Categories: Artikels, WielePublished On: 25th September 2026

2025 Omoda C7 1.6 TGDI Elegance: ‘n Treffende voorkoms en goeie waarde maak die C7 ‘n aantreklike opsie

689 words

omoda-c7-white-lead

Omoda is die luukse handelsmerk van die Chinesevervaardiger Chery. In Suid-Afrika was die Omoda  C5 die eerste model van hierdie handelsnaam wat plaaslik bekendgestel is. Sedertdien het die vlagskip C9 ons mark getref en einde laasjaar het die C7 tussen die twee ingeskuif en daarmee die hoogs mededingende middelgrootte SUV marksegment betree met drie afwerkingsvlakke.

Die C7 modelreeks bestaan tans uit ‘n intreevlak Luxury, middelvlak Elegance en topmodel SHS inprop-hibried.

Ons het vroeër vanjaar die middel-afwerking Elegance 1.6TGDI model vir ‘n week kon toets.

Voorkoms en ontwerp

Die Omoda C7 se treffende stilering en ontwerp buite laat die koppe draai en onderskei die C7 van sy C5 en C9 stalmaats.  Die aggressiewe futuristiese ontwerp se sterk aksentlyne, ‘n raamlose X sierrooster as deel van ‘n ongewone neusontwerp met ‘n treffende LED hoofligontwerp, laat die C7 uitstaan in sy segment.  Die vloeiende daklyn en pragtige groot sierwiel rond die hoogs moderne geheelbeeld netjies af en dra by tot die C7 se unieke identiteit.

Die Elegance-afwerking soos ons getoets het, bied ondermeer  sportiewe rooi remklauwe, LED’s agter die voorste buffer en ‘n unieke agterligontwerp wat die oog vang.

Tydens ons toetsweek het die motor baie aandag en belangstelling ontlok waar ons ookal parkeer het.

Kajuit en toerusting

Die kajuit van die C7 is gelaai met ‘n omvattende lys van gevorderde tegnologie. Ons toetsmodel die 1.6 TGDI Elegance, bied premium kenmerke in ‘n kajuit wat praktiese en ergonomies goed uitgelê is tegnologie belaai en ruim gemaklike sitplekke bied vir 5 volwasse insittendes met ‘n bagasieruim wat goed vergelyk met die soortgelyke modelle in hierdie segment.

Enjin en verrigting

Die C7 1.6 TGDI Elegance word aangedryf deur ‘n 1.6-liter turbo-aangejaagde viersilinderenjin wat 145 kW en 290 Nm wringkrag lewer . Die krag word na die voorwiele gestuur  deur ‘n sewegang-dubbelkoppelaar-ratkas (DCT).  Die enjin-ratkas kombinasie sorg vir goeie verrigting en het die C7 beïndruk met gemaklike versnelling wanneer daar op die ooppad verbygesteek moet word en het ook  gemaklik in alledaagse gebruik in stedelike verkeer hanteer. Daarwas soms gevalle  wanneer die ratkas effe traag en rukkerig gevoel het in lae-spoed stadsry. In die geheel beoordeel is die C7 egter  ‘n beduidende verbetering op van die ander kompetisie uit China en kan as een van die beter opsies in sy segment beskryf word in terme van kalibrasie.

Amptelik word brandstofverbruik  vir die C7 1,6L TGDI petrolmodel in ‘n  gekombineerde siklus aangegee as 7.5 L/100 km . Ons syfer na ongeveer 1000km se ooppad, grondpad en stadsry was ongeveer 8,7L/100km, maar dan is my pedaalvoet redelik aan die swaar kant en gegewe die C7 se stewige grootte en ruim luukse kajuit, is dit na ons mening steeds ‘n uitstekende syfer.

Hantering en paddinamika

Die C7 bestuur gemaklik, voel padvas en hanteer gerieflik met goeie paddinamika, ritgehalte en werkverrigting. Die ruim weelderige kajuit is omvattend toegerus en is bogemiddeld stil en geïsoleer teen steurende band-, enjin-, wind- en padgeraas.

Vir ons is die Omoda C7 ‘n heerlike gesinswa vir ooppad vat en alledaagse gebruik

Opsomming        

Die C7 het ons baie beïndruk met ‘n heerlik gemaklike kajuit, uiters goeie en hoë vlakke van moderne toerusting, bestuurdergerief en hulpstelsels wat beter en gemakliker werk as meeste van die kompetisie in wat in hierdie segment meeding.

Teen R589,900-00 is die Omoda C7 uitstekend geprys, bied relatief goeie brandstofekonomie vir hierdie tipe en grootte voertuig,  ‘n modern en aantreklike voorkoms asook segmentleidende waarborge.

In geheel is ons oortuig die Omoda C7 is ‘n uiters goeie waarde-vir-geld aanbieding wat nie ignoreer behoort te word nie. Ons voorstel aan voornemende kopers in hierdie segment is om ook die Omoda C7 te gaan toetsbestuur as jy ‘n voertuig oorweeg in hierdie prysklas.

Kernfeite

  • Model: Omoda C7 1.6 TGDI Elegance
  • Prys: R589 900
  • Enjin: 1.6 liter viersilinder turbopetrol
  • Maksimum kraguitsette: 145 kW/ 290 Nm
  • Ratkas: 7-gang dubbelkoppelaar (DCT)
  • Veerstelsel: MacPherson-stutte voor / Multiskakel agter
  • Brandstofverbruik: 7,5 L/100 km (amptelik)
  • Bagasieruimte: 614 liter
  • Waarborge ingesluit by koopprys

Ingesluit by die koopprys van die C7 Elegance is ‘n enjinwaarborg van 10 jaar of 1 miljoen km vir die eerste eienaar. (1ste Eienaar) asook ‘n voertuigfabriekwaarborg van 5 jaar of150 000 km en ‘n diensplan van 5 jaar of 75 000 km

Verder is daar ook ‘n Padbystanddiens van 7 jaar / onbeperkte km ingesluit.

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0