Teel vir uitnemendheid: Die Belang van bulseleksie by Buckridge Bonsmaras
Die keuse van die regte bul is een van die belangrikste besluite wat enige Bonsmara-boer kan neem, en by Buckridge Bonsmaras is bulseleksie ’n doelgerigte kuns. Met ’n sterk fokus op genetiese uitnemendheid, funksionele aanpasbaarheid en langtermyn produktiwiteit, speel elke bul ‘n deurslaggewende rol in die bou van ’n beter kudde en die verseker van volhoubare winsgewendheid.
Buckridge Bonsmaras verstaan die sleutelrol wat bulseleksie speel in die sukses van ‘n beesboerdery. Die keuse van die regte bul is van kardinale belang omdat ‘n bul ‘n beduidende invloed op die kudde het. Terwyl koeie jaarliks net een kalf produseer, kan ‘n bul tussen 35 en 50 kalwers per jaar lewer. Dit beteken dat die genetiese impak wyer en meer langdurig is, wat die toekomstige prestasie en genetiese samestelling van die kudde bepaal.
Langtermyn invloed van ‘n bul
Die keuse van ‘n bul is ‘n besluit wat oor generasies heen ‘n groot invloed binne jou kudde speel. Wanneer ‘n bul aangekoop word, duur dit meer as drie jaar voordat sy volle bydrae aan die kudde beoordeel kan word. Frans Seevinck vertel: “Eerstens, word die kalwers gesien na ‘n jaar se tyd. Daarna, die vroulike nageslag van die bul wat eers twee jaar later begin reproduseer. Hierdie kalwers word dan gespeen na sewe maande, en eers dan kan die impak volledig gemeet word.” Die resultate van ‘n bul is duidelik nie ‘n vinnige afmeting nie. Dit vat tyd, baie geduld en kardinale sorg om te sien hoe ‘n bul presteer in die groep. Hierdie proses, kan ongelukkig nie gejaag word nie.
Genetika en teelwaardes
Die suksesvolle seleksie van ‘n bul berus op genetika en teelwaardes. “Genetiese agtergrond, insluitend bloedlyne en stambome, is van kardinale belang. Dit help om seker te maak dat die bul die gewenste eienskappe sal oordra na sy nageslag. By Buckridge word daar ook streng na teelwaardes gekyk om die groei- en vrugbaarheidsdoelwitte van die kudde te bereik,” vertel Frans.
Sleutel eienskappe van Buckridge-bulle
Buckridge Bonsmaras streef daarna om bulle te selekteer wat funksioneel doeltreffend is. In die Kalahari, waar die bulle en kudde beweeglik moet wees, is gemaklike beweging van die beeste noodsaaklik. Ander prioriteite sluit in karkaskwaliteit, vleisdraende eienskappe en goeie konformasie. Gesondheid en temperament speel ook ‘n deurslaggewende rol. “Ons het ‘n bulbestuursprogram wat gesamentlik met ons veearts ontwikkel is, waar bulle gereeld ingeënt word en prikkelvoeding ontvang. Ons fokus ook daarop om nuwe bloedlyne in die kudde te bring deur strategiese parings en genomiese toetse te doen,” sê hy.
Evaluering en sertifisering
Elke bul wat op ‘n veiling aangebied word, ondergaan ‘n streng keuringsproses. Data, kraalverslae, en genetiese evaluering word gebruik om die sterk- en swakpunte van elke bul te identifiseer. “Ons heg groot waarde aan prestasietoetsing en sertifisering, insluitend vrugbaarheidstoetse wat deur veeartse uitgevoer word. Elke bul moet ‘n geldige vrugbaarheidsertifikaat hê.”
Uitstaande bulle op die komende veiling
Soos almal weet is daar maar altyd ‘n telerskeuse op ‘n veiling en Frans vertel ons meer oor die bulle op hulle komende veiling in Februarie 2025: “Vanjaar se groep bulle is van besonderse hoë kwaliteit. Lot 4, BF 21-223, is ‘n beproefde kuddevaar met uitstaande teelwaardes: ‘n groeisyfer van 123 en vrugbaarheidsyfer van 108. Lot 6, BF 22-67, toon uitstekende kalwingsyfer (107) en ‘n groeiwaarde van 120. Lot 2, ‘n kommersiële bul, is uiters geskik vir verse, met ‘n kalwingsyfer van 108. Lot 8, SFM 22-30, spruit uit ‘n embriospoelprogram en beskik ook oor besonderse kwaliteite en eienskappe.
Kliëntediens en toekomsvisie
Buckridge heg groot waarde aan naverkoopdiens. Hulle staan gereed om kliënte te ondersteun, of dit deur besoeke of navrae is. “Ons glo dat bulle ‘n kritieke rol speel in die genetiese verbetering van kuddes, en ons doelwit bly om bulle te teel wat funksioneel doeltreffend is, met hoë karkas- en vleiswaardes. Langtermyn bly ons gefokus op volgehoue verbetering en ekonomiese volhoubaarheid vir ons kliënte,” deel Frans.
Raad aan beesboere
“Die regte bulkeuse is van kardinale belang vir ‘n suksesvolle en volhoubare boerdery. Deur ‘n bul te kies wat by jou kudde se behoeftes pas, kan jy die grondslag lê vir gesonde groei en verbeterde kuddeprestasie oor die langtermyn,” sluit Frans af.
Kyk na Lot 4 BF 16-231 van Buckridge Bosmara