe aggressie wat ek ondervind hanteer. Die hekkies wat ek moet oorkom is die moeilikste en ek moet hard werk om iets te bereik en erkenning daarvoor te kry. Alles wat ek doen word bevraagteken, of ek word daarvan beskuldig dat ek nie opreg is nie, maar my bedoelings is suiwer.

Erna deel die groot oomblik met haar man, Maarten, tydens die wynoesherdenkings-geleentheid op Groot Constantia vroeër vanjaar.
“Ek kan nie mense se persepsies oor my verander nie, maar ek kan beheer hoe ek daarop reageer. Ek het lankal besluit om hierdie energie eerder opbouend aan te wend deur die jonger geslag te help om dit te hanteer.”
Sagtevrugte-ontwikkelingstrust
As leier in die bedryf is Erna by verskillende strukture, soos onder meer die sagtevrugtebedryf se ontwikkelingstrust, betrokke. Sy verduidelik so: “Landbou bestaan uit verskillende dimensies – van die veld tot die verbruiker. Daarom moet elke aspek op ʼn spesifieke tyd gebeur.
“As een van die trustees van die Sagtevrugtetrust wat deur die nasionale minister aangestel is, leer ek ook meer oor ander produkte en nie net van wyn- en tafeldruiwe nie. Op hierdie manier kan ek ook bydra tot die kennispoel van ander kommoditeite in die landbou.
“Volhoubaarheid bestaan uit drie pilare – ook bekend as die drie P’s in Engels: Planet, People, Profit – planeet, mense en wins. Dit is van kardinale belang dat al die drie aspekte in balans is om volhoubare ontwikkeling vir enige produsent te verseker.”
Dr Erna Blancquaert met van haar nagraadse studente.
Wynmeester in wording
Sy studeer tans om ʼn internasionale wynmeester te word. “Die Master of Wine-kursus is een van die moeilikste goed wat ek nog ooit gedoen het, maar wat nie doodmaak nie, maak sterker …
”Ek is nog nie heeltemal daar nie, maar ek werk in daardie rigting,” sê sy. “Daar is tans net 420 wynmeesters wêreldwyd en dié kwalifikasie stel jou in staat om enige wyn van enige plek in die wêreld te identifiseer en die kwaliteit te bepaal. Om ʼn internasionale wynmeester te wees, moet jy deur net die wyn te proe in staat wees om te sê watter kultivar dit is, waar dit verbou is, die gehalte daarvan, die ouderdom, die styl en die tegnieke wat gebruik is tydens die produksie, asook die verkoopswaarde daarvan.”
Vir meer inligting kontak vir dr Erna Blancquaert by ewitbooi@sun.ac.za

