Categories: Stock and game farmingPublished On: 22nd September 2017

Veesiektes 2:

By 2 min read
291 words
slenkdalkoors

slenkdal 2

Slenkdalkoors is ’n virussiekte wat hoofsaaklik beeste, skape en bokke aantas. Die siekte het eers teen die helfte van die vorige eeu vanuit die skeurvallei of slenkdal in Kenia na Suid-Afrika versprei, vandaar die naam van die siekte.

Die slenkdalkoorsvirus kom van ’n muskietspesie af wat eerder op diere as op mense voed. Wanneer dit vroeg in die somer baie reën en daar is panne en plasse vir die muskiete om aan te teel, groei hulle getalle geweldig aan, en dit is die tyd wanneer hulle grootskaals op vee voed en hulle virusse aan die diere oordra.

Dit veroorsaak groot getalle aborsies en vrektes onder jong diere. Voordat daar in die 1950’s entstof teen slenkdalkoors ontwikkel is, het miljoene diere daarvan gevrek.

Die besmetting kan na mense oorgedra word wanneer besmette diere hanteer word, of na veeartse wat monsters van besmette diere in die laboratorium hanteer. Die besmetting van mense is ernstig, soms selfs lewensgevaarlik, en dit kan ook blindheid by mense veroorsaak.

Aangesien die voorkoms en uitbrekings van slenkdalkoors van klimaatstoestande afhang, is dit moeilik om te voorspel wanneer die siekte gaan toeslaan. Wanneer die siekte wel toeslaan, is dit te laat om te ent en entstoftekorte word dan ook gewoonlik ondervind. Daarom is dit raadsaam om vee maar elke jaar met die lewende entstof, wat die beste beskerming bied, in te ent.

Inenting tydens vroeë dragtigheid moet vermy word indien die lewende Smithburn-stam gebruik word. Die dooie slenkdalkoorsentstof gee swak immuniteit en is van min waarde gedurende uitbrake, aangesien twee tot drie inentings nodig is voordat betekenisvolle immuniteit bereik word.

Bron: Siektes en parasiete van beeste, skape en bokke in Suid-Afrika deur Pamela Oberem en andere ISBN 0-620-35736-, gepubliseer deur Afrivet Business Management, 012-545-806-6591.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0