NAMLAMB-bekendtelling neem Namibiese lamsvleis na die internasionale verhoog met historiese SA-Namibië Lamb Champs invitational

NamLamb
Hannes Agenbach, Lenn de Jager, Louis de Jager, Wilbie Mostert, Franco Burger, Andries Steenkamp, Eddie Agenbach, Koos Bredenkamp, Danie Steenkamp, Hannes Visagie.
’n Nuwe hoofstuk vir die skaapbedryf het Vrydag in Windhoek begin met die amptelike bekendstelling van NamLamb – ’n Namibiese inisiatief wat gestig is om erkenning, trots en groter markgeleenthede vir Namibiese lamsvleis te skep, asook die aankondiging van die tien boere wat Namibië teen Suid-Afrika by die eerste Lamb Champs Invitational sal verteenwoordig.
Die bekendstelling by die Agra/Bank Windhoek Ring het Namibiese boere, landbourolspelers, borge en bedryfsvennote byeengebring en was terselfdertyd die begin van die NamLamb-inisiatief en ’n belangrike uitbreiding van die Lamb Champs-konsep buite Suid-Afrika se grense.
Op 31 Oktober 2026 sal tien Namibiese boere na Pretoria reis om kop-aan-kop teen tien Suid-Afrikaanse boere by Silver Lakes Farm Hotel mee te ding.
Twee lande. Twintig boere. Een kampioen.
SPAN NAMIBIË
Die tien boere wat gekies is om Namibië te verteenwoordig, is:
- Lenn de Jager (ook spankaptein) Khomas streek, Wit dorper en VanRooy kruising
- Hannes Agenbach Aranos, Dorper
- Franco Burger Leonardville, Dorper en Persie kruising
- Andries Steenkamp Gochas, Wit dorper
- Louis de Jager Khomas streek, Dorper en Persie kruising
- Eddie Agenbach Aranos, Dorper en Persie kruising
- Wilbie Mostert Sout Kalahari, Dorper en VanRooy kruising
- Hannes Visagie Onder Nossob, Dorper
- Koos Bredenkamp Otjiwarongo, Damara
- Danie Steenkamp Aranos, Dorper
Die Namibiese finaliste is tydens die NAU Agri Braai in April 2026 gekies en is tydens Vrydag se bekendstelling amptelik as Span Namibië voorgestel.
NamLamb is deur die Namibiese skaapboere Lenn de Jager en Hannes Agenbach gestig vanuit ’n gedeelde oortuiging dat Namibië ’n uitsonderlike produk lewer met ’n verhaal wat verdien om vertel te word. Namibië se skaapbedryf is gevorm deur geslagte boere wat lamsvleis in van die wêreld se mees uitdagende landskappe produseer. NamLamb wil aan dié produk ’n herkenbare identiteit gee deur die lamsvleis op die verbruiker se bord te verbind met die boere, grond en produksiewaardes daaragter. Die produksiefilosofie fokus op lammers wat natuurlik op die Namibiese veld grootgemaak word, hormoonvry is, met ’n sterk klem op verantwoordelike boerdery en Namibië se dieregesondheidstatus. Die inisiatief se ambisie strek veel verder as die Lamb Champs Invitational. NamLamb beoog om tot ’n herkenbare nasionale identiteit vir Namibiese lamsvleis te ontwikkel, verbruikersbewustheid te versterk, erkenning aan die land se skaapboere te gee en volhoubare markgeleenthede plaaslik én internasionaal te help skep.
Francois Rossouw, medestigter van Lamb Champs en HUB van Saai, wat saam met Ine Bester van Lamb Champs die bekendstelling bygewoon het, sê Namibië verteenwoordig ’n natuurlike volgende stap in die groei van Lamb Champs.
“Lamb Champs is van die begin af geskep om die boer en sy produk voor die verbruiker te plaas en die gehalte van daardie produk vir homself te laat spreek. Wat nou in Namibië gebeur, neem daardie idee ’n stap verder. Ons skep nie meer net ’n platform vir individuele boere nie; ons bring boere van twee lande bymekaar en gee hul produkte ’n internasionale verhoog.”
Rossouw sê die Invitational is doelbewus gebou rondom ’n vriendskaplike wedywering tussen twee lande met trotse en diepgewortelde veeboerderytradisies.
“Suid-Afrika en Namibië deel ’n lang landbougeskiedenis, maar ons het ook verskillende rasse, produksieomgewings en boerderytradisies. Op 31 Oktober plaas ons daardie boere en hul lamsvleis op dieselfde verhoog. Uiteindelik sal die kompetisie op die eenvoudigste moontlike manier beslis word – deur wat op die dag die beste smaak.”
DIE EERSTE LAMB CHAMPS INVITATIONAL
Die Lamb Champs Invitational verteenwoordig ’n nuwe internasionale formaat vir die kompetisie.
Die geleentheid sal landbou, kos, vermaak en kompetisie in ’n saamgestelde gasvryheidservaring kombineer, terwyl die beginsel waarop Lamb Champs gebou is, behoue bly: om boere, hul verhale en die gehalte van die kos wat hulle produseer, sentraal tot die geleentheid te stel.
Die Suid-Afrikaanse span sal deur Gawie van Heerden aangevoer word en sal bestaan uit toppresteerders van die 2026 Lamb Champs-kompetisies, tesame met die spankaptein se keuses.
Rossouw sê die internasionale formaat kan geleenthede skep wat veel verder as die kompetisie self strek.
“Lamb Champs was nog nooit bloot oor die wen van ’n trofee nie. Dit gee boere blootstelling, skep direkte skakeling tussen boere, verbruikers en ondernemings, en gee ons die geleentheid om die verhaal agter die produk te vertel. Die Invitational stel ons nou in staat om dit oor landsgrense heen te doen.”
Die Suid-Afrikaanse span sal op 24 September tydens die laaste plaaslike Lamb Champs-kompetisie, by Hoër Landbouskool Boland, gefinaliseer word.
**Foto aangeheg, van links voor: Hannes Agenbach, Lenn de Jager, Louis de Jager, Wilbie Mostert, Franco Burger, Andries Steenkamp, Eddie Agenbach, Koos Bredenkamp, Danie Steenkamp, Hannes Visagie