Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 24th May 2023

Suiwelboere gooi handdoek in

By 5 min read

hm dekgewas reg

Henry Meyer van Pleasant View in die Mosselbaaidistrik melk 200 Jerseys.

Suiwelboere in die Suid-Kaap en Overberg is raadop met die talle uitdagings wat hulle in die gesig staar en baie van hulle gee boedel oor.

Oorlog en droogte elders

Henry Meyer van die plaas Pleasant View by Ruitersbos in die Mosselbaaidistrik noem die Rusland-Oekrainekonflik as een van die redes waarom suiwelboere moed verloor.

Henry melk 200 Jerseykoeie wat op aangeplante weiding op besproeiingsgrond loop. Hy boer ook met graan en skape – “՚n stokperdjie wat hand uitgeruk het”.

Die voortslepende oorlog het tot ՚n dramatiese toename in die prys van graan en grondstowwe gelei. “Kunsmis- en graanpryse het terselfdertyd gestyg, anders as gewoonlik wanneer kunsmispryse eers styg en graanpryse volg weens die hoër insetkoste. Die oorlog het daartoe gelei dat nie een van die twee lande aanvanklik graan kon uitvoer nie en grondstowwe soos fosfaat en kalium uit Rusland was ook nie beskikbaar nie.”

՚n Droogte in Kanada, die wêreld se grootste kanola-produsent, het gelei tot ՚n tekort aan kanola-oliekoek.

“Kanola-, soja- en sonneblom-oliekoekmeel is die belangrikste bron van proteïen vir suiwelbeeste en weens tekorte het pryse gestyg. Weens graantekorte wêreldwyd het ander lande self begin graan verbou en baie van die kunsmis opgekoop.

Insetkoste vir kunsmis het met 400% gestyg en vir ander grondstowwe met tot 700%. Voerpryse het op R7 000/ton gedraai voor dit ook ՚n bietjie met tussen R80 en R200 per ton gedaal het.

Henry Meyer meen dit raak vir sommige suiwelboere net te duur om voort te gaan met die bedryf.

‘Gulsige’ melkkopers

Henry vermoed ‘gulsige’ melkkopers manipuleer die melkprys om dit laag te hou. Die lae pryse, saam met die verhoging in brandstof- en elektrisiteitspryse, die verhoging in minimumloon vir arbeiders en hoë voerkoste, dwing suiwelboere op hulle knieë.

“Die melkkopers pas hulle pryse gelyk aan, wat daarop dui dat daar nie ՚n vryemark wat op vraag en aanbod gegrond is, bestaan nie. Hulle het ‘n bietjie laat wakker geskrik toe hulle besef daar gaan te min melk wees om hulle fabrieke in produksie te hou en het onlangs die melkprys met ՚n skamele 36c per liter aangepas. Dit bring die aankoopprys op tussen R6,30 en R7,00 te staan.”

Boonop word melk honderde kilometers ver aangery, soos vanaf die OosKaap na melkverwerkingsaanlegte in die Suid-Kaap. “Die melkkopers ry eerder verder om 40 000 tot 50 000 liter melk op een plaas aan te koop as om bietjiesbietjies by kleiner suiwelboere soos ek aan te koop.

Melkvervoerkontrakteurs sê reguit hulle ry nie op swak plaaspaaie om kleiner hoeveelhede melk te koop nie, want hulle versekering dek nie skade aan die melklorries nie.”

Hy meen deur van verskillende plekke melk aan te koop, versprei die aankopers hulle risiko. “Dis nie oral op dieselfde tyd droog nie, so hulle paai die melkboere met ՚n klein verhoging.”

Weens die goeie reens het die weiding welig gegroei en die voginhoud van die plante is baie hoog.

Voginhoud ook ՚n probleem

Saaiboere wat gewoonlik graan op droëlande in die omgewing van Riversdal, Heidelberg en Swellendam aanplant, waarvan kuilvoer vir ՚n volvoermengsel vir stalkoeie gemaak word, voel ook die kosteknyp.

Die kuilvoer bestaan uit hawer of gars en strooi van die graan wat op die droëlande geoes is. “Die koeie wat in ՚n kamp of kraal staan wat hierdie voer vreet se melkproduksie is hoër, want hulle word presiese rantsoene gevoer,” verduidelik Henry.

Met die goeie reëns in die omgewing het al die aangeplante gewasse geil gegroei en die voginhoud in die droë materiaal wat as ruvoer gebruik word, is hoër.

“’n Koei kry gewoonlik 20 kg droë materiaal en 12 tot 15% proteïen. Weens die hoë voginhoud, moet ՚n gemiddelde grootte koei 100 kg en ՚n groot koei 150 kg per dag vreet om die lyf aan te gang te hou en nog meer om melk te kan produseer.”

Opgee is goedkoper as aanhou ՚n Boer van die Heidelbergdistrik het die som gaan maak. “Eerder as om 1 000 koeie te voer, het hy besef hy kan kanola, gars en koring plant in plaas van hawer vir kuilvoer,” sê Henry.

Dis te verstane, gegewe die styging in brandstof- en elektrisiteitspryse, asook die styging in minimumlone, wat nou R25,42 per uur beloop.

“Die werk in ՚n melkery hou nie oor naweke op nie en arbeid kos geld. Met die minimumloon plus oortyd of selfs dubbel-oortyd op Sondae, beloop loonkoste maklik R750 per werker net op ՚n Sondag, en meer as een werker is nodig.

“As die werkers nie wil melk nie, het die boer nie eintlik ՚n manier om hulle te penaliseer nie – die wet beskerm hulle. Boonop word die nuttelose werker se verblyf op die plaas deur die Esta-wet beskerm.

“Dit is waarom 12 uit 13 suiwelboere uit die streek eerder werkers uit Malawi of Zimbabwe aanstel wat baie meer betroubaar as Suid-Afrikaanse werkers is,” meen Henry.

Al hierdie redes maak boere mismoedig. “Dit is hoekom die boer van Heidelberg sy 1 000 koeie verkoop het en nou eerder kanola, gars en koring plant. Nou hoef hy nie meer naweeklone van honderde rand te betaal nie, en hy hoef nie die twee trekkers wat voltyds voer gemaak het, te onderhou en vol diesel te maak nie.

“Suiwelboerdery was net nie meer winsgewend nie, want waar voerkoste vroeër ՚n derde van sy omsetkoste was, het dit tot die helfte gestyg. Dit is net nie die rompslomp met arbeid, gesondheidsregulasies, slegte paaie, duur werktuie en gulsige melkkopers werd nie.”

Kontak Henry Meyer deur ՚n e-pos te stuur na pleasantview@vodamail.co.za of skakel hom by
072-372-1277.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment