Tegnuus: Die nuutste in landboutegnologie van regoor die wêreld
JCB verras met waterstofontbrandingsenjin
JCB beplan om hulle splinternuwe waterstofontbrandingsenjin in Maart by die Conexpo 2023-skou in Las Vegas te onthul as deel van die International Fluid Power Exposition (IFPE).
“Die JCB-ingenieurspan het in ‘n kort tydjie enorme vordering gemaak om ‘n waterstof-binnebrandenjin te ontwikkel en dit dryf reeds ‘n JCB-prototipelaaigraaf en ‘n Loadall-teleskopiese hanteerder aan. As die eerste konstruksietoerustingmaatskappy wat ‘n ten volle werkende verbrandingsenjin ontwikkel wat deur waterstof aangevuur word, is ek verheug dat ons nou hierdie tegnologie op die internasionale verhoog kan aanbied,” sê JCB se voorsitter, Lord Bamford.
JCB was verantwoordelik vir ‘n reeks nywerheidskeppings op sy ‘Road to Zero’. Die maatskappy het die wêreld se eerste battery-elektriese minigraafmasjien ontwikkel en was aan die voorpunt van elektriese tegnologieontwikkeling om met sy E-TECH-reeks aan klante se eise vir koolstofvrye produkte te voldoen. JCB se verbintenis tot die vermindering van uitlaatgasse strek tot byna 25 jaar terug, en sy jongste dieselenjins het reeds ‘n 97% vermindering in NOxuitlaatgasse sedert 1999 en ‘n 98% vermindering in deeltjies gelewer. Vandag stel JCB se dieselaangedrewe enjins ook 50% minder CO2 vry in vergelyking met dié wat in 2010 vervaardig is.
JCB se skoon dieselenjintegnologie sal ook by die uitstalling in Las Vegas ten toon gestel word. ՚n Span van 100 ingenieurs werk al meer as ՚n jaar aan die ontwikkeling en die 50ste JCB-waterstofontbrandingsenjin het nou van die produksielyn afgekom as deel van die ontwikkelingsproses. JCB het £100-miljoen belê om hierdie doeltreffende waterstofenjins te vervaardig, en hierdie projek gaan volstoom voort. (Bron: JCB)
SentiV hou jou gewasse dop
Hommeltuie het hulle plek om van bo af na gewasse te kyk, maar wat van ‘n outonome rollende waghond wat ook onder die blare loer vir probleme? Die SentiV-verkenningsrobot van die Franse maatskappy, Meropy, het aandag getrek by CES 2023 (Consumer Electronic Show) in Las Vegas. SentiV is ‘n verkenningsrobot met sensors wat wisselvallige groei van gewasse uitlig en potensiële bedreigings vir gewasse opspoor. Sy roete kan deur enige vorm land beplan word en hy sal stilweg sy werk doen totdat die hele land “deurgerol” is.
Die inligting wat ingesamel word, word in veranderlikheidskaarte vertolk, wat boere in staat stel om daagliks insette met presisie toe te pas. Meropy sê: “Ons ontwikkel SentiV vir die mense van die landbousektor. Ons doelwitte is beter boerderywinsgewendheid (insetbesparings, verbeterde opbrengste en oesgehalte), ՚n goeie lewensgehalte vir boere (tydbesparing en beter werkgerief), en omgewingsbewaring (insetvermindering en minder grondverdigting).” (Bron: Meropy)
Masjien oes slaai – teen ‘n slakkepas
՚n Groenteplukrobot wat masjienleer gebruik om ՚n alledaagse, maar uitdagende landbougewas te identifiseer en te oes, is deur ingenieurs ontwikkel. Vir ‘n mens neem die hele proses ‘n paar sekondes, maar dit is nie so maklik vir ‘n robot nie. Die ‘Vegebot’, ontwikkel deur ‘n span van die Universiteit van Cambridge, is aanvanklik opgelei om kopslaai in ‘n laboratoriumomgewing te herken en te oes. Dit is nou suksesvol getoets in ՚n verskeidenheid veldtoestande in samewerking met G’s Growers, ՚n Britse vrugte- en groentekoöperasie.
Alhoewel die prototipe nie naastenby so vinnig of doeltreffend soos ‘n menslike werker is nie, demonstreer dit hoe die gebruik van robotika in die landbou uitgebrei kan word, selfs vir gewasse soos kopslaai wat besonder uitdagend is om meganies te oes. “Elke veld is anders, elke blaarslaai is anders,” het mede-outeur Simon Birrell van Cambridge se Departement Ingenieurswese gesê.
“Maar as ons ‘n robotstroper met slaaikoppe kan laat werk, kan ons dit ook met baie ander gewasse laat werk.” Die Vegebot identifiseer eers die ‘teiken’-gewas binne sy gesigsveld, bepaal dan of ‘n bepaalde slaaikop gesond en gereed is om geoes te word, en sny uiteindelik die kop van die res van die plant af sonder om dit te verniel sodat dit ‘supermarkgereed’ is. Die navorsers het ‘n masjienleeralgoritme ontwikkel en opgelei met voor beelde van blaarslaai. Toe die Vegebot gesonde blaarslaai in die laboratorium kon herken, is dit op die land, in ‘n verskeidenheid weerstoestande, op duisende regte slaaikoppe opgelei.
“Ons wou benaderings ontwikkel wat nie noodwendig spesifiek vir kopslaai is nie, sodat dit vir ander soorte bogrondse gewasse ook gebruik kan word,” het Iida, wat die navorsingspan lei, gesê. ՚n Robotstroper kan opgelei word om slegs ryp groente te pluk, en aangesien dit 24 uur per dag kan oes, kan dit aanhoudend deur die land beweeg en later terugkeer om die groente wat nog nie ryp was nie te oes.
Ontmoet Smartcore, ‘n outonome grondmonsterversamelaar
Die insameling van presiese grondmonsters is noodsaaklik vir boere, want dit bepaal die hoeveelheid en balans van voedingstowwe wat vir gewasse beskikbaar is, en kan oesopbrengste bepaal. “Smartcore”, ‘n outonome robot wat ontwikkel is deur ‘n paar Purdue University College of Engineeringgegradueerdes, is ontwerp om akkurate, herhaalbare grondmonsters in landerye te versamel en dit na die kant van die land te bring vir versending na die laboratorium.
Troy Fiechter en Drew Schumacher het die onderneming, Rogo Ag LLC, gestig om die tegnologie te bevorder en aan boere beskikbaar te stel. ‘n Video oor die maatskappy en tegnologie is beskikbaar by https://youtu.be/ RgigU1ckNtk.
“Smartcore help boere om beter strategiese besluite te neem,” het Schumacher, Rogo se president, gesê. SmartCore gebruik ‘n Bobcatglystuuronderstel en stuur homself deur die land deur grensalgoritmes en ‘n verskeidenheid hindernisopsporingsensors te gebruik. Dit is ook toegerus met RTK GPS om te verseker dat grondmonsters op die regte plekke geneem word en kan elke seisoen binne sentimeters terugkeer. Die grootste en mees algemene bron van foute in die grondtoetsproses is met die versameling van die grondmonster. Smartcore is uniek in die gebruik van ‘n hoëspoed, selfreinigende hidrouliese awegaar wat grond op ‘n presiese diepte versamel.
“Mense dink dikwels dat omdat jy ‘n 6 duim-onttrekker in die grond steek, jy 6 duim grond onttrek,” het Schumacher gesê. “Maar die onttrekker kan verstop of vassteek en jy versamel minder as ses duim. Baie dinge kan verkeerd loop as jy nie die regte toerusting gebruik nie. Ons diepte is akkuraat binne ‘n agtste van ‘n duim 100% van die tyd, en die regte monster word elke keer ten volle onttrek.” In tradisionele steekproefnemingspraktyke kan die afwyking in diepte en ligging tot ‘n steekproeffout van so hoog as 20% lei. Foute kan veroorsaak dat boere meer as wat nodig is aan kunsmis bestee, of in sekere gebiede ondertoedien.
“Boere wil monsters van dieselfde plek neem sodat hulle kan verstaan hoe hulle grond ontwikkel,” het Schumacher gesê. “As jy nie dieselfde grondperseel seisoen tot seisoen vergelyk nie, gaan jy ՚n land hê wat baie verskil. As jy wil weet wat jy by die grond gevoeg het en hoe dit die grond verander, moet jy so veel as moontlik appels met appels vergelyk. “Ons het veel belangstelling gesien in wat ons doen. Dit het ‘n paar goeie, waardevolle gesprekke begin. Ons is altyd op soek daarna om meer boere en meer kleinhandelaars te bedien sodat ons kan voortgaan om ՚n verskil te maak.” (Bron: Purdue)
Verwysing: Simon Birrell et al. ‘A Field Tested Robotic Harvesting System for Iceberg Lettuce.’ Journal of Field Robotics (2019). DOI: 10.1002/ rob.21888