Categories: NuusPublished On: 7th July 2025

Siektebeheergebiede in Limpopo, Oos-Kaap opgehef

By 4 min read
707 words

bek en klou

John Steenhuisen, Minister van Landbou, het Vrydag siektebeheergebiede in Limpopo en die Oos-Kaap opgehef. Sommige plase in die Oos-Kaap bly egter onder kwarantyn, terwyl die SBG’s steeds in KwaZulu-Natal van krag is.

Die opheffing van die SBG’s in die twee provinsies is Vrydag in die Staatskoerant publiseer en is onmiddellik van krag.

Die besluit is baseer op die suksesvolle verskerpte optrede van Veeartsenydienste om die verspreiding van bek-en-klouseer in die twee provinsies te stuit.

SBG’s in die Kouga- en Kou-Kamma-munisipaliteite in die Oos-Kaap is sedert 26 Julie 2024 in plek om die siekte te bestuur. Altesaam 144 424 inentings as deel van die beheermaatreëls is ook gedoen.

Die laaste uitbrekings het in September 2024 in die Oos-Kaap voorgekom. Uitgebreide serologiese toetse het bevind dat daar tans geen besmette gebiede in die provinsie is nie en dat  bewegingsbeheer opgeskort kan word.

In Limpopo is die SBG sedert September 2022 in plek om ‘n uitbreek by diptenks in die Vhembe-munisipaliteit hok te slaan. Altesaam 23 024 beste by 34 diptenks hier het twee rondes inenting ondergaan.

Uitgebreide serologiese toetse wat sedert einde 2024 uitgevoer is het getoon dat BKS in die SBG opgeklaar en bewegingsbeheer kan opgehef word.

Almal se verantwoordelikheid

Steenhuisen het opnuut beklemtoon dat biosekerheid almal se verantwoordelikheid is. “Dit is nie net ‘n plaasaangeleentheid nie, maar elke individu in Suid-Afrika deel die verantwoordelikheid. Ons doen ‘n beroep op alle burgers – veral die wat nou by lewende hawe betrokke is of tussen landelike gebiede beweeg, om streng te voldoen aan alle biosekerheidsmaatreëls. Ons kan die landbousektor slegs beveilig en die voortbestaan van die bedryf verseker deur gesamentlike pogings wat sal lei tot BKS-vrye gebiede.”

Oos-Kaap plase steeds onder kwarantyn

Altesaam 76 plase in die Oos-Kaap waar die siekte aangemeld en vee besmet of ingeënt is, bly onder kwarantyn. Bewegingsbeheer bly van krag totdat toetse bevestig dat die virus nie meer sirkuleer nie. Toetsing sal 12 maande na die inentings ‘n aanvang neem. Die departement het besluit dat melk van plase onder kwarantyn wat aan die plaaslike mark verskaf word, slegs enkel-pasteurisasie hoef te ondergaan pleks van dubbel-pasteurisasie soos toe die virus nog aktief was.

SBG steeds van krag in KwaZulu-Natal

Die siektebeheergebied in KwaZulu-Natal bly in plek omdat daar steeds tekens is dat die virus in die gebied sirkuleer; gevalle is ook buite die SBG aangemeld.

‘n Abattoir in die Vryheid-gebied is aangewys vir die slagting van diere in siektebeheergebiede. ‘n Stelsel is in plek om die graad van biosekerheid op individuele plase te evalueer om te verseker dat beheermaatreels ooreenstem met die biosekerheidsrisiko’s.

BKS-werkgroep-hoof aangestel

Dr Peter Evans, voorheen van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAPVPO) is pas aangewys as hoof van die RMIS se operasionele sentrum en leier van die BKS-werkgroep.

Dr Evans sal die RMIS se operasionele sentrum en BKS-Werkgroep help met die formulering van die gestruktureerde BKS-reaksieplan en verseker dat die tegniese kundigheid aanpas by die werklike toedrag van sake.

Dr Evans het waardevolle ondervinding by SAPVO opgedoen toe vark-respiratoriese en reproduktiewe sindroom (PRRS) uitgebreek het. Die siekte is sedertdien suksesvol hokgeslaan.

Dr Evans het bygedra tot die ontwikkeling van biosekerheidstrategieë en protokolle met die doel om risiko’s op plase op provinsiale en nasionale vlak te mitigeer.

“Ek sien uit daarna om by te dra tot die RMIS-span en regering se gesamentlike poging om ‘n positiewe uitwerking vir die bedryf te bewerkstellig,” sê hy.

Die finale weergawe van die nasionale bedryfs-reaksieplan is reeds met rolspelers in die bedryf gedeel en hulle kommentaar sal bygewerk word sodat die gekonsolideerde plan gefinaliseer en aan die Landboudepartement voorgelê kan word voor die BKS-Imbizo op 21 en 22 Julie.

Dewald Olivier, RMIS se hoof uitvoerende beampte, het waardering uitgespreek vir die ervaring wat dr Evans na die tafel bring en die gesamentlike poging om ‘n praktiese en gekoördineerde reaksie tot BKS te formuleer. Volgens hom sal daar in die volgende weke gefokus word om die reaksieplan in lyn te bring met die regering se doelwitte.

Hy sê die opheffing van bewegingsbeheer in Limpopo en die Oos-Kaap dui daarop dat ‘n gesamentlike poging sukses kan behaal, nie net om die huidige uitbrekings te bestuur nie, maar ook om sulke uitdagings in die toekoms te hanteer en selfs te voorkom.

Kontakbesonderhede

Kontak Dipepeneneng Serage, ajdunk-direkteurgeneraal: Landbouproduksie, Biosekerheid en Natuurlike hulpbronbestuur by 060-551-5686 vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0