Categories: Dieregesondheid, Vee en WildPublished On: 6th January 2025

Vrese oor voelgriep in mense al feller

By 7 min read
1351 words

birdflu 2

Dooie voëls op Antarktika waarop ontledings gedoen is om vas te stel of hulle van H5N1 gevrek het. (Bron: Ben Wallis, https://www.bbc.com/future/article/20240425-how-dangerous-is-bird-flu-spread-to-wildlife-and-humans)

Voëlgriep het Amerika behoorlik op hol. Wetenskaplikes vrees dat die hoogs aansteeklike H5N1 wat ongebreideld maai op kommersiële hoenderplase, wilde voëls en verskeie soogdierspesies soos melkbeeste, kan oorspring na mense.

Goewerneur Gavin Newson van die deelstaat Kalifornië het kort voor Kersfees ‘n voëlgriep-noodtoestand verklaar met die doel om die staat op ‘n gereedheidsgrondslag te kry sou die uitbreking onder mense epidemiese afmetings aanneem.

H5N1 is in Maart 2024 vir die eerste keer onder melkbeeste in die VSA diagnoseer. Dit het intussen na ten minste 866 kuddes in 16 state uitgebrei. Katte en wasbere wat van die rou melk gedrink het, het ook die virus opgedoen. Rou katkos wat vermoedelik met H5N1 besmet is en wat moontlik vir die katte se dood verantwoordelik kan wees, is intussen van winkelrakke onttrek. Ongepasteuriseerde melk en -produkte is ook van winkelrakke in Kalifornië onttrek.

Meer as 60 mense, die meeste werkers op melk- en pluimveeplase in agt state is ook besmet, waarvan die meeste net geringe simptome getoon het.

Volgens die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) is die eerste mens wat ernstig met die virus besmet is in ‘n hospitaal in Louisiana opgeneem.  Die persoon, wat ouer as 65 is en ander onderliggende mediese probleme het, is in ‘n kritieke toestand met ernstige asemhalingsprobleme. Dit is die eerste geval van ‘n  persoon wat met die virus besmet is deur voëls wat in sy agterplaas aangehou is.

In Kanada is ‘n tiener vroeg in November met H5N1-infeksie wat nie ooreenstem met die virus wat melkkoeie besmet nie, in ‘n hospitaal opgeneem. Die tiener, wat voor die tyd blakend gesond was, se toestand het sedertdien dramaties agteruit gegaan. Die Louisiana-pasiënt is met dieselfde virus as die Kanadese tiener besmet.

Die H5N1-monsters wat van die pasiënt geneem is, toon tekens dat ‘n mutasie van die virus die vermoë het om in die boonste lugweë van ‘n mens te vestig, het die CDC die dag na Kersfees gesê.

Die CDC meen die toedrag van sake beklemtoon die belangrikheid van volgehoue monitering van mense en diere en alles moontlik moet gedoen word om die H5-virus in pluimvee en melkbeeste te bekamp, al bly die risiko vir mense steeds laag.

‘n Laboratorium aan boord ‘n skip wat op Antarktika ondersoek gaan instel het na die voorkoms van voëlgriep. (Bron: Ben Wallis, https://www.bbc.com/future/article/20240425-how-dangerous-is-bird-flu-spread-to-wildlife-and-humans)

Mense besmet

Wetenskaplikes waarsku hoe meer diere besmet raak, hoe groter is die kans dat die virus na kan muteer om mense aan te tas en van mens tot mens te versprei, wat nog nie in die stadium gebeur het nie.

Tot dusver was die meeste mense wat besmet is plaaswerkers wat direk met hoenders of melkbeeste gewerk het. Hulle het ook net ligte simptome soos pienkoog (konjunktivitis) gehad en het herstel.

Daar was egter ook voorvalle waar die pasiënte nie met siek diere te doen gehad het nie:  In Augustus is ‘n  pasiënt met H5N1-infeksie in ‘n hospitaal in Missouri opgeneem, maar het herstel. In Kalifornië is ‘n kind in November opgeneem. In Delaware is ‘n persoon wat klaarblyklik geen kontak met hoenders of beeste te doen gehad het nie, ook in die hospitaal opgeneem, maar CDC kon nie bevestig dat dit wel voëlgriep  was nie.

Afvalwater: groter voetspoor

Die voorkoms van die virus in afvalwater wat in tien state gevind is, is ook ‘n bron van kommer omdat dit nie net voorkom in gebiede waar voëlgriep op plase voorkom nie, maar ook elders en die bron is dus grootliks onbekend.

Mense wat met die virus besmet is sonder dat ‘n duidelik bron vasgestel kon word,  is ook kommerwekkend.  Dit kan beteken dat die virus ongesiens ontwikkel en dat dit moontlik al minder mutasies nodig het om van mens tot mens te kan versprei. Dit  kan lei tot die volgende pandemie kort op die hakke van Covid-19.

Verspreiding  na soogdiere

‘n Lae patogeen Avian Influenza (LPAI) kom natuurlik in die waterryke suidelike Guangdonggebied van Sjina voor. Dit het aanvanklik nie wilde voëls besmet nie, maar toe die virus na H5N1 wat net met pluimvee verbind is, muteer het, is dit oorgedra na wilde voëls.

‘n Mak gans op ‘n pluimveeplaas met H5N1, die hoë patogene Avian Influenza (HPAI), wat dodelik vir pluimvee en wilde voëls is,  in 1996 In Guangdong  identifiseer.

Sedert die uitbreking van voëlgriep aan die begin van 2022, het die virus met rasse skrede wêreldwyd en selfs tot in Antarktika versprei. Kommersiële hoenderboerderye het reuse verliese gelei weens vrektes en omdat miljoene voëls gevrek het of van kant gemaak moes word.

Die virus wat sedertdien vermoedelik deur wilde voëls versprei word, het ook ten minste 26 soogdierspesies aangetas. In Denemarke is miljoene nertse van kant gemaak nadat voëlgriep op nertsplase uitgebreek het. In Frankryk is ‘n beer in aanhouding besmet, net soos wilde bere in Kanada.

Veral soogdier-aasdiere en seediere het tot dusver erg deurgeloop. Tienduisende robbe en seeleeus van Quebec tot in Chili, Argentinië en Peru het omgekom. Die vrees bestaan dat die voëlgriepvirus wat van wilde voëls na soogdiere oorgedra kan word dalk aangepas raak en al makliker tussen soogdiere en uiteindelik weer terug na voëls oorgedra kan word.

Mutasies kan kortpad vat

Tot dusver het wetenskaplikes geglo die virus  moet etlike mutasies ondergaan voordat dit aan mense oorgedra kan word. ‘n Artikel in Science-joernaal noem egter dat ‘n enkele mutasie veral in pasiënte wat gewone seisoenale griep opdoen, in die pasiënt kan plaasvind wat dan makliker na ander mense oorgedra sal kan word. Mutasie is dan nie nodig nie aangesien die gene net omgeruil kan word.

‘n Werker by die Nasionale Dieresiektesentrum in Ames, Iowa neem ‘n bloedmonster van ‘n kalf wat teen voëlgriep ingeënt is (Bron: USDA Agricultural Research Service / AP https://www.nbcnews.com/health/health-news/bird-flu-cases-spread-warning-signs-rcna185084)

Voorkomende maatreëls

Voorkomende griepinspuitings vir plaaswerker kan help om die proses te stuit.

Die Landboudepartement van die VSA (USDA) het intussen ook die toets van grootmaatmelk vir die virus verder uitgebrei na altesaam 13 state; hierdie kuddes verskaf sowat die helfte van die VSA se melk.

Melkbeeste word nou ook op ‘n proefbasis teen H5N1 ingeënt.

Volgens die CDC is die Amerikaanse regering besig om entstof vir mense teen H5N1 te ontwikkel indien dit sou nodig wees, maar daar word nie beplan om ‘n grootskaalse inentingsprogram te loods nie.

Die Finse regering was die eerste om onder meer werkers op hoender- en nertsplase van entstof te voorsien; die Britse regering is ook besig om entstof aan te koop om weerstand te bied indien ‘n pandemie daar uitbreek.

Voorts word ‘n nuwe mRNA-entstof teen H5N1 ook eksperimenteel in kalwers getoets. Twee van die entstowwe is ook gereed om aan plaaswerkers gegee te word. Die mRNA-entstof is suksesvol in frette gebruik en kliniese toetse in mense kan voortgaan.

Kassie:

H5N1 se tydsverloop

1996: in pluimvee in Guangdong, Sjina ontdek

1997: eerste mense sterf daarvan in Hongkong

2005: spoel oor na wilde voëls en nuwe stamme kom voor

2020: ‘n nuwe stam ontwikkel wat deur die jaar in wilde voëlbevolkings kan oorleef

2020-22: dit word endemies in wilde voëlbevolking

2021: kom aan in Noord-Amerika

2022: in Suid-Amerika gevind

2024: bevestigde teenwoordigheid in Antarktica

Oktober 2024: bevestigde geval in varke in Oregon, VSA

Desember 2024: eerste ernstige geval in ‘n mens in die VSA

Bronverwysings

Aleccia, J. (2024) California declared an emergency over bird flu. How serious is the situation?

https://www.yahoo.com/news/california-declared-emergency-over-bird-162803854.html?fr=sycsrp_catchall

Bush, E. (2024) Key warning signs about bird flu are all going in the wrong direction. NBC NEWS

https://www.nbcnews.com/health/health-news/bird-flu-cases-spread-warning-signs-rcna185084

Bourke, I. (2024) Unprecedented’: How bird flu became an animal pandemic. AP https://www.bbc.com/future/article/20240425-how-dangerous-is-bird-flu-spread-to-wildlife-and-humans

Gill, B. (2024) A pet food recall over bird flu is linked to a cat’s death

https://qz.com/northwest-naturals-pet-food-bird-flu-recall-1851728910

Pawlowski, I. (2024) Will bird flu lead to another pandemic in the US? Experts weigh in as concerns grow NBC News Today

https://www.today.com/health/disease/bird-flu-pandemic-rcna183174

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0