Trekker- en stroperverkope daal

tractor-385681_1280
Bron: Pixabay
Trekkerverkope van 516 eenhede in Februarie is aansienlik (byna 34%) minder as die 777 eenhede wat verlede Februarie verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope nou byna 31% minder as verkope verlede jaar. Agtien stropers is in Februarie verkoop, 21 minder as die 39 eenhede wat verlede Februarie verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope nou byna 53% minder as verlede jaar.
Verskeie faktore dra by tot die traer verkope in die mark vir landboumasjinerie en dit beteken dat potensiële kopers van die toerusting nou ’n baie omsigtiger benadering het ten opsigte van belegging in nuwe toerusting. Die El Niño-verskynsel is weer ter sprake met hoë somertemperature en laer as normale reënval. Gewasse wat vroeg aangeplant is in die oostelike dele lyk goed, maar somergewasse in die westelike dele van die land doen nie so goed nie. Die Oesskattingskomitee raam dat die mielie-oes vir die komende seisoen byna 13% minder kan wees as verlede jaar, met sojabone byna 23% minder.
Volgens verwagtinge, ten spyte van ’n uiters mededingende mark, sal trekkerverkope in die 2024-kalenderjaar tussen 15 en 20% minder wees as verlede jaar.
Bron: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie