Voorgestelde transaksie tussen AMC Equipment en Senwes Equipment aangekondig

AMC SENWES EQUIP
Senwes Equipment, ’n filiaal van Senwes Beperk, en AMC Equipment (Edms.) Beperk (AMC) – albei gevestigde John Deere-handelaars – het aangekondig dat hulle onderhandelinge voer oor ’n moontlike ooreenkoms. Indien die Voorgestelde Transaksie goedgekeur word, sal Senwes Equipment die besigheid van AMC as ’n lopende saak verkry.
Die doel van die transaksie is om operasionele vermoë verder te versterk en dienslewering aan produsente te verbeter. Dit help om ’n groter operasionele voetspoor te laat, terwyl doeltreffendheid verbeter en die fokus op tegnologie en presisieboerdery versterk word.
Agtergrond van AMC Equipment
AMC het ontstaan uit GWK se meganisasiebesigheid. As deel van hul vergoeding vir aandele in die GWK-groep is die John Deere-agentskap aan ’n groep produsente oorgedra. AMC is toe in 2022 amptelik as ’n John Deere-agentskap gevestig, met hierdie produsente as aandeelhouers deur ’n korporatiewe aandeelhouerstruktuur.
Die maatskappy bedien klante in verskeie Noord-Kaapse gebiede, waaronder Upington, Kakamas, Prieska, Douglas, Modderrivier, Barkley-Wes, Luckhoff en Hopetown.
John Deere het reeds sy volle en onvoorwaardelike steun vir die Voorgestelde Transaksie bevestig.
Voorwaardes en voortgang
Die transaksie is steeds onderhewig aan sekere opskortende voorwaardes. Dit sluit in die goedkeuring van AMC se aandeelhouers, asook die goedkeuring van die Mededingingsowerhede vir die beoogde samesmelting.
“Senwes sien daarna uit om die produsente in hierdie Noord-Kaap-gebied te bedien en is baie opgewonde oor die geleentheid om ons teenwoordigheid in die streek uit te brei,” sê Debbie Bester, Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes.
Mnr. Frans du Plessis, Besturende Direkteur van AMC, beklemtoon die belangrikheid van langtermynondersteuning: “Volhoubare dienslewering en ondersteuning vir die gebied – gedryf deur John Deere se strategiese rigting en ’n toegewyde handelaar soos Senwes – is noodsaaklik vir die voortdurende sukses van kommersiële graanproduksie in hierdie belangrike besproeiings- en droëlandgebied.”
AMC sal binnekort verdere kommunikasie aan sy aandeelhouers en kliënte rig.
Daar word verwag dat produk- en dienslewering aan klante ononderbroke sal voortgaan gedurende die proses, en dat ’n toekomstige, gekonsolideerde teenwoordigheid in Kimberley die diensnetwerk verder sal versterk.
Die partye werk tans verder aan die vereistes vir die samesmelting en voorsien, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring, dat die transaksie in die eerste kwartaal van 2026 afgehandel kan wees.