Categories: Artikels, SA294-vrouemaand, Vee en WildPublished On: 3rd August 2024

Van plaaslik tot internasionaal: Colene van der Merwe ken skaap in die kraal

By 2 min read
465 words

WhatsApp Image 2024-07-21 at 18.14.48

Haar onwrikbare geloof, liefde vir diere en geesdrif vir wat sy doen is die goue draad wat deur die skaapboer Colene van der Merwe van Williston, in die Noord-Kaap, se lewe loop.

Colene het op ՚n plaas in die Porterville-distrik, in die Wes-Kaap aan die voet van die Olifantsrivierberge grootgeword. Sy vertel dat sy gebore is met ՚n liefde vir boerdery. Sy het die voorreg gehad om dit tydens haar grootwordjare uit te leef en doen dit steeds.

Sy vertel: “My pa, Albie van der Merwe, was ՚n welbekende SA Vleismerino-teler en dit was maar hoofsaaklik die ras waarmee ek grootgeword het. Later het ek met Dorpers en Dormers as stoet begin boer.”

Colene boer vandag in die Willistondistrik. Sy is die trotse eienaar van Kalkvley Dormerstoet en is ook betrokke by Atka Dorpers, Atka Witdorpers en Atka Boerbokke. Nie net is Colene ՚n voorslag vrou in die plaaskraal nie, maar ook internasionaal. Colene vertel dat sy haar keurderskursusse vir sowel die Dormer- as Dorperras voltooi het, en sy is tans besig om haar laaste boerbokeksamen ook af te lê. Colene is een van twee vrouekeurders in die land, maar dit eindig nie daar nie. Sy is al genooi om verskeie wêreldkampioenskappe te beoordeel en het op internasionale vlak as inspekteur gedien.

“Die Dorperras se gewildheid het reeds in die vroeë 1990’s toegeneem toe daar Dorpers na verskeie lande wêreldwyd uitgevoer is,” vertel Colene.

“Met die het ek die voorreg gehad om skoue te beoordeel, kursusse aan te bied en private inspeksies te doen in Brasilië, Amerika, Australië, Botswana, Meksiko en Kenia. “Een van die hoogtepunte in my loopbaan tot dusver is dat ek al ‘n paar keer gekies is om die WêreldDorperkampioenskappe te beoordeel, waaraan daar elke keer ongeveer 1 300 Dorpers deelgeneem het.”

Colene is ook in 2005 aangewys as die Nasionale Boervrou van die jaar. “Nog ՚n groot hoogtepunt vir my was om deel te kon wees van die 2024 Atkaspan waar Atka-Dorpers die toekenning ontvang het as wenners van die Witdorper-teler van Kampioene asook die toekenning ontvang as Witdorperteler met die meeste punte,” voeg sy by.

Sy vertel: “Dit is maar soms uitdagend om as vrou in ՚n manswêreld te moet werk as beoordelaar. Daar is groot en sterk mededinging, veral op wêreldvlak en skoue. Ek oorkom dit deur te sorg dat ek my vakgebied ken en deur die taak met selfvertroue aan te pak.”

Colene glo dat sy as vrou in die landboubedryf steeds met grasie ՚n verskil kan maak. Sy streef daarna om diere van hoogstaande gehalte in die bedryf na te laat en wil ook graag haar lewenslange kennis aan die volgende nageslag oordra. Haar boodskap aan ander vroue en jong opkomende vroue in die landboubedryf is: “Glo in jouself en leef jou passie met selfvertroue uit!”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0