Categories: NuusPublished On: 14th July 2026

Die stille opbrengsdief: Waarom produsente stresbestuur in ‘n tyd van weeruiterstes moet herdink

By 6 min read
1111 words

gewasnuus

Van 45 °C-hitte wat sitrusboorde in Citrusdal verskroei tot swaar reën wat vrugset in tafeldruifwingerde ontwrig, raak Suid-Afrikaanse produsente al hoe meer vertroud met een van die grootste uitdagings van moderne landbou: weeruiterstes wat gewasse onder erge fisiologiese stres plaas.

Hoewel plaag- en siektebeheer steeds baie aandag kry, het plantstres stilweg een van die belangrikste opbrengsbeperkende faktore geword, sê Martin Booyens, Tegniese Bemarking Spesialis vir biologiese gewasoplossings by InteliGro.

“Stres is die stille opbrengsdief,” sê Booyens. “Doeltreffende gewasbeskerming bly noodsaaklik, maar dit is nie meer genoeg op sy eie nie. ’n Meer holistiese benadering is nodig. Klimaatsverandering het die produksie-omgewing ingrypend verander. Vandag is een van die grootste bedreigings vir opbrengs dikwels nie insekte of siektes nie, maar die plant se onvermoë om omgewingstres te hanteer.”

Volgens Booyens raak voorbereiding net so belangrik soos reaksie namate wisselvallige weerstoestande eerder die norm as die uitsondering word.

WANNEER DIE WEER DIE PAS AANGEE

Die gevolge is reeds duidelik sigbaar in Suid-Afrika se produksiegebiede.

  • Gereelde hittegolwe in tafeldruifgebiede soos Kakamas en De Doorns lei tot swak vrugset, ongelyke trosontwikkeling en laer opbrengste. Onverwagte reën gedurende kritieke groeistadiums skep verdere produksie-uitdagings.
  • In die afgelope sitrusseisoen het Valencia-boorde aansienlike vrugval ervaar nadat bome tydens kritieke ontwikkelingsfases onder stres gekom het, terwyl temperature van meer as 45 °C in Citrusdal sonbrand, oksidatiewe stres en swakker vruggehalte asook uitpakpersentasies veroorsaak het.

“Dit is alles fisiologiese stresreaksies,” sê Booyens. “Wanneer stres toeslaan, skakel plante van produksie na oorlewing oor. Energie wat normaalweg groei, blomvorming en vrugontwikkeling sou aandryf, word bloot gebruik om die plant aan die lewe te hou. Fotosintese vertraag, ensiem-aktiwiteit neem af en skadelike reaktiewe suurstofspesies begin plantselle beskadig.”

Die gevolg? Gewasse kan gesond lyk, maar steeds nie hul volle opbrengspotensiaal bereik nie.

“Hitte plaas plante verder onder druk deur die waterbalans binne individuele selle te versteur. Soos vog verlore gaan, krimp selle en mikroskopiese krake kan ontwikkel wat toegangspunte vir patogene skep. Terselfdertyd raak soute meer gekonsentreerd binne die selle, wat oksidatiewe stres en selskade verder vererger.”

Maar die skade hou nie bogronds op nie.

“Hoë temperature onderdruk voordelige grondmikrobes wat verantwoordelik is vir voedingstofomsetting en gesonde wortelontwikkeling, terwyl versouting dit al moeiliker maak vir plante om water en noodsaaklike voedingselemente soos stikstof, kalsium en kalium op te neem.”

BIOLOGIESE MIDDELS: MEER AS NET NÓG ’N SPUITPROGRAM

“Produsente se eerste reaksie is dikwels om nóg chemiese produkte by te voeg,” sê Booyens. “Daardie produkte het beslis hul plek, maar hulle is meestal ontwerp om ’n spesifieke probleem op te los – nie noodwendig om die plant se fisiologiese balans te herstel of dit beter vir toekomstige stres voor te berei nie.”

Dit is juis waar biologiese produkte hul waarde bewys – nie as noodbehandeling wanneer gewasse reeds onder druk verkeer nie, maar as voorkomende bestuursinstrumente wat gewasse se weerbaarheid versterk voordat stres intree.

Verskillende biologiese produkte vervul verskillende rolle. Sommige ondersteun die plant se metabolisme tydens stres, ander help om die waterbalans in plantselle tydens hitte en droogte te handhaaf. Voordelige grondmikrobes stimuleer wortelontwikkeling, verbeter voedingstofopname en versterk grondbiologie, terwyl produkte wat aminosure bevat verbindings voorsien wat die plant andersins self met groot energieverbruik sou moes vervaardig.

“As ’n plant deur ’n ernstige hittegolf gaan, gebruik dit byna al sy energie net om aan die lewe te bly,” verduidelik Booyens. “Deur aminosure toe te dien, kan daardie energie eerder aangewend word vir herstel, groei en versterking.”

VOORDAT STRES POSVAT

Tydsberekening is egter alles.

“Dit is nie produkte wat jy eers toedien wanneer gewasse begin verwelk nie,” sê Booyens. “Teen die tyd dat sigbare simptome verskyn, het die fisiologiese skade waarskynlik reeds plaasgevind.”

Produsente behoort weerstoestande fyn dop te hou en bestuursbesluite proaktief te neem. Biologiese produkte benodig gewoonlik tussen 48 en 72 uur voordat die relevante metaboliese prosesse in die plant geaktiveer word.

Doeltreffende stresbestuur begin ook by die basiese beginsels. Booyens beklemtoon dat biologiese produkte nie swak plantvoeding of onvoldoende gewasbestuur kan regstel nie.

“Dit help min om in sekondêre metaboliete te belê as jou plante nie eens behoorlik kan fotosinteer nie.”

Hy moedig produsente aan om eers seker te maak dat gewasse oor die nodige voedingstowwe beskik vir normale fotosintese en proteïensintese voordat spesifieke stresuitdagings met biologiese produkte aangespreek word.

Sodra dié grondslag in plek is, kan biologiese programme volgens elke produksiestelsel aangepas word. Aminosure kan gewasse help herstel ná haelskade. Voordelige swamme soos Trichoderma bevorder wortelontwikkeling waar grondgedraagde siektes ’n probleem is, terwyl osmobeskermers soos glisienbetaïen plante tydens uiterste hitte kan help om selstabiliteit te behou en vrugset te verbeter.

“Daar is nie ’n kitsoplossing wat oral werk nie,” sê Booyens. “Die regte oplossing hang af van die omstandighede op elke plaas.”

Eerder as om op ’n enkele produk of ingryping staat te maak, integreer InteliGro se gewasprogramme biologiese oplossings met plantvoeding, grondgesondheid en gewasbeskerming volgens die behoeftes van elke produksiestelsel.

GOEIE BESLUITE BEGIN BY GOEIE INLIGTING

Booyens waarsku produsente om nie biologiese produkte bloot op grond van bemarkingsaansprake te kies of sonder kundige advies toe te dien nie.

“Jy moet weet wat in jou grond, jou water en jou gewas aangaan. Goeie gewasbesluite begin by goeie inligting. Gereelde grond-, water- en blaarsap-analises neem die raaiwerk uit bestuursbesluite en verseker dat bestuursbesluite gegrond is op wat werklik op jou land gebeur.”

Om met opgeleide Gewas Adviseurs saam te werk, is net so belangrik, voeg hy by. Biologiese produkte behoort deel te vorm van ‘n geïntegreerde gewasbestuursprogram en nie in isolasie gebruik te word nie. Produsente moet ook seker maak dat produkte ingevolge Wet 36 van 1947 geregistreer is en advies inwin by gekwalifiseerde Gewas Adviseurs wat by CropLife Suid-Afrika geregistreer is.
Hoewel sommige produsente huiwerig is om biologiese programme in te sluit omdat dit insetkoste op kort termyn verhoog, meen Booyens die langtermynwaarde daarvan word dikwels onderskat.

Anders as konvensionele chemiese produkte, wat oor die algemeen slegs korttermynbeskerming bied, vestig voordelige biologiese organismes hulle mettertyd in die grond. Soos dié populasies opbou, bly hulle plantgesondheid en weerbaarheid ondersteun, wat die behoefte aan herhaalde toedienings in daaropvolgende seisoene dikwels verminder.

“Jy koop nie bloot nóg ‘n produk nie,” sê hy. “Jy belê in ‘n gesonder produksiestelsel.”

BOER EEN STAP VOOR DIE WEER

Om gewasse weerbaar te maak, is nie meer bloot nóg ‘n bestuursopsie nie – dit word toenemend ‘n kenmerk van winsgewende, volhoubare produksie.

“Die produsente wat in die toekoms volhoubaar gewasse van hoë gehalte gaan lewer,” sê Booyens, “sal dié wees wat hul plante voorberei voordat stres toeslaan – nie daarna nie.”

Daardie voorbereiding begin lank voordat ‘n hittegolf voorspel word. Dit begin by ‘n deeglike begrip van jou produksiestelsel, gereelde monitering van gewasgesondheid en samewerking met gekwalifiseerde Gewas Adviseurs om ingeligte besluite te neem vóórdat stres posvat.

Uitgereik deur: InteliGro

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0