Categories: NuusPublished On: 16th July 2026

Suid-Afrikaanse landbou navigeer nie meer siklusse nie – dit pas by permanente verandering aan

1007 words

kangbch-barley-field-1684052_1920

Foto:Pixabay

Gesels vandag met byna enige boer, en jy hoor dieselfde ding: Onsekerheid het deel van hul beroep geword.

Onvoorspelbare weer, veranderende verbruikersvoorkeure, hoër insetkoste, geopolitieke spanning, en nuwe markvereistes maak dit ál hoe moeiliker om vooruit te beplan. Suid-Afrikaanse boere werk in ‘n omgewing waar ontwrigting nie meer die uitsondering is nie – dit is die nuwe norm.

Oor die afgelope paar maande het ek met belanghebbendes by verskeie belangrike bedryfsgeleenthede gesels, onder meer by NAMPO, die Agbiz-konferensie, en die South Africa Wine se wynberaad, wat al 20 jaar deur Nedbank geborg word. Hoewel elke geleentheid op ander uitdagings gefokus het, was die boodskap dieselfde: Suid-Afrikaanse landbou bevind homself in ‘n wêreld wat al meer kompleks, verweef, en onvoorspelbaar raak. Daarom moet ondernemings voortdurend aanpas.

Die wynbedryf is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Gesprekke by SA Wine se wynberaad het gewys hoe ekonomiese onsekerheid, klimaatsverandering, veranderende verbruikersgedrag, tegnologiese ontwikkeling, en groter verwagtinge rondom volhoubaarheid die bedryf beïnvloed. Hierdie uitdagings is egter nie uniek aan wyn nie. Dit raak ondernemings regdeur die landbouwaardeketting.

Van sikliese ontwrigting na permanente verandering

Landbou word nog altyd deur siklusse beïnvloed, soos droogtes en goeie reënjare, stygende en dalende rentekoerse, en wisselende kommoditeitspryse. Om suksesvol te wees, moes produsente leer waar hulle binne die siklus val en hul besighede daarvolgens bestuur.

Vandag lyk die uitdaging anders. Landbou probeer nie meer net deur tydelike ontwrigtings werk nie – dit pas by permanente verandering aan.

Die faktore wat hierdie verandering dryf, hang dikwels saam. Suid-Afrika maak goeie vordering met onder andere meer betroubare energievoorsiening en logistieke hervorming, maar onsekerheid in die wêreldekonomie en veranderende handelsverhoudings beïnvloed steeds plaaslike ondernemings.

Intussen word ons onvoorspelbare klimaat ’n alomteenwoordige deel van landboubeplanning – dis nie meer iets wat net af en toe probleme veroorsaak nie. Om veerkragtigheid te bou, gaan nie meer net daaroor om ná ‘n moeilike seisoen te herstel nie. Dit gaan daaroor om voor te berei vir ‘n toekoms waar wisselvalligheid alledaags geword het.

Waarde begin anders lyk as voorheen

Die wynbedryf is ‘n interessante voorbeeld van hoe hierdie veranderings ons raak. Wêreldwyd begin verbruikers minder wyn drink, maar hulle raak ook meer kieskeurig oor wat hulle drink¹. Groei word toenemend deur waarde gedryf eerder as deur volume. Mense is op soek na produkte en ervarings wat by hul leefstyl, waardes en begroting pas, terwyl mededinging uit ander kategorieë toeneem.

Dieselfde tendens is oral in die landbousektor sigbaar. Of jy nou wyn, vrugte, graan, vee of neute produseer – jou onderneming moet uitstaan en aan veranderende verbruikersverwagtinge voldoen in ‘n mark wat meer en meer mededingend raak.

Hierdie veranderinge skep ook nuwe geleenthede en daag ou aannames oor toekomstige vraag uit – en tegnologie laat hierdie veranderinge vinniger plaasvind. Verbruikers het nou meer inligting en opsies as ooit tevore, terwyl tegnologieprodusente help om beter besluite te neem, doeltreffender te werk en hul ondernemings meer standvastig te maak.

As ‘n mens na al hierdie tendense saam kyk, is die gevolgtrekking eenvoudig: hoe makliker ‘n ondernemings kan aanpas, hoe beter is hy toegerus om mededingend en veerkragtig te bly.

Belê daarin om jou onderneming sterker te maak

Hierdie veranderinge beïnvloed ook hoe landbou-ondernemings na beleggings kyk.

Landboufinansiering het tradisioneel daarop gefokus om produsente deur seisoenale produksiesiklusse te help. Dit bly belangrik, maar al meer mense besef dat langtermynsukses afhang van hoe veerkragtig ‘n onderneming is.

Dit beteken dat produsente moet belê in dinge wat hul plase help om doeltreffender te werk, risiko beter te bestuur en mededingend te bly. Dit kan onder meer groter energie-onafhanklikheid, beter watersekerheid, meer presiese boerderypraktyke, en sterker logistiek insluit.

Dit beteken ook dat daar na beleggingbesluite oor ‘n langer termyn gekyk moet word. In plaas daarvan om net op huidige marktoestande te reageer, behoort produsente te fokus op beleggings wat produktiwiteit verhoog, doeltreffendheid verbeter, en aanpasbaarheid met verloop van tyd versterk.

Diversifisering speel ook ‘n belangrike rol, hetsy deur nuwe inkomstegeleenthede of toegang tot nuwe markte. Finansieringsoplossings moet by produksiesiklusse, kontantvloei, en die onderneming se langtermynstrategie pas sodat beleggings mettertyd waarde lewer.

Van volhoubaarheid tot mededingendheid: Die volgende fase van landbou

Volhoubaarheid is nie meer net ‘n vereiste waaraan ondernemings moet voldoen nie. Dit word toenemed ‘n faktor wat bepaal hoe mededingend hulle is. Landbou beweeg na ‘n nuwe fase waarin volhoubaarheid, naspeurbaarheid, en verslagdoening ‘n kernrol speel.

Veranderende verbruikersvraag dryf hierdie verskuiwing. Kopers wil toenemend weet waar produkte vandaan kom, hoe dit vervaardig is, en of die inligting betroubaar is. Daarom word naspeurbaarheid al meer ‘n voorvereiste vir marktoegang en nie bloot ‘n ekstra voordeel nie. Op plaasvlak beteken dit dat produsente meer op betroubare data en ouditbare inligting moet staatmaak.

Dieselfde geld vir verslagdoening ten opsigte van omgewings-, sosiale en korporatiewe bestuursaspekte (ESG). Waar dit voorheen hoofsaaklik ‘n verslagdoeningsoefening was, beïnvloed dit nou hoe plase bestuur word. Faktore soos waterdoeltreffendheid, grondgesondheid, biodiversiteit en koolstofintensiteit speel ‘n groter rol in kopers se vereistes en aankoopbesluite.

Finansiële instellings het ‘n belangrike rol om in hierdie oorgang te speel. Soos tydens die Bankvereniging van Suid-Afrika (BASA) se paneelbespreking by die Agbiz-konferensie uitgelig is, sal tradisionele lenings alleen nie die vereiste transformasie moontlik maak nie. Die toekoms van landboufinansiering lê toenemend in vennootskappe tussen kommersiële banke, ontwikkelingsfinansieringsinstellings, die regering, en private beleggers.

In hierdie omgewing is die rol van die bank nie net om finansiering te verskaf nie. Banke help ook om kapitaal na volhoubare beleggings te kanaliseer, produsente te ondersteun om aan nuwe verslagdoeningsvereistes te voldoen, en in klimaataanpassingstegnologie te belê.

Bou vir die toekoms

Suid-Afrikaanse landbou het nog altyd indrukwekkende veerkragtigheid getoon. Ons produsente vind keer op keer maniere om aan te pas, te innoveer en suksesvol mee te ding ondanks moeilike omstandighede. Hierdie eienskappe sal belangrik wees in die jare wat voorlê.

Die uitdaging is nie meer net om die volgende ontwrigting te oorleef nie. Dit is om ondernemings te bou wat kan groei in ‘n wêreld waar verandering voortdurend plaasvind. Die doel is nie meer om net die volgende siklus te bestuur nie. Dit is om gereed te wees vir wat op pas is.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0