Up George bul behaal R4 miljoen op produksieveiling

Lot 8, LAR 21-45 verkoop vir R4 miljoen rand aan Sebadja Bonsmaras tydens hulle 27ste produksieveiling.
Die welbekende Bonsmarastoet, Up George Bonsmaras het weer eens hulle plek aan die voorpunt van die bedryf bewys tydens hulle jaarlikse produksieveiling wat op Vrydag, 4 Julie 2025 op hulle plaas aangebied is.
’n Uitsonderlike bul is op die dag vir ’n indrukwekkende R4 miljoen verkoop aan Bertus en Fouche Blignaut van Sebadja Bonsmaras – ’n rekordprys wat nie net koppe laat draai het nie, maar ook die gehalte van genetika by albei stoete bevestig het. Kyk die video hier.

Lot 10, LAR 20-385 verkoop ook vir ‘n indrukwekkende prys van R2,6 miljoen rand aan Pieter Hoogenboezem en familie van Blouberg Bonsmarastoet.

Lot 93, LAR18-184, duurste vroulike dier van die dag (koei en kalf) verkoop vir R170 000 aan Eloff Muller van Tamberaine Bonsmaras.
Gemiddelde van die dag
- 78 Bulle verkoop teen ‘n gemiddeld van R224 487.
- Koeie met kalwers verkoop teen ‘n gemiddeld van R90 385.
- Koeie in kalf verkoop teen ‘n gemiddeld van R54 318.
- Kommersiële koeie in kalf verkoop teen ‘n gemiddeld van R28 292.
Gehalte wat met oortuiging verkoop
Vir Derek, Tutu en Robert Ralfe van Up George is hierdie prestasie nie net ‘n finansiële hoogtepunt nie, maar ’n bevestiging van hulle teelbeleid wat jaar na jaar diere van uitsonderlike standaard oplewer. Dié topgehalte diere jaarliks aangebied op hulle produksieveiling verteenwoordig dekades van noukeurige seleksie, harde werk en toewyding aan stoetverbetering en vir die Bonsmara-ras.
’n Dag van dankbaarheid en trots
“Ons is opreg dankbaar en nederig oor die ongelooflike ondersteuning wat ons ontvang het tydens ons jaarlikse produksieveiling,” sê Derek en Tutu in hulle boodskap na afloop van die suksesvolle dag. “Aan elke koper en elke persoon wat die veiling bygewoon en deelgeneem het – baie dankie vir die vertroue wat julle in ons genetika het. Ons is oorweldig en ongelooflik dankbaar.”
Hulle het ook spesiale erkenning gegee aan die AAM veilingspan, wat met hulle professionele diens die verloop van die veiling na ’n wêreldklasvlak geneem het, asook aan die afslaer, Brandon Leer, wat vanjaar vir die 27ste keer agter die hamer gestaan het. “Wat ’n eer om so ’n afslaer en vriend aan ons sy te hê,” sê Derek.
Sterk bande in die stoetgemeenskap en Bonsmarabedryf
Vir Up George is dit egter meer as net genetika en pryse behaal – dit gaan oor mense, die gemeenskap en die bedryf. Die Ralfe-gesin is vol lof vir hulle plaaslike gemeenskap, familie en vriende wat steeds betrokke is en elke jaar help om die veilingsdag ’n sukses te maak.
Baie geluk aan Up George Bonsmaras met ‘n puik veiling en baie geluk aan elke koper met die aankoop van uitsonderlike diere en genetika.