Vat 5 Dormergroep groei van krag tot krag: Suksesvolle tweede groepveiling

Lede van die Vat 5 Dormergroep tydens hulle tweede groepveiling. Vlnr: Colene van der Merwe (Kalkvley Dormers), Henk Pretorius (Thaba Kwena Dormers), Johan Barnard (Johanri Dormers), Marco Klopper (Jakkalsdans Dormers) en Dirk Heyman (Heyman Dormers).
Op Saterdag, 27 September 2025, het die Vat 5 Dormergroep hulle tweede groepveiling by die Parys Afridome aangebied. Die groep se strewe om topgehalte Dormers aan die mark te bied, het weereens boekdele gespreek met die gehalte diere wat deurlopend deur die ring gekom het.
Die telers is toegewy daaraan om streng seleksie binne hulle kuddes toe te pas en slegs die beste genetika aan kopers beskikbaar te stel. Op aanbod was ’n uitstekende verskeidenheid van stoet- en kommersiële Dormerramme en -ooie – dragtige ooie, ooie met lammers sowel as oop ooie. Die kommersiële aanbod was net so sterk en het baie aandag geniet.
Die veiling, wat deur OVK Lewendehawe in samewerking met SwiftVee se aanlynplatform aangebied is, het goeie pryse op die dag behaal.
Hoogtepunte van die dag
Hoogste prys vir stoetram:
Die duurste ram van die dag, Lot 11, van Johan Barnard (Johanri Dormers), is verkoop vir R32 000 aan Simon Lindsay.

Duurste ram van die dag, Lot 11, verkoop vir R32 000. Vlnr: Johan Barnard (verkoper, Johanri Dormers), Simon Lindsay (koper), Jakkie Nel (afslaer), JT Fourie (OVK-agent).
Hoogste prys vir dragtige stoetooi:
Die duurste dragtige ooi, Lot 60, ook van Johan Barnard, is verkoop vir R60 000 aan Yield Agri Investments. Kyk die video hier.

Duurste dragtige ooi van die dag, Lot 60, verkoop vir R60 000. Vlnr: Johan Barnard (verkoper, Johanri Dormers), Henk Kirchner (OVK-agent), Jakkie Nel (afslaer), Duncan Cairns (koper, Yield Agri Investments) en JT Fourie (OVK-agent).

Baie geluk aan elke verkoper van die Vat 5 Dormergroep met ’n baie suksesvolle tweede groepveiling, sowel as aan al die kopers en betrokkenes. Die Vat 5-groep maak reeds gereed vir hulle derde groepveiling, wat weer in September 2026 plaasvind.